Sunday 1 November 2015

Alreeds November

Ek kan nie glo dit is alreeds November nie. Waar gaan die tyd met ons heen? En wat het van Oktober geword?

Hier in die Noorde kom die koue stadig aan en die hele tuin lê vol blare. Ek gebruik nou al glad die grassnyer as 'n stofsuier net om van die blare ontslae te raak. Ek dink nie ons het juis enige gras oor nie, die grond is bloot groen van al die mos.

Gisteraand was dit Samhain, of Halloween soos dit deesdae heet, en ek en manlief het dit gevier met 'n lekker Soetrissie Botterskorsie en Feta Tert. 

Gelukkig het hier geen kinders in kostuums geklop nie, want ek het soos gewoonlik geen lekkergoed gehad nie. Ons het wel eenkant 'n tafeltjie gedek met herfs blare en kleure, 'n porsie van ons ete en warm kersies om ons geliefdes te eer en te vier wat nie meer met ons is nie. 

Op 31 October word die dooies so geëer reg oor die wêreld. Dis 'n eeue oue gebruik. Mense het in die verlede geglo dat die skans tussen die wêreld van die lewendes en dooies juis op hierdie nag baie dun is en deur vir hulle 'n plekkie te dek en jou ete met hulle te deel, jy vir een nag van die jaar nog saam met hulle kan kuier. 

Vir my is dit 'n mooi idee om so sonder hartseer op 'n gesellige manier na die mense (en diere) te verlang wat jy so baie mis. 

Natuurlik vier mense ook die Oesgety hier in die Noorde en is dit net pampoene en skorsies en oranje waar jy kyk. Dus moes ek maar 'n plan maak om 'n geskikte ete te maak en kon natuurlik nie die geleentheid verby laat gaan om hierdie tert te maak nie. 

Soetrissie, Botterskorsie en Feta Tert Resep

'n Halwe Middelslag Botterskorsie in blokkies gesny en gaar gestoom of gebak
'n Rol Skilferkors or Filo Deeg
Soetrissie Sous
Heuning
Roosmaryn
Sout
Fetakaas
Dennepitte

Meeste kos maak ek maar so sonder veel afmetings. Soms is ek lus vir meer of minder van 'n chilli smaak en soms wil ek meer of minder feta hê. Gewoonlik maak ek hierdie dis met Filo deeg, maar gisteraand het ek dit sommer met skilferkors gemaak en dit was net so lekker. Met Filo deeg moet jy natuurlik elke lagie teen 'n hoek neerlê en dit met botter verf voordat jy nog 'n lagie teen 'n hoek bo-oor lê, so bou jy 'n kors tot dit dik genoeg is.


Voer 'n tert bak uit met skilferkors deeg, gebruik 'n vurk om die deeg in die bodem vol gaatjies te steek sodat die vloer van die tert nie probeer styg wanneer jy die tert bak nie. 

Ek stoom gewoonlik my botterskorsie blokkies vooraf gaar en laat dit effens afkoel en uitdroog voor ek dit gebruik sodat die tert nie te waterig raak nie. Klad die skorsie droog as dit te nat is. Meng jou gaar botterskorsie blokkies met soetrissie sous na smaak - 'n paar eetlepels behoort genoeg te wees. As jou soetrissie sous baie branderig is, gooi ekstra heuning by. Geur met sout en roosmaryn en meng 'n groot stuk fetakaas by. Ek bruik ten minste 100g feta maar meer of minder sal ook werk.

Bak die tert in die oond teen 180 grade tot gaar vir ongeveer 20-30 minute. Gooi 'n hand vol dennepitte bo-oor net voor die tert klaar gebak is sodat hulle nie verbrand nie. Ekstra feta en roosmaryn kan dan ook bo-oor gegooi word. Bak dan vir nog 'n paar minute.


Op so 'n koue mistige aand is daar darm niks lekkerder as lekker warm kos met so 'n effense skop om die binnegoed mee op te warm. Dit was so lekker ons het sommer die hele ding opgeëet. Geen klagtes hier nie!

No comments:

Post a Comment