Monday 29 July 2013

Naartjie Koek

Ek het al voorheen vertel dat ek my vriendinne by die werk oortuig om eerder hulle ou vrugte vir my te gee as om dit elke Vrydag in die drom te gooi. Dit is seker vreemd, maar ek kan nie toekyk dat goeie kos vermors word nie. Vrydag het een vriendin ‘n hele sak naartjies net so aan my oorhandig. Ek kon niks daarmee verkeerd vind nie, maar sy was seker dit was nie meer vars genoeg nie. Ek voel toe dit is weer tyd dat ek ietsie bak van die ‘weggooi’ goed en inbring werk toe om hulle mee te bederf en om dankie te sê vir al die vrugte wat ek so verniet kry. Na ‘n sekonde op die internet het ek op ‘n oulike resep van Nigella Lawson afgekom vir Clementine Cake. Hierdie resep is gluteenvry en daar is ook geen botter in nie. Suiker is daar wel, so laat ons onsself nie oortuig dat hierdie koek gesond is nie – koek is maar altyd koek. 
 

Hierdie koek word oorspronklik in ‘n ronde koekpan gebak, maar ek het die resep verdeel en twee ‘broodjies’ gemaak, sodat daar een vir die werk is en een vir die huis. En as ek sê huis, meen ek eintlik Juan. Mens kan mos nou nie ‘n koek gaan staan en bak en dit net so onder jou man se neus uit die huis uit dra sonder dat hy eens ‘n stukkie sien nie. Verder is die resep ongelooflik maklik en die koek baie lekker.

Naartjie Koek Resep (Clementine Cake)
Nigella Lawson
375g Naartjies
250g Gemaalde Amandels
225g Suiker
6 Eiers
1 Teelepel Bakpoeier 
 
 
‘n Hoop naartjies gaan seker nooit op die kop 375g weeg nie. Ek het seker 390g gebruik en dit is goed want een was toe nie heeltemal so lekker nie, en toe kon ek dit met ‘n geruste hart afsny en nie worry dat daar te min gaan wees nie. Weeg dus so net oor die 375g naartjies af, was dit en gooi hulle dan in ‘n groot pot vol koue water. Kook die naartjies oor ‘n matige hitte vir 2 ure en maak seker dat die water nie droogkook nie. Haal dan die naartjies uit en laat eenkant afkoel. Wanneer die naartjies afgekoel is, sny jy hulle in die helfte deur en verwyder enige pitte. Verwerk dit dan in die voedselfverwerker tot sag – skil en al! Meng die eiers en die suiker saam en voeg dan die gemaalde amandels, bakpoeier en naartjies by. Gooi in ‘n gesmeerde koekpan van jou keuse en bak teen 190° vir 45 minute tot ‘n uur. Onthou om jou oond se hitte aan te pas as jy ‘n waaieroond het. Hou maar die koek dop en haal dit uit die oond wanneer ‘n stokkie skoon uitkom. As dit nog ‘n bietjie bak nodig het, maar die bokant begin te donker lyk, sit maar ‘n stukkie foelie oor om te keer dat dit brand. Laat die koek afkoel in sy pan op ‘n afkoelrak en verwyder wanneer dit heeltemal afgekoel het. Sprinkel met versiersuiker om dit af te rond. 
 
 
Mens kan die koek ook maak met lemoene of suurlemoene – maar mens sal seker ‘n bietjie meer suiker wil bygooi as jy met suurlemoene werk. Ek dink dit is nogal ‘n verfrissende Somerskoek met ‘n lekker klam tekstuur en ‘n treffende smaak. Die werksmense was mal daaroor en Juan was effens teleurdgesteld dat hulle alles opgeëet het en hy nie nog ekstra gekry het nie. Die een by die huis gaan ook nie lank hou nie...ek dink Juan het al vier helpings gehad vannaand alleen. 

No comments:

Post a Comment