Saturday 29 June 2013

Lekkerste Beskuit

Vandag het ons groot nuus gekry - ons aansoek om Britse Burgerskap was suksesvol. Dit beteken nie dat ons nou Brits is nie - ons moet eers trou sweer aan die Koningin - maar baie binnekort sal ons die gesogte rooi boekie in ons hande hê en dan lê die wêreld aan ons voete. Wel, ek mag dalk nou basies Brits wees, maar ek bak steeds goeie ou Suid-Afrikaanse beskuit. En vandag bak ek die heel lekkerste beskuit wat ek ken. Hierdie resep het ek geleer by my vriendin Marlé se Ma en dit was net die lekkerste ding om wakker te word na 'n oorslaap en 'n koppie koffie in die bed te kry met daai beskuit. Dit was nou nie haar eie resep nie en ek het geen idee waar dit oorspronklik vandaan kom nie. Hierdie blog vertel wel dat die resep 'n Rooi Rose kompetisie vir die Heel Lekkerste Beskuit in die Land gewen het in 1996 - en ek beaam dit 100%.
Ek hou wel daarvan om beskuit resepte aan te pas - want in my wêreld moet beskuit altyd rosyne hê - so ek sal die basiese resep gee, maar vertel wat ek byvoeg. Hoop julle geniet dit net so baie soos ons.
All Bran en Sonneblomsaad Beskuit Resep
(ook bekend as: Die Lekkerste Beskuit in die Land)

Monday 24 June 2013

Oes en Proes

Uiteindelik is die tyd hier om dinge te begin oes...stadig maar seker. Ongelukkig is dit ook die tyd van die jaar wat ek half vergaan van hooikoors en arme Juan moet bondstaan met tissues vir sy snotneus vroutjie. Ten spyte van die hooikoors, sal ek nooit my tuin en blomme verruil vir 'n
droë neus nie - ek sal maar net meer allergics moet sluk.
 
My Sweet Peas (en ander ertjies en boontjies) begin nou blom en hulle ruik so heerlik soet. Sodra hulle genoeg blomme maak, sal ek van hulle begin pluk en in die huis indra. Die murgpampoentjie blomme (die groot gele) is ook te pragtig - rerig treffend in mens se tuin. Ek het al baie resepte gelees waar mens dit kan pluk en stop met roomkaas en dan in 'n degie sit en vlakbraai. Dit klink baie lekker en interessant, maar die blom is net te mooi en die bye geniet dit te veel - ek sal dit nooit oor my hart kan kry om hulle te pluk nie.

Wednesday 19 June 2013

Watervalle in Wallis

Wel, ek het belowe ek sal later meer vertel van ons uitstappie Wallis toe...so hier is dit. Ek ek Juan moes net eers ‘n tydtjie spandeer om deur ons hordes fotos te gaan, sodat ons kan wys hoe vreeslik mooi dit daar is, maar die fotos kan net nie heeltemal tuisbring hoe lieflik dit daar is nie. 

 
Ons het die grootste deel van ons kort vakansie aan die kus spandeer, maar oppad huistoe het ons besluit om eers weer terug te ry in die rigting van die Brecon Beacons. Vir my is dit een van die mooiste plekke in die Verenigde Koninkryk. Hier is so ‘n tekort aan berge, dat dit baie lekker is om so baie ‘Aardrykskunde’ te sien. Met een van my verjaarsdae het ek en Juan op die Black Mountains, in the Brecon Beacons, tussen die skape geslaap. Dit was ongelooflik om die sonsondergang en sonsopkoms in sulke ongerepte skoonheid te ervaar. Moelik om te glo dat ‘n klein grou plek soos Brittanje, so lieflik kan wees.

Wednesday 12 June 2013

Die Onsigbare Oorlog

As jy my tuintjie so van ver af bekyk, lyk alles so rustig, gesond en groen. Van nader is dit soms ‘n ander saak en bevind ‘n hele paar slakke dat hulle ‘n oneway ticket oor die muur het.
Toe ons onlangs teruggekeer het van Wallis, was ek bekommerd dat my plante verlep op die grond sou rondlê na die paar warm dae met niemand daar om vir hulle water te gee nie. In teendeel het hulle die son vreeslik geniet en hard gegroei. Ongelukkig het die goggas ook die goeie weer gebruik om ‘n bietjie nes te skop. 
Elke jaar kry ek nuwe goggas by. Ek probeer altyd om dinge te bestrei sonder gif, want ek ek glo nie in gif nie. Hierdie dinge het tot dusver vir my gewerk:
  • Tree vinnig op as jy die eerste tekens van enige iets sien – gooi hulle oor die muur, verdrink hulle in water of knyp hulle dood (gril!!) – en hou gereeld ‘n ogie dat hulle nie terugkom nie,
  • Plant ander plante spesiaal vir die goggas dan los hulle jou groente uit – ek het nie genoeg prys vir die wonders van kappertjies nie,
  • Sit klein houertjies bier uit tussen jou plante – jy sal verbaas wees hoeveel creepy crawlies hou van bier en sal dan verdrink – dit werk veral goed met slakke en oorkruipers en mens voel nie so skuldig nie, want hoe erg is dit nou om te verdrink in bier?
  • Kry natuurlike vriende om jou te help. Vind uit watter goggas jou vriende is, soos spinnekoppe en ladybirds en los hulle om die vuil werk vir jou te doen. Maak voëls tuis voel in jou tuin, hulle is baie lief vir wurms en larwes. Ek het ook ‘n dammetjie gemaak om paddas te lok, want hulle eet ook allerhande goggas, maar tot dusver kon ek nog nie ‘n padda oorreed om daar te bly nie.

Saturday 8 June 2013

Ongerepte Wallis

Sondag het Juan my verras met met 'n kort vakansie in Wallis. Ek het geen idee gehad waarheen ons oppad was nie, en hy het spesiaal 'n ompad gery om daar uit te kom, want hy weet hoe goed ken ek die pad soontoe - dit is my gunsteling plek in Groot Brittanje. As ek vir Engelse mense vertel hoe mal ek is oor Wallis, is hulle altyd baie verbaas. Ek kan maar net aflei dat hulle nog nooit daar was nie.
 
 
Ons het deur pragtigste landskap gery en laat middag by die Ewenny Woods gastehuis, in die Vale of Glamorgan, in die Suide van Wallis opgedaag, waar Peter en sy baie besorgde hond ons baie welkom laat voel het. Vandaar was ons baie naby aan die 14 myl ongerepte kuslyn van die  Glamorgan Heritage Coast.  Vanaf steil kranse, lê die see soos 'n plat poel. Ons het ons voete deurgestap en heerlike pieniek gehou tussen die skape. Hierdie skape het seker van die beste uitsigte in die hele wye wereld.