Sunday 27 April 2014

South Downs Uitstappies

Met die slegte weer wat ons deesdae het, voel dit somtyds of mens net op die bank wil lê en niks wil doen nie, maar selfs as dit reën kan die South Downs jou van die bank af lok. 

'n Paar weke terug het ons 'n winderige maar mooi dag gehad en Old Winchester Hill gaan uitstap. Ten spyte van die naam is dit nie rerig so naby aan Winchester nie (11km weg). Die naaste dorp is Corhampton in Hampshire en dit is deel van die South Downs National Park. 


Die heuwel is byna 200m hoog en bied pragtige verrykende uitsigte oor die South Downs. Op die heuwel is daar nie net donsige heuwel skape nie, maar ook 'n fort wat dateer uit die ystertydperk sowel as bronstydperk uitgrawings. Ons het omtrent ons skoene deurgestap en heerlik in die flou sonnetjie sit en bak met 'n koppie tee na die tyd. Daar was so min mense en alhoewel nie ver van ons huis af nie het dit rerig die gevoel van 'weg kom' geskep.


Vandag het ons die ligte reën aangedurf en die Queen Elizabeth Country Park gaan besoek. Dit is verby die Devils Punch Bowl op die A3, net buite Petersfield geleë. As gevolg van die slegte weer het ons nie te lank gaan stap nie, en het slegs die 3km kort staproete aangepak, maar ons gaan beslis 'n plan maak om weer te gaan en 'n paar van die langer roetes aan te vat. 


Die woude is pragtig en vol lewe en dit is heerlik om net weg te kom en 'n bietjie vars lug in te kry. Vandag het ons maar ons tee en koek in die kar geniet, maar daar is baie mooi piekniek areas wat ons volgende keer gaan benut. Iets lekker om na uit te sien!  

No comments:

Post a Comment