Friday 4 September 2015

My Marimo Meer Kabouter

Ek is nie seker waar ek die eerste keer van Marimo mos bolle gehoor het nie, maar ek het sommer dadelik geweet ek wil ook een hê. Natuurlik is 'n verjaarsdag die ideale tyd om dinge aan te skaf waarna jy hunker, maar nie werklik benodig nie. Ek het myne gekoop deur Notonthehighstreet.com vanaf Dingading Terrariums. Dit het in 'n glas skedel gekom, maar omdat hy reeds 'n bietjie groot gelyk het vir sy 'huisie' het ek hom gehalveer en die tweede stukkie in 'n glas teepot gesit.


Marimo mos bolle (Aegagropila linnaei/Cladophora) is rond en groen en fluweel sag en lyk soos 'n bol mos wat onder die water groei. In werklikheid is hulle nie 'n mos nie, maar eintlik 'n alge. In die natuur kan hulle tot 20-30cm in deersnee groei. Hulle kom voor in 'n paar mere in die noordelike halfrond en is 'n beskermde spesie. Die mees bekendste meer vir Marimos is Lake Akan in Hokkaido, Japan, waar hulle baie populêr is. Die naam Marimo is ook Japanees en beteken iets soortgelyk aan 'n bonsende bal onder die water, maar ek hou nogal van die naam wat die inheemse mense van Hokkaido vir hulle het, Torasampe, wat 'meer kabouter' of 'lake goblin' beteken. Hulle ronde, bonsende voorkoms en die feit dat hulle in rollende groepe saamdrom op die meer bodem skep die indruk dat hulle meer van 'n dier as 'n plant is. Mense hou hulle dus soms aan as 'n 'troeteldier' en word baie geheg aan hulle.


Noudat ek my eie een het, kan ek self sien hoe mens 'n persoonlikheid kan toeskryf aan 'n klein ronde bol alge. Miskien is dit omdat jy hom aanhou in water soos 'n vissie en hom moet versorg. Gelukkig is versorging maklik. Marimos is gelukkig in kraanwater met lae lig en is veronderstel om vreeslik maklik te wees om aan te hou. Hulle water moet elke week of twee vervang word en hulle moet soms geskommel word om te verseker dat hulle hul vorm behou en dat hulle reg rondom groen bly. 


Myne is nog maar baie klein en ons sal maar moet sien of hulle so maklik is om aan te hou soos wat hulle sê. Ek sal laat weet hoe hulle aankom. Is dit nie cute nie?!

No comments:

Post a Comment