Sunday 16 February 2014

Terug tuis in die koue


Nuwe Jaar het ons na Suid-Afrika vertrek om 'n bietjie tyd saam met ons families in die son te spandeer. Nou al 'n paar weke tuis, voel dit soos 'n verre droom en verlang ons lekker na die warmte. 

Hier in Engeland is dit een storm na die ander en die plek verspoel en verwaai omtrent. Oral staan daar damme water en lĂȘ daar bome langs die pad. Moeilik om te dink dat ons 'n paar weke terug lekker wyn en kaas geproe het in die son by Fairview of in Monkey Town rondgeloop het en gekyk het hoe 'n sjimpansee roomys op 'n warm dag eet of hoe koggelmanders op die klippe bak by Pringlebaai. 

Met ons aankoms daar het ons die trotse oom en tannie geword van 'n pragtige tweeling - wat 'n voorreg om hulle te ontmoet. Ons tyd het ons mooi verdeel tussen al ons familie daar, maar daar was nie veel tyd vir vriende of rondloop nie. Ons is natuurlik vreeslik bederf en dit was sommer vreemd om weer te moet kom kos maak hier. Ai, die kos in Suid-Afrika is darm maar net lekker. 

Een van die grootse lekkerstes van die vakansie vir my, was natuurlik om weer 'n bietjie tyd saam met my hond te spandeer. Met familie kan mens nog skype en kuier oor die internet, maar mens se hond verstaan die dinge nie so lekker nie. Ai, daai warm lyfie was darm maar lekker en sy was baie bly om ons te sien. Maar dit was swaar om haar weer te groet, soos dit maar swaar is om almal te groet wanneer dit weer tyd raak om terug te keer. 
Tuis geniet ons nou (hopelik) die einde van die Winter met Sondag stappies in die vars lug in Richmond Park. Die bokke is vollop en lekker om dop te hou. As dit reen en storm is dit misluk, maar as die son uit is op so 'n koue vars dag, is dit vir my een van die lekkerste lekkers hier. Met 'n onlangse uitstappie na die park was ek so lus vir van daai lekker kaas en kruie muffins by Woolworths, dat ek 'n resep aanlyn gesoek het. Ek het een gekry wat nou nie heeltemal dieselfde is nie, maar sommer baie lekker is in sy eie reg. 

Kruie Kaas Muffins
(Aangepas van 'n resep deur Carolyn Roberts)

Meng Saam:
1 1/2 koppies gewone meel
1 koppie sterk cheddar kaas
1/2 koppie verkrummelde feta
25ml bakpoeier
1/2 teelepel suiker
1/2 teelepel sout
1/2 teelepel soet paprika
1 teelepel gemengde kruie
4 sprietuie fyngesny (opsioneel)
1/4 koppie geroosterde dennepitte (opsioneel)

Klits Saam:
1 1/2 koppies melk
2 eiers

Meng alles saam, skep muffin pannetjies 2/3 vol en sprinkel met nog paprika (of rooipeper as jy braaf is) en bak vir 15-20 minute teen 200 grade. Heerlik!




2 comments:

  1. Ai, my doggie - ons verlang net soos julle selfs na so 'n bietjie engels koue want hier vandag is dit 36grade - 3 waaiers in kantoor en die water loop steed in my nek af. Luv

    ReplyDelete
  2. Altyd so moeilik om te dink dit is daar so warm terwyl ons hier so koud kry. Gelukkig lyk dit of dinge hier nou darm warm word, so ek hoop dit koel vir julle af.

    ReplyDelete