Monday 31 August 2015

Renosters en nog meer by Cotswolds Wildlife Park

Ek is nie altyd ten gunste van dieretuine en wildparke nie. Diere moet vry wees en hulle eie plek in die natuur hê om 'n normale lewe te lei. Maar die wereld werk nie altyd so nie en soms is 'n dieretuin 'n veilige hawe vir diere wat bedreig word asook 'n plek waar die volgende generasie kan leer om die natuur te waardeer. Cotswolds Wildlife Park is een van hierdie plekke. Die gronde is lieflik en jy voel die diere word met soveel liefde versorg. Hulle het spasie en lyk gelukkig en die blote feit dat hulle twee wit renosters kon teel, wys dat die diere gelukkig daar kan wees.

Ons het onlangs saam met vriende daar gaan rondloop en het 'n besondere lekker dag gehad. Ons het so lekker gekuier dat ons nie wou huistoe gaan nie en een van die laaste motors by die hekke uit was. My bene is nou nog lam! 


Die wit renosters was vir my die hoogte punt van ons dag. Ons was daar toe hulle stadig wakker geword het in die oggend en die kalfie aan sy Ma gedrink het. Later het ons gekyk hoe hulle gaan water drink en eet en hoe hulle teen die einde van die dag rustig raak en op hooi gaan slaap. Dit is verbasend hoe statig hulle is, hoe saggies hulle dinge doen. Die band tussen die kalfies en hul Mammas is ook so mooi. Ek kon sweerlik ure na hulle kyk. Altyd met die hartseer wete dat hulle so swaar kry in my geboorte land.

Die meerkatte was vreeslik vermaaklik. Een staan altyd op 'n hoe stomp as uitkyk en maak sulke klein geluidjies in sy keel. Hy vat sy werk ernstig op, al is daar niks wat hul hier bedreig nie. 'n Ander een is weer besig om 'n reuse gat te grawe - dit lyk of hy oppad is China toe. Later kry hulle kos en stry verwoed oor een wortel terwyl daar 'n hele hoop wortels is. In die laat middag son lê hulle rond soos ouens wat te veel gedrink het. Die prairie dogs is net so snaaks, hulle kan weer so stil sit met hulle armpies so koddig uitgesteek en lyk asof hulle opgestop is. Nie 'n wimper roer nie!


Daar is ook 'n paar hokke en huisies waar jy kan deurstap saam met luidiere (wat meeste mense heel mis gekyk het), vlermuise (wat meeste mense heel bly was om mis te kyk) en lemurs. Die lemurs is baie oulik en lekker slim - hulle daag heel onskuldig saam met jou by die agterdeur van die hok aan. Daar is 'n reptiel huis met krokodille en reusagtige slange. Daar is hokkies vol klein apies en uile en allerhande dinge. Daar is wolwe en leeus en kapibaras. Pikkewyne baljaar in 'n groot swembad wat so lekker lyk, jy wil saam swem. Daar is 'n platform waar jy van aangesig tot aangesig met 'n kameelperd kan staan. Daar is baba varkies en miniatuur donkies. Daar is eindeloos baie te sien en selfs 'n klein treintjie waarop jy kan ry wat jou reg rondom die park vat. 


Oral is daar lieflike tuine, egalige paadjies en groot groen grasperke. Mens word aangemoedig om 'n piekniek te bring en selfs jou hond. As daar nou een ding is wat meer pret is as om te kyk na meerkatte is dit om te kyk hoe Jack Russells kyk na meerkatte - kostelik! Ons het soveel pret gehad, ons kan nie wag om weer te gaan nie.

No comments:

Post a Comment