Sunday 22 January 2017

Naweek in Noord Wallis

Ek en Mnr. Kaalvoet hou daarvan om vir ons verjaarsdae die pad te vat en 'n bietjie van die huis af weg te kom. In Desember het ons vir Mnr. Kaalvoet se verjaarsdag 'n bietjie in die noorde van Wallis gaan kuier. Ons het tuisgegaan by Tyddyn Du B&B naby Llanrwst by 'n baie vriendelike gesin op 'n pragtige plaas.


Vir aandete het ons Betws-y-Coed toe gery en was gelukkig genoeg om 'n tafel by Olif te kry. Dis 'n gesellige 'tapas' styl restaurant waar hulle Walliese spesialiteite in klein porsies bedien. Ons het 'n verskydenheid klein disse bestel waarvan die wilde sampioene 'n ervaring was. Dit was so lekker dat ons die volgende aand weer daar wou eet, maar ons kon ongelukkig nie weer plek kry nie.


Die volgende oggend het die sneeu wit op die pieke van Snowdonia gelê en die omgewing was lieflik. Ander mense kan nooit verstaan hoekom ons so baie van Wallis hou nie, maar dis seker omdat die son omtrent altyd skyn wanneer ons daar is terwyl ander mense dit altyd as mislik ervaar. Soos gewoonlik het die son heerlik geskyn al was dit baie koud. Die wind het ook baie gewaai soos ons rondgery het deur die Snowdonia nasionale park.


Teen laat middag het ons by Harlech aangekom. 'n Pragtige sandstrand met 'n kasteel in die agtergrond. Hier het ek die water aangedurf en alhoewel dit bitter koud was, was dit ook onsettend mooi. Mnr. Kaalvoet het geduldig op die strand gewag met 'n handdoek en die vles vol warm sjokolade.


Daardie aand was daar 'n optog en vuurwerke in Betws-y-Coed en dit was lekker om in die koue so saam met die vriendelike mense gesellig te verkeer. Terug by die gastehuis het ons eers lekker met ons gasvrou gesels voor ons lekker knus geslaap het.

Die volgende dag het ons verder noord gery om The Great Orme en The Little Orme te gaan verken. By Little Orme aangekom, het ek gehoop om op 'n afgeleë strandjie te gaan swem maar daar het ons harde stemme iewers onder ons gehoor en het die water 'n bietjie rof gelyk. Skielik het ons besef dat die rotse op die strandjie gesigte het en die stemme wat ons hoor die van robbe is. Ons het vir 'n lang tyd daar in die sterk wind op die krans gestaan en afkyk op die robbe. Dit was half onwerklik. Die koeie het hul kalfies help swem in die water en die donker oë het ons agterdogtig dopgehou.


Ek kan die Great Orme tolroete beslis aanbeveel. Die roete is skilderagtig en ons was gelukkig genoeg om op 'n paar van die wilde Kasjmir bokke af te kom. Ons het plek plek gestop en net die uitsig bewonder en ons tyd gevat om die plek ten volle te waardeer.


Te gou was die naweek verby en moes ons weer in die pad val en huis se kant toe staan. Tot volgende keer - kan nie wag vir ons volgende avontuur in Wallis nie.

Sneeu in Zürich

Toe Mnr. Kaalvoet laas week in Zürich moes gaan werk het, het ons toe sommer 'n naweek daarvan gemaak. Soos die geluk dit wou hê, was Europa in die greep van 'n ysige kouefront en was ons gelukkig genoeg om lekker baie sneeu te beleef.

Met ons aanskoms daar was dit -13°C en alles wit gesneeu. Dit was heerlik koud en ons het soos drake stoom uit ons neuse geblaas. Alhoewel Mnr. Kaalvoet nie weet hoe ons tuimeldroër werk nie, het hy blitsvinnig uitgewerk hoe Zürich se publieke vervoer werk (wat vir my nou weer verbysterend was) en was ons in 'n japtrap oppad na ons hotel op een van die gerieflike tremme wat die hele stad rond rits.


Vir ons doeleindes was die 24h ZürichCard die beste waarde vir geld, veral omdat dit 'n rit na Uetliberg ingesluit het. Uetliberg is toe ook ons eerste bestemming na ons ons bagasie afgelaai het. Hoe hoër ons ry, hoe dieper raak die sneeu en hoe meer mense met klein kindertjies, honde en sleë klim op die trein. Bo gekom, klim almal af en verdwyn tussen die bomme in. Oral hoor jy kinders wat gil, honde wat blaf en die klank van die sleë wat teen 'n spoed die styltes af snel. 


Ons kies 'n stiller roete en besluit om net 'n rukkie teen die berg af te stap, en die trein weer te vang by die volgende stop, 'n entjie af teen die berg. Maar natuurlik dwaal ons effens af en alles is so mooi en voor ons onself kon kry het ons die hele berg afgestap tot heel onder. Wat 'n belewenis in al daai sneeu. Plek plek het ons lekker gegly en spiere het gewerk met die rem rem al teen die berg af. Ek was maar bitter bly dat ons reeds besluit het om die volgende dag by die spa te spandeer want my bobene was 'n bietjie ontevrede met my.

Ons het die stad platgestap, 'n middagslapie geneem en weer die stad getrotseer. Ons het geëet tot ons bars by Zeughauskeller, 'n tradisionele biersaal in 'n ou arsenaal stoor, en soos die dood geslaap in ons goedkoop hotel. As julle ooit by Zeughauskeller aanland, eet die apfelkuchen, dis een van die beste goed wat ek nog ooit geeet het.

Sondagoggend het ons gesorg dat ons teen openingstyd by die Zürich Thermalbad & Spa aanmeld. Daar het ons die 'Irish-Roman' spa paket gekoop, wat die geld werd was, want ons het byna ses ure daar spandeer. Een van die lekkerste dinge omtrent die Termalbad is die warm swembad bo-op die dak van die gebou wat uitkyk oor die stad. Met die sneeu en koue het die water so gestoom dat ons skaars die ander mense in die water kon sien. Ongelukkig mag mens natuurlik nie fotos daar neem nie, so ek het maar 'n paar fotos vanaf hulle webwerf geleën. Ek kan die plek beslis aanbeveel, veral as mens op 'n koue Sondag 'n bietjie bederf wil inkry.


Sondagaand het ons heerlik geëet by Restaurant Gertrudhof, waar hulle spesialiseer in alles cordon bleu en die chef persoonlik kom verneem of jy jou kos geniet. Hulle was baie vol en ons was gelukkig om 'n plekkie aan tafel te kry tussen twee ander paartjies. Ons het ons weereens vervreet en moes eers die kos gaan afstap in die stad, wat lieflik is in die aand.


Dit was maar net 'n vinnige naweek weg maar met die mooi natuurskoon van die berg, die bederf van die Spa en die opwinding van 'n sneeubedekte Europese stad, het die naweek veel langer gevoel en was dit beslis 'n goeie wegbreek.

Swem!

Ek is nie besonders goed daarmee nie, maar ek is mal oor swem - veral in die see. Elke jaar kan ek nie wag dat dit warm genoeg moet word om te gaan swem nie. Ek neem gewoonlik elke geleentheid wat ek kan om te swem, maar met die kort Somer en slegte weer, beteken dit dat ons maar net 'n paar keer 'n jaar in die see kan gaan swem. Verlede jaar was ek baie gelukkig om twee keer op vakansie te gaan in Suid-Afrika en alhoewel die mense daar gedink het dit was te koud om te swem, kon ek nie die water weerstaan nie.


Wanneer ek so lekker in Onrus swem, terwyl die Tannies met hulle truie sit en koffie drink en kyk, vra die mense my dan altyd, kry ek dan nie koud nie. Nee, ek geniet dit...en ek is goed geinsuleer. Dis toe dat ek dink, as die koue water my dan nou nie juis pla nie, hoekom hou ek enigsins op met swem gedurende die jaar in Engeland. Daar is dan mense in veel kouer lande wat gate maak in die ys om te swem, ek kan dan tog sweerlik 'n bietjie koue seewater trotseer. 


Met my terugkoms in Engeland het ek dus op die eerste sonnige herfsdag Mnr. Kaalvoet oortuig om my te vat om te gaan swem. Die water was pynlik koud. Ek kon binne sekondes nie meer my vingers of voete voel nie en my asem het gejaag soos ek moes stry om asem te haal, maar tog was dit vreemd lekker. Met die uitkoms was Mnr. Kaalvoet bekommerd omdat ek besonders pienk was. Ek kon maar net lag, die ondervinding was ongelooflik. Ek kon skielik nie wag om dit weer te doen nie.


Later, met 'n kort breuk in Noord Wallis, het ek daar ook die koue see aangedurf. Dit was die pragtigste dag en die koudste water waarin ek nog was, maar dit was heerlik. Die sand strand het wyd gestrek, die water was plat en helder, ek kon elke rimpeling van die sand onder die water sien. My asem het nie meer so erg gejaag nie, my sirkulasie was baie beter en die herstel vinniger.


Met Kersfees was ons na die Dorset kus, waar ek 'n redelike rowwe see aangedurf het, in 'n ysige wind. Ek kon skaars die koue voel. Na die tyd moes ek omtrent aan Mnr. Kaalvoet se arm hang, of die wind waai my om. Met Nuwe Jaar het ek in Kent gaan swem, waar die mans met hulle wetsuits brandeplank ry. My liggaam se reaksie tot die koue water is nou al heel goed, ek moet nou net meer stamina opbou. 


Die water temperatuur kan enige iets van 8°C tot 12°C wees terwyl dit relatief koud is buite, somtyds in die minuse met koue winde. Mense sal baie keer staan en kyk, fotos neem en selfs kom vrae vra. Ek bly net 'n paar minute in op 'n slag, maar dit is altyd die moeite werd. Oor die algemeen is ek die enigste persoon in die water, die seevoëls vlieg nie eens weg nie. Die koue en die inspanning neem ander gedagtes weg, al wat jy dink is, 'haal asem', 'het ek genoeg krag om terug te swem', 'is die branders te rof', 'is die gety te sterk', 'kan ek die bodem voel', 'is die pyn in my hande en voete al te veel', 'wat is daai donker skaduwee in die water'. Partykeer is die water plat en stil en die son skyn en is dit so bitter mooi dat jy vergeet jy kry koud en is bloot dankbaar dat jy die koue getrotseer het om dit te kan beleef en ander kere is die water rof, onstuimig en vuil en trek die see hard aan jou en dan is daar minder tyd om te geniet hoe mooi dit is, maar is daar 'n vreemde genot daarin om teen die see en die weer en die koue en jou eie liggaam te sukkel en te wen. 

Hoe meer gereeld mens dit doen, hoe meer kan jy dit doen, hoe langer kan jy uithou en hoe vinniger herstel jy. Dis belangrik om vinnig na die tyd droog en warm aan te trek. 'n Warm koppie tee of koffie help sommer baie om 'n mens op te kikker. Ek is dankbaar dat Mnr. Kaalvoet aanwal wag met 'n handdoek en 'n vles vol koffie. 
 

Sulke koue water swem is seker nie vir almal nie, maar ek geniet dit en vind dit lewens-bevestigend. Kan nie wag vir volgende keer!