Thursday 3 April 2014

Skorsies plant en nog meer..

Met ons besoek aan Suid-Afrika in Januarie het ek gesorg dat ek vir my hierdie jaar Skorsie saad terug bring. 

As kind het ek met alle mag meeste groente vermy (en is steeds nie so goed daarmee nie), maar ek het altyd kans gesien vir skorsies...seker omdat ek dit eet met botter en suiker. Hier by ons kry mens dit glad nie te koop nie. Ek het in die verlede so 'n ronde murgpampoentjie gevind, en alhoewel dit gelyk het soos 'n skorsie, was dit nie een nie. Die local Suid-Afrikaanse winkel het laas jaar ook 'n paar skorsies teen duurste verkoop, maar hulle het nie vir my so lekker gelyk nie en was werklik vreeslik duur.

Op 8 Maart het ek my potjies begin regkry en die eerste saadjies begin saai. Sover het ek Skorsies, Franse Boontjies, Mielies, Preie en Sprietuie gesaai. Dis nog gans te koud buite snags, so hulle almal woon knus op my voorste vensterbank waar hulle die middag sonnetjie kan geniet. 


Mens dink altyd aan die begin dit gaan weke vat vir jou saad om op te kom, of dat niks gaan ooit gebeur nie, en dan skielik is hulle daar. Ek dink die eerste ding wat ontluik het, was 'n piepklein sprietuitjie - ons het omtrent 'n vergrootglas nodig gehad om seker te wees daar was iets, maar teen 16 Maart was daar al beslis dinge aan die gebeur. My Skorsie se eertse blaartjies het ontpop - werklik, een oomblik is daar maar net so 'n bobbel in die grond en as jy weer kyk is daar twee perfekte blare. En as daai blare eers kom, dan gebeur dinge vinnig.


Teen 21 Maart het meeste van my saad al opgekom en begin dinge al mooi groei. Die boontjies veral het pragtig opgekom en ek hoop nou net nie die ruspes gaan hulle weer beetkry soos verlede jaar nie.


Nou is my boontjies en een skorsie al so groot, ek sal eintlik daaraan moet dink om hulle uit te plant, maar ek vertrou nog nie hierdie weer nie en wil nie hĂȘ hulle moet 'n knou vang nie. Plus, my beddings is nog nie reg vir hulle nie. Ek sal eers 'n bietjie nuwe kunsmis moet inwerk en 'n bietjie van die onkruid ontslae moet raak...plus al die oorskied beet wat nog daar groei sal ook seker eers moet uit en ek moet nog 'n plant met hulle ook maak. 


Wel, daar is beslis nog lekker baie werk om te doen, maar aangesien ek nou nie meer 'n voltydse werk het nie, het ek genoeg tyd op hande om daarmee aan te gaan - lekker tye!!

1 comment: