Thursday, 29 January 2015

Vlugtig

Met my oond wat nou nie lekker wil werk nie, word hier niks gebak in ons huis nie. Meeste van my kos kom uit die pan en ek het dus nie juis resepte om te deel nie. Ek is een van daai kokke wat nie op 'n resep werk nie - ek gooi 'n klomp vreemde goed bymekaar, kan nooit dieselfde ding twee keer op dieselfde manier maak nie en wonder bo wonder kom alles darm eetbaar uit.

Verder is dinge hier baie koud. Ek dink enige een wat die afgelope tyd met my gepraat het, sou tien teen een 'n hele tirade moes aanhoor oor hoe koud dit is. Ek het gewoonlik nie veel van 'n probleem met die koue nie, maar ek dink ons nuwe blyplek is kouer as die vorige een. Die koue maak my lui en verder moet die heating ook die heeltyd aan wees, wat 'n klomp onnodige geld kos. Natuurlik is tuinmaak uit die prentjie, meeste goed in die tuin is by tye heeltemal gevries. Ek het wel eergister gras gesny en het laas week 'n paar ivy takke gesnoei het, in die hoop dat dit meer son sou deurlaat.

My dae is dus tans verdeel tussen huis skoonmaak, wasgoed was, lees en stap. Ek vat altyd my kamera saam op my stappies en kan sommer 'n halfuur onder een boom vassteek om fotos van voëls en eekhorings te neem. Soms kom staan vreemdelinge by my om te vra wat ek maak, heel verbaas om dan al die diertjies en dinge uitgewys te word.

Die eekhorings is veral oulik as die son uitkom. As jy mooi kyk, vind jy hulle soms en dut in die sonnetje op 'n tak - hulle ogies glad op skrefies getrek. Ander kere jaag hulle mekaar in die takke of oor die gras rond. Heelparty sit my ook en dophou soos ek hulle dophou, ewe nuuskierig. Ek kan my verkyk!


As dit by voëls kom is dit moeilik om te kies watter een vir my die oulikste is. Die Robins is nuuskurig en kordaat. Hulle volg mens sommer rond en sit luidkeels en sing. Die Blue Tits en Great Tits is natuurlik cute, klein en helderkleurig. Hulle is so rats en bedrywig dat dit baie moeilik is om van hulle fotos te neem. Dan is daar weer die Houtkappers en Treecrawlers wat so interessant is, maar wat baie moeilik is om te vind. 

Tussendeur sien mens ander interessante dinge, soos Blackbirds wat heel kwaai, met 'n groot geraas, ander voëls uit hul gebied probeer hou, of 'n kraai wat baie ernstiglik probeer om 'n neut te kraak, of vinke wat moes verhuis het gedurende die winter, wat steeds hier bly. So elke nou en dan vind ek ook 'n kat wat skelm probeer om 'n voëltjie te bekruip. As ek hulle oog vang sal hulle ewe nonchalant terugsit en maak asof hulle maar toevallig daar was, nooit die voëls eers raakgesien het nie en eintlik ander planne gehad het en verdwyn dan ewe saggies.


As ek so staan en konsentreer om die fotos te neem, raak my nek soms so styf en my vingers vries omtrent van die koue, maar dit is altyd so lekker om daai een mooi foto te kry of daai een interessante voël te gewaar. As ek myself weer kry, het ek maar weer drie lae klere aan, 'n serp om die nek, oormoffies op my kop en 'n kamera om my nek, lus om, ten spyte van die koue, weer 'n bietjie gaan verken.

Friday, 9 January 2015

Ongeskikte oond...maar ten minste het ons Tunawielietjies

Gisteraand, nadat die hoeveelste bak resep in ons nuwe plek se simpel gas oond geflop het, moes ek die stryd gewonne gee en erken dat die oond basies niks kan bak nie. As iemand wat hou van bak, en basies nog nooit voorheen bak flaters begaan het nie, is dit erg frustrerend. 

Leeg staan my beskuitblikke dus sedert ons getrek het. Daar is ook geen vars brood vir Mnr. Kaalvoet om in te pak werk toe nie. Geen meer tuisgemaakte warm poedings op 'n koue wintersaand nie. Geen bros worsrolletjies vir 'n impromptu piekniek nie. Nêrens meer 'n brownie, muffin, koek of skon in sig nie. 

Ek kan nie anders as om redelik teneergedruk te voel oor die toedrag van sake nie. Nie net is ek mal daaroor om Mnr.Kaalvoet te bederf met nuwe lekker dinge uit die oond nie, maar ek geniet dit omtrent net soveel om die resepte hier te deel. Ek is dus nou nie seker wat om te maak nie, maar ek sal maar moet berus.

Gisteraand se vinnige Focaccia het dus glad nie gaar gekom nie, maar ek kon darm vroeër die dag, met groot gesukkel en 'n ongelooflike groot aanpassing in die baktyd, 'n paar Tuna Wielietjies produseer. Ek deel dus die resep hier, met wat ek ag 'n normale baktyd is, en hoop niemand anders het soveel issues met hulle oond soos ek nie.

Tuna Wielietjies

1 blikkie Tuna in olie (as jy, soos ek, Tuna in Water het, laat die water afloop en gooi net 'n skoot olyfolie by)
1 koppie gerasperde kaas
1/4 koppie mayonaise
1 eetlepel blatjang
1 ui, fyn gerasper of gekap
Rooipeper en Kruie na smaak

1 vel skilferkorsdeeg

Meng al die bestandele goed saam. Rol deeg in 'n groot reghoek uit (as dit nie alreeds so verpak is nie). Smeer mengsel uit oor deeg en rol die deeg op. 

Afhangende van hoeveel deeg jy het of hoe groot jy jou wielietjies wil maak, kan jy een of twee rolle maak uit die stuk deeg uit. Ek het ook die laaste sentimeter van die deeg met 'n geklitste eier gesmeer om die rol lekker te laat plak. 

Maak die rol (of rolle) toe met kleefplastiek en verkoel die deeg vir 'n halfuur of meer in die vrieskas sodat dit makliker in skywe gesny kan word. 

Verhit jou oond (wat hopelik werk) tot 220 grade. Sny deeg in skyfies en plaas op gesmeerde bakplaat. Laat rus hulle so effens voor jy hulle bak, sodat die deeg weer 'n bietjie kan ontspan na die koue van die vrieskas. As jy wil, kan jy ook die wielietjies borsel met van die geklitste eier om hulle 'n bietjie glans te gee. Bak vir 15 minute.


As die oond beter gewerk het, sou die wielietjies meer gepof het, maar dit smaak steeds baie lekker. So al het ek dus nou nie lekker brood om aan te eet vandag nie, kan ek darm so tussendeur myself vertroos met 'n Tunawieliejie.

Thursday, 1 January 2015

Winter Wegbreuk

Met my terugkoms van SA moes ek uitvind ons getroue Suzuki Alto het na sewe jaar saam met ons uiteindelik die gees gegee. En nie sommer net effens nie, na nie 'n tiekie se probleme deur al die jare, het hy totaal en al opgepak. So kom haal Mnr. Kaalvoet my op die lughawe in 'n van wat hy gehuur het. Die van laat my toe terugdink aan 'n vakansie wat ek en Mnr. Kaalvoet geneem het amper 10 jaar gelede, waar ons 'n van gehuur het en 'n duisend myl deur Wallis gery het en agterin geslaap het. Die vakansie was natuurlik in die Somer, maar ek kon nie sien hoekom ons nie vir 'n aand of twee in die Winter ook so in die van kon slaap nie. 

Mnr. Kaalvoet het darm al vooraf beplan dat ons in Devizes sal gaan slaap op die 26ste in die baie aangename Castle Hotel. Devizes is 'n heerlike dorpie om 'n dag in te spandeer. Daar is oor die 500 geskiedkundige geboue, met nou straatjies, skewe geboutjies en interesante klein winkeltjies. 

Die hotel was natuurlik dolleeg en ons het die eetkamer, en meer belangrik, die kagel, totaal en al vir onsself gehad. Die kos was heerlik, die bed groot en alles baie gesellig. Die volgende oggend het ons die dorp gaan verken. In 'n klein antieke winkel het daar heel koddig, 'n pragtige goue Spaniël op 'n ou stoel voor 'n brandende klip kaggel gesit. Ek is so spyt dat ek nie 'n foto daarvan kon neem nie.

Later die dag het ons in die pad geval en Wallis toe gery. Die son het geskyn en na kortstondige reën buie het die reënboë kleurvol verskyn. Ons het gemik vir die Pembrokeshire kus. Na 'n lekker dag van rondry het die son vroeg al begin sak en teen vyf uur was dit al stik donker en het baie donker wolke oorgetrek. Ons het ribs en chips in 'n local pub geëet en toe moes ons gaan staanplek soek vir die nag. In 'n hewige ysreën het ons 'n lekker parkeerplek gevind op 'n baie stil puntjie van die kus. Ons kon nie veel uitmaak nie, behalwe dat dit stikdonker en baie koud was. 

Agter in die van het ons gou gemaklik geraak tussen ons duvets en slaapsakke en die enigste versteuring was net na een die oggend toe 'n polisie vrou die deur oopgemaak het. Sy het hard aangekondig dat ons slaap, gesê ons moet lekker verder slaap en weer die deur hard toegemaak. Ons is nie seker hoekom sy daar was nie, maar ons het net eenvoudig omgedraai en verder geslaap.




Die volgende oggend was die perfekte wintersdag. Dit was bitter koud en my vingers het sommer gepyn terwyl ek daar rond gehardloop het om fotos te neem. Soos die son opgekom het, het die water verander van sagte pers na pienk en later blou. Dit was so koud dat ons gesukkel het om ons gasstofie te laat werk en dit het maar lank gevat om daai warm koppie koffie in die hande te kry. 

Ons het al langs die krans gaan stap om 'n klein watervalletjie te gaan kyk en toe is ons laat weer die strand op in die vroeë sonskyn. 


Later die dag het ons deurgery na St Davids om weer te gaan kyk na hul pragtige katedraal. Ek kan dit nogal aanbeveel om dit in die winter te gaan sien. Die parkering is vernuut, daar is omtrent geen ander mense nie en die skewe winterson verlig pragtig die gebrandskilderde glas. 

Ek was heel lus vir nog 'n aand in die van, net om nog 'n bietjie langer in Wallis te bly, maar ons moes maar terug kom om 'n nuwe kar te kom koop voor Mnr. Kaalvoet weer terug werk toe moes gaan. 


Soos die son gesak het, het ons by nog 'n mooi strand gaan stap. Oral was daar honde en mense wat die sonskyn kom geniet het. In die Somer wil ek weer kom, lyk my ek kan maar net nie wegbly van Wallis af nie.