Tuesday 3 November 2015

Pampoen Plaatkoekies

Lekker eet was nog nooit sleg nie en toe ek onlangs hierdie resep raaklees op BBC Good Food, kon ek nie wag om dit uit te probeer nie. Die Amerikaaners noem hulle breakfast pancakes, maar ons Suid-Afrikaners noem hulle gewoonlik sommer plaatkoekies. Nie net het dit baie lekker uitgedraai nie, maar die ontbyt is ook baie vullend. Nou nie vir elke dag nie, maar as mens so in 'n pampoen gier vasgevang is, is dit beslis die moeite werd. 

Pampoen Plaatkoekies met 'n Gesoute Pekanneut Botterkaramel Sous
(12 plaatkoekies)

Vir die plaatkoekies:
125g gaar Pampoen pulp
1 Eier
2 eetlepels Bruinsuiker
1 eetlepel gesmelte Botter of Olie
60ml Karringmelk of Melk met 'n 'n bietjie suurlemoensap
100g Meel
1 teelepel Bakpoeier
1 teelepel Kaneel
'n knippie Sout
'n bietjie Olie of Botter om in te braai

Vir die sous:
25g Pekanneute
25g Botter
25g Bruinsuiker
'n Knippie Seesout
50ml Dik Room

Meng al die plaatkoekie bestandele saam tot 'n dik beslag. As dit te styf is, voeg bietjies bietjies melk by. Sit eenkant neer terwyl jy die sous aanmaak.

Breuk die pekanneute in stukkies en rooster tot hulle geur 'n bietjie uitkom. Sit eenkant neer. Prut die oorblywende bestandele liggies tot dit 'n blink sous vorm. Voeg weer die geroosterde neute by. My sous was baie donker omdat ek donker bruin suiker gebruik het, met 'n ligter suiker sal hy meer van 'n 'butterscotch' kleur hĂȘ.

Wees maar versigtig met die hitte op hierdie sous, te warm en die suiker sal brand en dan kan jy dalk met 'n lekker gemors sit. Sit die sous eenkant neer om effens af te koel. Dit kan weer effens opgewarm word wanneer die plaatkoekies voorgesit word. Wees maar versigtig met die warm sous. Jy mag dalk, soos ek, getempteer word om te wil proe - moenie jou vingers verbrand nie!

Verhit 'n bietjie botter of olie in 'n pan en skep lepels van die pampoen beslag in. My beslag was effens dit en ek moes hulle so effens in sirkels smeer om 'n mooi ronde plaatkoekie te kry. Braai stadig totdat borreltjies bo-op verksyn en draai dan om. Braai vir nog 'n minuut of twee. Hou die gebraaide plaatkoekies in die oond warm en bedien met sous (en roomys as jy lus het).


Die "butterscotch" sous is rerig 'n wenner en ek gaan dit op 'n paar ander dinge ook uitprobeer. Lekker eet! 

No comments:

Post a Comment