Sunday 2 March 2014

Lente is hier!

Gister was dit die 1ste Maart en dus offisieel die begin van Lente hier by ons. Dit was 'n perfekte Britse Lente dag met hope koue vars lug en so 'n skewe flou sonnetjie en ons het die beste daarvan gemaak deur in een van ons nabygeleë parke te gaan rondstap. 


Oral het pragtige Lente blomme en bloeisels ons gegroet - dit verbly die hart en gee mens hoop dat die Winter tog maar altyd tot 'n einde moet kom. Die feit dat ons nog geen sneeu gehad het nie, het my effens bekommerd, want ek kan nie help om te voel dit moet tog kom nie, maar ons sal maar moet wag en sien. My eie daffodille blom nou baie mooi en ek het reeds 'n paar in die huis om ons hierbinne ook op te cheer. Groente groei is beslis my ding, maar ek dink tog ek moet maar eendag plek maak vir blomme groei ook wanneer ons die spasie het - hulle is net so vriendelik!


Die voëltjies was baie bedrywig en ons het vir die eerste keer 'n Goldcrest gesien, wat een van die kleinste voëltjies in Engeland is. 'n Paar hommelbye het ook tussen die heide geboer en ek het omtrent gesukkel om hulle af te neem terwyl hulle so bedrywig is. Nes hulle, het ons die sonnetjie en die koms van Lente en warmer dae sommer baie geniet.


No comments:

Post a Comment