Monday 7 September 2015

Kansvattery met Kaktusse


Dit is seker maar omdat die Somer so swak was die jaar dat ek skielik soveel meer gefokus is op huis plante. Ek wil heeltyd meer hê al is daar nie juis plek nie. Mnr. Kaalvoet is seker maar te dankbaar dat ons huurkontrak ons nie toelaat om spykers in te kap nie, want anders het daar seker al tien potplante uit die dak uit gehang.

Ek wil nou al 'n redelik tyd lank 'n paar kaktusse aanskaf. Sedert kindsbeen is ek vreeslik lief vir hulle en het gereeld vir my Ma vir Moerdersdag kleintjies geskenk gegee. Die kleintjies het ons later in die tuin geplant en hulle het ontaart in tamaaie groot plante. Al wat my nou keer is die prys. Hulle is seker nie so duur nie, maar ek voel heeltyd hulle moet goedkoper. Of as jy goedkoop kaktusse sien, is dit altyd dieselfde ou goed. 

Toevallig sien ek nou die dag iewers 'n tweet oor kaktus sade. Natuurlik! Ek het nooit daaraan gedink om my eie te groei nie, maar hoe meer ek daaraan gedink het, hoe lekkerder het dit geklink. Jy betaal vir 30 sade dieselfde wat jy sou betaal het vir een klein plantjie, met die bonus dat die sade 'n mengsel is van verskeie kaktusse en jy dus geen idee het wat kan op kom nie. Nie net weet jy nie wat gaan opkom nie, maar dit kan ook tot 'n jaar neem vir enige iets om op te kom. Dis net die tipe ding waarvan ek hou.

Chiltern Seeds het 'n goeie verskeidenheid om van te kies en ek het vir my 'n pakkie van hul Cactus Mixture D, Fine Blend gekoop. Dit het 'n paar dae terug opgedaag en ek het 'n lieflike glashouer, wat ek juis hiervoor gekoop het, ingespan vir my eksperiment. Gevul met gruis en spesiale kaktus kompos het ek ses saadjies gekies om net so effens in the grond te druk en hulle nat gemaak. Met die deksel toe, en 'n bietjie hitte en son, hoop ek om een of ander dag verras te word deur 'n baba kaktus.


Ek het geen idee of iets sal opkom nie en het ek geen idee wat kan opkom nie, maar ek weet dit gaan lekker wees om gereeld te loer. En enige iets wat wel opkom, sal ek liewer hê omdat ek dit self gegroei het. Ek hou julle op hoogte!  

No comments:

Post a Comment