Friday 26 July 2013

Groente groei is lekker!

My eerste Somer hier in Engeland was vreeslik warm. Destyds het ek gewerk vir ‘n sekuriteits maatskappy. Ons was besig met die Chelsea Flower Show en ek moes my personeel oor die hitte van die dag vra om rond te loop om seker te maak dat mense wat op die grasperke lê en ontspan nie in werklikheid uitgepaas het nie. Alhoewel meeste mense niks makeer het nie, het menigte rooi vlaggies in die lug opgeskiet en is die nootfluitjie geblaas om die noodhulpdienste nader te roep om iemand te help wat ondergekry is deur die hitte. So na hierdie jaar se mislukke begin aan die Somer het dinge nou omgedraai en sê hulle dis nou net so warm soos daai Somer. En glo my, dit is werklik warm. Met hierdie hitte is jy dankbaar om in die oggend werk toe te gaan sodat jy in die lugversorging kan sit. In die aande maak ons al die deure en vensters oop en slaap net onder ‘n dun kombersie. Ek drink liters en liters water en moet my plante twee keer ‘n dag water gee en steeds sukkel hulle. My gras is van die enigste in die buurt wat nog redelik groen is, maar is tog plek plek verbrand. Orals lyk dinge maar vaal, bruin en verlep.
 
 
Maar ten spyte van hul dors, geniet die groente al hierdie son vreeslik. My tamaties begin nou uiteindelik ryp raak en ons het nou die dag ons eerste enetjie gedeel en siedertdien 'n hele paar geëet. Vars van die steel af is dit so soet, dat jy vir eens kan glo dat ‘n tamatie ‘n vrug is. My mielies kom ook nou baie mooi aan. Ek kon nou die dag nie glo toe ek die eerste mielie baard gewaar het nie. Die oggend toe ek natgegooi het was daar niks nie en toe ek oor middagete gaan loer, toe is daar skielik ‘n mielie.  Nou het al my mielie plante 'n paar mieles aan die groei. Ons het nou al ‘n hele paar boontjies geëet en selfs van die beet. Juan het gereeld mange tout geëet, maar nou het die son omtrent die fyn ou plantjies vrek gebrand en ons sal maar moet sien of daar nog te voorskyn gaan kom. My murgpampoentjies het eers mooi aangekom, maar nou is daar geen mannetjie blomme om die vroutjie vrugte mee te bevrug nie en nou gaan die vruggies net dood. Dis seker maar weereens die hitte of iets, want toe dit te koud was wou hulle nie vrugte maak nie en nou dat dit te warm is, is die manne nerens te sien nie. Gelukkig was daar ‘n hele paar weke wat dit goed gegaan het en ons ‘n hele paar mooi murgpampoentjies geëet het.


Ons spanspek plant het die afgelope paar dae die hoogtes ingeskiet, maar daar is nog geen tekens van enige vrugte nie. Dit laat my glo ons gaan nie enige spanspek eet hierdie jaar nie. As die vrugte nie ‘n lang genoeg Somer het om ryp te raak nie, is daar nie veel hoop nie. Die plant lyk wel baie gesond en klim nou baie lekker. Verder groei ons sonneblom by die dag. Sy is nou oor die 9ft lank en alhoewel sy nog nie ‘n blom het nie, volg haar kop die son se gang getrou deur die dag. My sweetpeas ruik weer so lekker en blom genoeg dat ek gereeld ‘n klein ruikertjie in die huis kan sit om die geur tuis te bring.
 
Aarbeie het ons ook gereeld vars uit die tuin vir ontbyt saam met ons meusli geëet. So soet en heerlik, maar hopeloos te min. Die nuwe plantjies wat ek hierdie jaar aangebring het, het nog nie goed genoeg gevestig om ordentlik vrugte te dra nie, alhoewel ons darm al een van die nuwes geëet het – en dit was heerlik! Ek glo ons gaan volgende jaar rol in die aarbeie. Ai, as ek nou net plek gehad het vir ‘n kersie boom en ‘n bloubessiebos, dan sou ek in my element gewees het.

My preie en groenuie groei ook heerlik, nes al my slaaieblare en spinasie en ons stap gereeld uit en knip daarvan om in ons kos te gebruik of om op ‘n broodjie te sit. Om te dink, ons het net ‘n paar groeisakke en ‘n klein bietjie spasie en ons kan al hierdie heerlike dinge groei. Hoeveel lekkerder sal dit nie wees as ons eendag ons eie huisie met ‘n tuintjie kan bekostig, waarin ons lekker baie goed sal kan groei nie. Ai, mens kan maar droom.
 
 


No comments:

Post a Comment