Wednesday, 31 July 2013

God save the Queen

Koningin Elizabeth II - Diamond Jubilee
Toe ek meer as 8 jaar terug hier in Engeland aangeland het, het ek nooit gedink ek sou eendag my trou sweer aan die Koningin, haar nageslagte en die Verenigde Koninkryk as 'n volwaardige Britse Burger nie, maar dit is presies wat ek en Juan vandag gedoen het.
 
'n Paar jaar gelede het ek op 'n lughawe in 'n ry gestaan en 'n Amerikaanse man was kliphard besig om die Konining af te kraak. Ek onthou nogsteeds hoe ongelooflik vies daai man my skielik gemaak het. Hier, in Engeland, is daar baie debat oor die Monargie en of dit moet bly of gaan, maar tot op daardie oomblik het ek nie werklik besef dat ek 'n opinie daaroor gehad het nie. Al waaraan ek op daardie oomblik kon dink was aan 'n statige dame wat haar hele lewe, al haar privaatheid en selfs haar kinders, aan haar land en onderdane afgestaan het. Sy was die eerste Britse Monarg wat op 'n 'live' televisie-uitsending ingesweer is, en vanaf daardie oomblik, was sy nog nooit weer uit die publike oog nie. Dit was nie iets wat sy gekies het nie, en dit was nie iets wat sy kon verander het nie. Sy het die swaar las opgetel en gedra en dra dit al al die jare - 61 jaar om presies te wees. Buiten Konining Victoria, wat 63 jaar regeer het, is Konining Elizabeth II die langste regeerende monarg in die geskiedenis van die Verenigde Koninkryk. Om die waarheid te sê, het ek nog altyd meer van haar gehou as van enige demokratiese verkose mansmens. En as jy nie van haar kan hou vir enige van hierdie redes nie, moet jy ten minste respek hê vir die feit dat op 87 sy steeds vir ure kan rondstaan en glimlag gedurende uiters vervelige staatsaangeleenthede, sonder om ooit moeg te word - ek sal dit nie vir 10 minute aaneen kan doen nie. En sy hou van honde - altyd 'n plus in my boek.
Prinses Elizabeth en haar hond, Dookie - 1936
 
Dus het ons vanoggend daar gestaan, in Kingston County Hall, en met trots die beloftes afgelê wat die finale stap is in ons lang pad na Britse Burgerskap. Jy dink nie dit sal veel van 'n verskil maak nie, maar tog stap jy uit daardie gebou en skielik is die strate waarop jy stap, jou strate, en jy luister na die ministers op die televisie, en skielik is hulle nou jou blerrie ministers. Suid-Afrikaans sal ons ook altyd bly, dit is immers ons geboorte land en waar ons familie en baie vriende steeds woon, maar hier in Engeland het ek en Juan alby liefde gevind en onsself gevind.
 
Aan die einde van die seremonie moes ons die volkslied, God save the Queen, sing. Die uiters waardige dame wat die verrigtinge aangevoer het, het kliphard weggeval op 'n baie hoë noot en voor ek myself kon kry sing ek toe net so hoog en hard saam in my beste sopraan. Ek dink nie enige iemand anders kon hulself hoor sing soos ons twee aangegaan het nie. Na die tyd het sy my oog gevang, haar kop geknik en geglimlag - welgedaan, ons het hulle gewys hoe dit gedoen word.  
 
Affirmation of allegiance
 
I do solemnly, sincerely and truly declare and affirm
that on becoming a British citizen, I will be faithful
and bear true allegiance to Her Majesty Queen Elizabeth the Second,
her Heirs and Successors, according to law.
 
I will give my loyalty to the United Kingdom
and respect its rights and freedoms.
I will uphold its democratic values.
I will observe its laws faithfully
and fulfil my duties and obligations as a British citizen.
 
God Save The Queen
 
God save our gracious Queen
Long Live our noble Queen
God save the Queen!
Send her victorious,
Happy and glorious,
Long to reign over us.
God save the Queen!

Monday, 29 July 2013

Naartjie Koek

Ek het al voorheen vertel dat ek my vriendinne by die werk oortuig om eerder hulle ou vrugte vir my te gee as om dit elke Vrydag in die drom te gooi. Dit is seker vreemd, maar ek kan nie toekyk dat goeie kos vermors word nie. Vrydag het een vriendin ‘n hele sak naartjies net so aan my oorhandig. Ek kon niks daarmee verkeerd vind nie, maar sy was seker dit was nie meer vars genoeg nie. Ek voel toe dit is weer tyd dat ek ietsie bak van die ‘weggooi’ goed en inbring werk toe om hulle mee te bederf en om dankie te sê vir al die vrugte wat ek so verniet kry. Na ‘n sekonde op die internet het ek op ‘n oulike resep van Nigella Lawson afgekom vir Clementine Cake. Hierdie resep is gluteenvry en daar is ook geen botter in nie. Suiker is daar wel, so laat ons onsself nie oortuig dat hierdie koek gesond is nie – koek is maar altyd koek. 
 

Hierdie koek word oorspronklik in ‘n ronde koekpan gebak, maar ek het die resep verdeel en twee ‘broodjies’ gemaak, sodat daar een vir die werk is en een vir die huis. En as ek sê huis, meen ek eintlik Juan. Mens kan mos nou nie ‘n koek gaan staan en bak en dit net so onder jou man se neus uit die huis uit dra sonder dat hy eens ‘n stukkie sien nie. Verder is die resep ongelooflik maklik en die koek baie lekker.

Naartjie Koek Resep (Clementine Cake)
Nigella Lawson
375g Naartjies
250g Gemaalde Amandels
225g Suiker
6 Eiers
1 Teelepel Bakpoeier 
 
 
‘n Hoop naartjies gaan seker nooit op die kop 375g weeg nie. Ek het seker 390g gebruik en dit is goed want een was toe nie heeltemal so lekker nie, en toe kon ek dit met ‘n geruste hart afsny en nie worry dat daar te min gaan wees nie. Weeg dus so net oor die 375g naartjies af, was dit en gooi hulle dan in ‘n groot pot vol koue water. Kook die naartjies oor ‘n matige hitte vir 2 ure en maak seker dat die water nie droogkook nie. Haal dan die naartjies uit en laat eenkant afkoel. Wanneer die naartjies afgekoel is, sny jy hulle in die helfte deur en verwyder enige pitte. Verwerk dit dan in die voedselfverwerker tot sag – skil en al! Meng die eiers en die suiker saam en voeg dan die gemaalde amandels, bakpoeier en naartjies by. Gooi in ‘n gesmeerde koekpan van jou keuse en bak teen 190° vir 45 minute tot ‘n uur. Onthou om jou oond se hitte aan te pas as jy ‘n waaieroond het. Hou maar die koek dop en haal dit uit die oond wanneer ‘n stokkie skoon uitkom. As dit nog ‘n bietjie bak nodig het, maar die bokant begin te donker lyk, sit maar ‘n stukkie foelie oor om te keer dat dit brand. Laat die koek afkoel in sy pan op ‘n afkoelrak en verwyder wanneer dit heeltemal afgekoel het. Sprinkel met versiersuiker om dit af te rond. 
 
 
Mens kan die koek ook maak met lemoene of suurlemoene – maar mens sal seker ‘n bietjie meer suiker wil bygooi as jy met suurlemoene werk. Ek dink dit is nogal ‘n verfrissende Somerskoek met ‘n lekker klam tekstuur en ‘n treffende smaak. Die werksmense was mal daaroor en Juan was effens teleurdgesteld dat hulle alles opgeëet het en hy nie nog ekstra gekry het nie. Die een by die huis gaan ook nie lank hou nie...ek dink Juan het al vier helpings gehad vannaand alleen. 

Friday, 26 July 2013

Groente groei is lekker!

My eerste Somer hier in Engeland was vreeslik warm. Destyds het ek gewerk vir ‘n sekuriteits maatskappy. Ons was besig met die Chelsea Flower Show en ek moes my personeel oor die hitte van die dag vra om rond te loop om seker te maak dat mense wat op die grasperke lê en ontspan nie in werklikheid uitgepaas het nie. Alhoewel meeste mense niks makeer het nie, het menigte rooi vlaggies in die lug opgeskiet en is die nootfluitjie geblaas om die noodhulpdienste nader te roep om iemand te help wat ondergekry is deur die hitte. So na hierdie jaar se mislukke begin aan die Somer het dinge nou omgedraai en sê hulle dis nou net so warm soos daai Somer. En glo my, dit is werklik warm. Met hierdie hitte is jy dankbaar om in die oggend werk toe te gaan sodat jy in die lugversorging kan sit. In die aande maak ons al die deure en vensters oop en slaap net onder ‘n dun kombersie. Ek drink liters en liters water en moet my plante twee keer ‘n dag water gee en steeds sukkel hulle. My gras is van die enigste in die buurt wat nog redelik groen is, maar is tog plek plek verbrand. Orals lyk dinge maar vaal, bruin en verlep.
 
 
Maar ten spyte van hul dors, geniet die groente al hierdie son vreeslik. My tamaties begin nou uiteindelik ryp raak en ons het nou die dag ons eerste enetjie gedeel en siedertdien 'n hele paar geëet. Vars van die steel af is dit so soet, dat jy vir eens kan glo dat ‘n tamatie ‘n vrug is. My mielies kom ook nou baie mooi aan. Ek kon nou die dag nie glo toe ek die eerste mielie baard gewaar het nie. Die oggend toe ek natgegooi het was daar niks nie en toe ek oor middagete gaan loer, toe is daar skielik ‘n mielie.  Nou het al my mielie plante 'n paar mieles aan die groei. Ons het nou al ‘n hele paar boontjies geëet en selfs van die beet. Juan het gereeld mange tout geëet, maar nou het die son omtrent die fyn ou plantjies vrek gebrand en ons sal maar moet sien of daar nog te voorskyn gaan kom. My murgpampoentjies het eers mooi aangekom, maar nou is daar geen mannetjie blomme om die vroutjie vrugte mee te bevrug nie en nou gaan die vruggies net dood. Dis seker maar weereens die hitte of iets, want toe dit te koud was wou hulle nie vrugte maak nie en nou dat dit te warm is, is die manne nerens te sien nie. Gelukkig was daar ‘n hele paar weke wat dit goed gegaan het en ons ‘n hele paar mooi murgpampoentjies geëet het.


Ons spanspek plant het die afgelope paar dae die hoogtes ingeskiet, maar daar is nog geen tekens van enige vrugte nie. Dit laat my glo ons gaan nie enige spanspek eet hierdie jaar nie. As die vrugte nie ‘n lang genoeg Somer het om ryp te raak nie, is daar nie veel hoop nie. Die plant lyk wel baie gesond en klim nou baie lekker. Verder groei ons sonneblom by die dag. Sy is nou oor die 9ft lank en alhoewel sy nog nie ‘n blom het nie, volg haar kop die son se gang getrou deur die dag. My sweetpeas ruik weer so lekker en blom genoeg dat ek gereeld ‘n klein ruikertjie in die huis kan sit om die geur tuis te bring.
 
Aarbeie het ons ook gereeld vars uit die tuin vir ontbyt saam met ons meusli geëet. So soet en heerlik, maar hopeloos te min. Die nuwe plantjies wat ek hierdie jaar aangebring het, het nog nie goed genoeg gevestig om ordentlik vrugte te dra nie, alhoewel ons darm al een van die nuwes geëet het – en dit was heerlik! Ek glo ons gaan volgende jaar rol in die aarbeie. Ai, as ek nou net plek gehad het vir ‘n kersie boom en ‘n bloubessiebos, dan sou ek in my element gewees het.

My preie en groenuie groei ook heerlik, nes al my slaaieblare en spinasie en ons stap gereeld uit en knip daarvan om in ons kos te gebruik of om op ‘n broodjie te sit. Om te dink, ons het net ‘n paar groeisakke en ‘n klein bietjie spasie en ons kan al hierdie heerlike dinge groei. Hoeveel lekkerder sal dit nie wees as ons eendag ons eie huisie met ‘n tuintjie kan bekostig, waarin ons lekker baie goed sal kan groei nie. Ai, mens kan maar droom.
 
 


Wednesday, 17 July 2013

Gits nog Goggas!

Dinge in die tuin vorder nou rerig baie mooi en ons geniet dit baie om op warm dae daar buite te sit – veral nou dat ons ‘n bitter klein swembadjie aangeskaf het. Dinge groei lekker en ons eet gereeld vars groente uit die tuin uit. Sover het ek nie te veel probleme met goggas nie, maar het wel die afgelope paar maande ‘n paar interesante dinge in die tuin gewaar. 

Perdeby Kewer (Wasp Beetle) - Clytus arietis
Hierdie helder gogga het my groot laat skrik toe ek hom op ‘n sonnige dag op my mielies gekry het. Met sy helder kleure het hy nogal gevaarlik gelyk, maar dit is alles deel van sy slinkse plan om soos ‘n perdeby te lyk terwyl hy eintlik heeltemal skadeloos is. Hulle is so oulik, nie net lyk hulle soos perdebye nie, maar hulle beweeg ook soos hulle. Die larwes leef in droë, dooie hout, soos heining pale en dooie takke of stompe terwyl die volwassenes in die Somer gevind kan word waar hulle voed op stuifmeel en soms op kleiner goggatjies. Dit is dus voordelig om hulle in jou tuin te vind, maar ek het myne net die een keer gesien.

Friday, 12 July 2013

Roosterkoek sonder die rooster

Wat ‘n heerlike naweek het ons nie laas naweek gehad nie. Die weer was so perfek soos wat jy dit ooit in Engeland kan kry. Gewoonlik is daar net ‘n handjie vol sulke dae elke jaar. Ons moes dit dus benut en het beide dae ‘n piekniek gepak en see toe gegaan. Ons is altyd op soek na ‘n lekker strand – iewers stil waar mens kan swem en nie hoef te betaal vir parkering nie. Ons het nogal die jackpot getref met Elmer Sands, waar ons heel toevallig Saterdagoggend gestop het. Dit is ‘n privaat uitbreiding naby Bognor Regis met geen direkte toegang tot die strand en bitter min parkeerplek binne stap afstand, maar as jy gelukkig is om ‘n parkeerplek te kry, kan jy met een van die publieke voetpaaidjies tussen die ‘Private Estates’ deurloop en op die heerlikste strand afkom. Die fotos kan net nie lekker tuisbring hoe rustig dit daar was en hoe lekker die water was nie.



Dit is baie still daar, met net ‘n paar gesinne en ou mense wat sit op strandstoele in die son. Dit was so rustig daar, mens het veilig gevoel om jou goed net so op die strand te los terwyl jy gaan swem – en ons het sommer baie gaan swem. Een gesin het sommer al hulle goeters net daar gelos teen 12uur en toe weer drie ure later terug gekom. Daar is dolosse op die laagwater merk (daar geplaas om die area te beskerm teen vloede gedurende storms) wat veroorsaak dat die strand ‘n rustige baai vorm op hoogwater, met geen branders nie en skoon helder blou water. Perfek vir swem en piekniek hou. Ons het heerlik gekuier, geswem en geëet. Terug by die huis en lekker uitgerus was roosterkoek en skaaptjops die perfekte einde aan die perfekte naweek.

Roosterkoek Resep
(4 gemiddelde roosterkoeke)