Thursday 31 August 2017

'n Indiese Ietsie Lekker

Die Engelse is mal oor Indiese kos - regte Indiese kos wat jou keel brand en jou oë laat water. Selfs in die kleinste ou dorpie, in die middel van nêrens, sal daar 'n Indiese wegneem plekkie wees. Ek is lief vir my Ma se bobotie, kerrie hoender en kerrie tjops, maar ek is nie oor die algemeen so lief vir Indiese kos nie. Ek hou nie van dinge wat te veel brand nie, my kerrie moet soet wees, en moet nie vir my iets probeer voer met koljander blare in nie. Ok ok, laat ek nou nie vergeet van samoesas nie - ek vrek oor 'n regte egte Kaapse samoesa, ek gee nie om hoeveel hy brand nie, hy moet net lekker kraak. Ek eet hulle eintlik agter die hoekies aan. Maar laat ek nou nie in vervoering raak oor samoesas nie - terug na Indiese kerrie...


Ek koop so nou en dan vir ons 'n wegneem Korma en ek maak so nou en dan vir ons Japanese kerrie of selfs Kambodja kerrie, maar ek het nog nie sover gekom om vir ons Indiese kerrie te maak nie. Jare terug toe ek en Mnr. Kaalvoet oor die waters kom bly het, en mekaar vir die eerste keer ontmoet het, het ons saam met ouens gewerk wat ernstig kerrie gemaak het. Hulle het gekyk hoe sterk hulle dit moontlik kon maak en dan gesit en sweet soos hulle eet, hulle oë rooi en vol trane. Selfs net die reuk daarvan was te veel vir my en ek dink daar het ek so bietjie skrikkerig geraak vir die Indiese kerries. Verder proe koljander blare vir my soos seep en wil mense hier koljander blare in al wat 'n kerrie is sit. So dreig my een buurvrou nou al sweerlik 'n jaar om ons te nooi vir kerrie. Ek wil graag kuier en glimlag vriendelik, maar sy weet ek is 'n bietjie skrikkerig daarvoor...kan ons nie maar net braai nie?! Ek bied aan om bobotie te bring, maar haar man kan dit nie verdra nie en hulle wil niks daarvan weet nie. Na sy dus belowe om die koljander blare uit te los, stem ons in om oor te kom. Ek word aangesê om maar net die poeding te verskaf - ek dink hulle is bietjie bang vir my kos. Ek weet natuurlik sy gaan haar nou weer oor 'n mik kook en ek kan nie net daar aankom met 'n poeding nie. So besluit ek om maar 'n paar Indiese voorgeregte saam te vat, want alhoewel ek nie so seker is van sterk kerries nie, het ek darm al geleer om 'n Bhaji te waardeer.

Alhowel 'n Bhaji uit byna enige groente gemaak kan word, word hier meestal net 'Onion Bhaji' bedien. Dis baie algemeen en kom in elke supermark voor en word bedien saam met alle Indiese disse. Gelukkig vir my is dit baie eenvoudig om te maak, solank jy die regte meel in die hande kan kry. Opsoek na die perfekte Bhaji resep en ietsie so buiten die gewone (ek wou nie maar net die gewone uie een maak nie en het op rooi uie besluit), kom ek toe ook af op 'n interessante resep vir 'n veselperkse en garnaal Pakora. Ek het alby vir ons gemaak en is mal daaroor.

Rooi Ui en Brandrissie Bhajis
aangepas vanaf BBC Good Food
  • 2 Rooi Uie
  • 100ml Koue Water
  • 100g Kekerertjie Meel (Gram Flour)
  • ½ teelepel Bakpoeier
  • 2 teelepels Kerrie Poeier (ek gebruik Pakco Roasted Masala -iets wat ek altyd in my tas laai wanneer ek by die huis kom kuier)
  • 1 teelepel Borrie
  • 1 Brandrissie
  • Sout
  • Genoeg olie vir diepbraai

Meng die meel, bakpoeier, kerrie poeier, borrie en sout saam. Voeg dan stadig die water by en meng goed totdat dit die digtheid van tandepasta bereik. Dit mag dalk nodig wees om 'n bietjie minder of meer water by te voeg. 

Sny een van die uie in klein stukkies en die ander in dun halfmaan repies en voeg by. Verwyder die pitte en kerf die rissie fyn. Ek het net 'n halwe rissie bygevoeg (wat  Mnr. Kaalvoet vir my gekerf het, want hulle laat my vingers brand). Dit hang maar af van hoe sterk jy daarvan hou en hoe sterk die rissies is. Besluit maar self hoeveel om in te sit - myne het net net byt gehad, maar ek dink meeste mense sal miskien van 'n bietjie meer brand hou en stel dus 'n hele rissie voor. Meng alles mooi en verhit genoeg olie in 'n pot om dit diep te braai. 

Ek toets maar altyd my olie se hitte deur druppeltjies deeg daarin te laat drup. Dan proe ek aan die gebraaide stukkies deeg om te sien of die resep nog sout nodig het. Ek het gevind dat byde die Bhajis en Pakoras nodag kan doen met sout. Braai eetlepels vol van die mengsel vir drie na vier minute op 'n slag in die olie. Die bolletjies kan dadelik geëet word, later herverhit word in die oond of selfs koud geëet word. 


Veselperkse en Garnaal Pakora
aangepas vanaf BBC Good Food
  • 140g Kekerertjie Meel (Gram Flour)
  • 100ml Water
  • 2 teelepels Kerrie Poeier
  • 1 teelepel Borrie
  • 2 Brandrissies (na smaak)
  • 1 Veselperkse (Mango) (vars of geblik)
  • 4 Groenuie
  • 200g garnale (verkieslik rou)
  • Sout
  • Genoeg olie vir diepbraai

Meng die meel, kerrie poeier, borrie en sout saam. Voeg dan stadig die water by en meng goed totdat dit die digtheid van tandepasta bereik. Dit mag dalk nodig wees om 'n bietjie minder of meer water by te voeg, veral as die veselperkse baie nat is.

Sny die res van die bestandele op en voeg by. Alhoewel die garnale verkieslik rou moet wees het ek gaar bevrore garnale gebruik wat ek net genoeg ontdooi het om in twee te breek. Hulle het perfek gewerk en was nie halfpad so duur soos die vars rou garnale nie. Ek het ook geblikte veselperkses gebruik, maar omdat hulle baie vogtig was, was ek maar spaarsamig met die water in die resep.

Braai groot eetlepels vol van die mengsel vir drie na vier minute op 'n slag tot diepbruin en gaar. Die bolletjies kan nes die Bhajis dadelik geëet word of later herverhit word in die oond of selfs koud geëet word.


Ons het heerlik saam met ons vriende gekuier en haar kerries was uitstekend. So lekker dat ek haar vir die resepte moes vra. Ek deel dit met graagte wanneer ek eers dit self uitgetoets het. Die volgende dag was ons see toe en die Bhajis en Pakoras was net so lekker koud, uit 'n kosblik. 


No comments:

Post a Comment