Thursday 17 December 2015

Kerskrans

Al die ou Kersfees gebruike maak soveel sin hier in die Noordelike halfrond. Met die kort donker dae het mens 'n inherente behoefte om helder groen goed in die huis in te sleep, kerse aan te steek en liggies oral op te hang net om die dae en nagte so 'n bietjie op te kikker. Oral waar mens ry is mense se huise en tuine met liggies oortrek en hang daar kerskranse op die voordeure. 


Toe ek onlangs gaan stap het, het ek in 'n digte deel van die woud op 'n Holly bos afgekom wat nog 'n hele paar van sy rooi bessie op gehad het. Dit het my dadelik laat besluit om so gou moontlik terug te kom en lower te kom pluk om hierdie jaar my eie kerskrans vir my voordeur te maak.

Dus het ek 'n paar dae gelede die bosse ingevaar met 'n snoeisker, tuin handskoene en 'n stewige sak om my plunder in huistoe te dra. Dit was 'n heerlike uitstappe en ek was gou weer terug by die huis met verskeie stukkies plante om mee te werk.


Ek het begin deur drie baie lang Ivy slierte in 'n sirkel te vleg. Vandaar het ek lang slap denne en connifer takke ingevleg en later stukkies rooi bessies ingesteek. Plek plek het ek klein stukkies groen draad gebruik om seker te maak niks val uit nie. Laastens het ek dieselfde draad gebruik om 'n klein lussie agter in te maak, sodat ek die krans op 'n spyker, wat gelukkig reeds in my deur was, kon hang.


Na so bietjie terugstaan kon ek enige takkies wat te lank of onnet was wegknip om 'n mooi digte sirkel te maak. Ek kon natuurlik ook linte of liggies of selfs stokkies kaneel of gedroogte lemoene daarin gesit het, maar ek het nogal gehou van my ruwe kransie. Elke keer as ek dit sien, maak dit my sommer gelukkig en dit bring daai lekker denne geur by die huis in soos jy instap. Ek sal dit volgende jaar weer doen, ek is seker dit kan net mooier raak.

Friday 11 December 2015

September Vakansie

In September het ons 'n vinnige vakansie so oor en weer tussen Duitsland en Oostenryk se grens gehad, maar ek het nie geleentheid gehad om daaroor te skryf toe ons terug gekom het nie en toe later net nie daarby uit gekom nie. Vandag verlang ek sommer na 'n bietjie meer son en oopte en kyk toe weer deur my fotos. Dit was 'n baie lekker wegbreek en ons het in 'n klein tydjie sommer baie gesien.


Op ons aankoms het ons sommer net rondgery en 'n bietjie die omgewing bewonder en op ons eerste aand het ons oorgeslaap in Denggenhof Bed and Breakfast in Söll, Oostenryk. Die kamer was lekker groot en die verwelkoming, met 'n klein botteltjie wyn en sjokolades, was 'n lekker verrassing. Die beste van alles was die ongelooflike ontbyt. Ek het nog nooit so 'n groot verskeidenheid kase, brode, smere, konfyte en allerlei lekker dinge gesien op 'n Europese ontbyt tafel nie. Ek moes sommer twee keer eet en dit het omtrent gehou tot aandete toe. Met die Herfs het die mense hier 'n gebruik om oral Herfs ranskikkings uit te sit, met pragtige pampoene en die laaste blomme van die seisoen. So 'n mooi gebruik. Natuurlik blom die malfas en gesiggies oral in die bombakke en vertoon al te mooi teen die mooi hout huise.


Die volgende dag het ons die uitsigte vanaf Kehlsteinhaus (of te wel The Eagle's Nest) naby Berchtesgaden in Duitsland gaan bewonder. Meeste tekens van Hitler is gelukkig verwyder, sodat die plek darm nie dien as een of ander altaar tot hom nie, maar eerder net as 'n besondere plek om te besoek vir die mooi daarvan. Dit het my wel laat kriewelrig voel om te dink aan al die mag wat die man moes gehad het om so iets tot stand te bring, veral toe ek in die groot luukse koper huisbank op gegaan het na die huis. Die plek is 'n aangename toeriste aantreklikheid met 'n restaurant en daar was heelwat mense. Wat vir my oulik was, was hoeveel mense hulle honde saam gebring het. Aangesien mens met spesiale toerbusse moet opry soontoe (oor die 20 minute), is dit nogal snaaks om so saam met die honde, wat ewe soet sit, die rit aan te pak. Een baie klein chichaoua het ewe in sy eie spesiale rugsak, met uitkyk vensters gekom. Op die spits kon mens die arende sien draai en oral het daar Choughs ('n tipe kraai) tussen die mense sit en bedel vir kos. Die uitsigte was werklik iets besonders. Daar is selfs so 'n gaping tussen die rotse waardeur mens kan stap waar jy dan op 'n absolute afgrond afkom, met net 'n reeling wat jou terughou - dit het my nogal dronk laat voel.


Op ons tweede aand het ons in Schloss Münichau naby Kitzbühel in Oostenryk oorgeslaap - 'n regte kasteel! Dit was my tweede gunsteling verblyf van die vakansie en 'n werklike ondervinding. Ek dink die woord 'quirky' som dit die beste op met al sy opgestopte diere en wapens teen die mure. Die kamer het my laat voel of ons terug gegaan het in tyd met sy houtpaneel mure en plafon, skrefies vensters en outydse meubels en portrette. Die man wat ons by ontvangs gegroet het was perfek vir die plek - hy was baie aardig en amper onvriendelik en het ons met sulke dooie oë gegroet terwyl hy koddiglik onhulpvaardig was. Later die aand het ons hom met sy worshondjie sien rondloop. As jy hom gaan soek, is hy nie daar nie en nes jy omdraai om te loop, staan hy dan nog heeltyd stil stil agter jou - soos iets uit 'n slegte horror fliek. Mens kon jou seker vervies vir sy vreemde maniere, maar ek het gedink hy is kostelik! Die aand het ons by 'n naby geleë restaurant gaan eet, waar die mense ons selfs 'n skoot verniet gegee het aan die einde van ons ete. Een van die jong manne van die dorp, wat saam met sy vriende daar geëet het, het ook sommer besluit om 'n mooi stukkie musiek op die klawerbord te speel, wat baie gesellig was. Terug by die hotel het ek klaar gebad en in die bed geklim toe ek besef ek het nie meer my selfoon op my. Terug in die kar, jaag ons toe terug na die restaurant waar ek seker was ek het dit vergeet onder een van die tafel se reuse servette. Natuurlik het hulle dit vir my gehou - hoe wonderlik verligtend! Terug by die hotel besef ons toe ons is eintlik glad nie meer vaak. Dis toe so 'n mooi aand dat ons 'n bier bestel het (by die man wat so stilletjies verskyn het van nêrens) en buite op die tuinstoele rondom die swembad gaan lê en sterre kyk het. 


Na nog 'n lekker ontbyt het ons in die pad geval en 'n bietjie in Salzburg, Oostenryk gaan rondloop. Mozart se geboorte dorp, met sy ou barok geboue en uitsig oor die Alpe, is 'n heerlike plek om te gaan rond stap. Die winkels was wel baie duur en ons het dus maar met die oë gekoop. Ons het sommer worsbroodjies op die trappe van 'n lieflike katedraal vir middagete geëet en verder ons arme voete deurgestap.


Daardie aand het ons aan die oewer van die Danube in 'n vriendelike moderne gastehuis geslaap, die Frühstückpension Feiken. Die huis self was nie juis besonders, maar die uitsigte oor die Danube vanuit die ontbyt kamer was pragtig. Die Oom wat die huis bestuur was ook baie gaaf, maar het nie 'n woord Engels gepraat nie. Ons Duits is ook natuurlik niks wat wonders nie. Die huis, balkon en tuin was vol Clivias, een van my Ma se gunsteling plante, en ek was heel trots dat ek darm vir die man kon sê, "Meine Mutter liebe auch Clivien". 

Vandaar het ons vertrek om Passau, Duitsland, te gaan verken. Dis 'n pragtige dorp en staan ook bekend as die Dreiflüssestadt (die stad van drie riviere) omdat die Inn vanuit die Suide en die Ilz vanuit die Noorde, daar by die Danube aansluit.


Weereens was ons oorweldig deur die pragtige katedrale, barok argitektuur en die interessante winkels en strate. By die ingange van die stad het daar oral polisie rondgestaan om enige vlugtelinge wat daar opdaag, in te wag. Dit was nogal treffend om so die groepies mense te sien aanstap en oral die plakate te sien wat daardie mense se situasie so skerp in teenstelling geplaas het met ons wat bloot daar was vir vakansie. Ons het baie lekker geëet en rondgestap. Ons was natuurlik te laat om die bekroonde orelpype van die St Stephen's katedraal te hoor, maar dit was steeds 'n baie mooi plek om te besoek.

Daardie aand het ons by my gunsteling plek oorgebly - Tiny House neben den Pferden in Ohlstadt. Sy het nie haar eie webwerf nie, maar besprekings kan gedoen word deur Airbnb.


Die eienaar, Bettina, was sweerlik die vriendlikste, gelukkigste persoon wat ek nog ooit ontmoet het. En dit sê baie want ek het haar in die donker, in die reën ontmoet, waar sy langs die pad gestaan het om vir ons aan te dui waar ons moes afdraai om haar wegsteek hoekie van die aarde te vind. Sy woon daar gedurende die warm maande van die jaar op 'n stuk grond wat sy omskep het met weggooi goed in iets baie spesiaal. Hier hou sy haar perde aan en slaap in 'n skeepsvraghouer. Wanneer die weer koud raak, pas vriende haar perde op terwyl sy Australia toe gaan om daar te gaan werk en nog meer son te kry. Die verblyf daar is 'n klein karavaantjie wat sy self gebou het en bitter mooi en gemaklik uitgerig het. Die badkamer bestaan uit 'n kompos toilet in 'n houthokkie en 'n koue stort in 'n ander hokkie. Oral groei sy groente en haar kombuis is sommer net so onder 'n afdak. Die perde is nuuskierig en vriendelik en die hele plek het daai heerlike plaas reuk. Daar gekom het sy vriendelik gesels, selfs al was ons laat en het ons haar uit die bed gejaag om ons in die donker en reen te kom soek. Sy het vir Mnr. Kaalvoet 'n lekker bier in die hand gestop en die volgende oggend vir ons lekker koffie gemaak, alles verniet en gepaar met haar vriendelike warmte. Ek was lanklaas so afgunstig van wat iemand anders het. Gee my eerder haar skeepsvraghouer en oop leefstyl as 'n grênd huis.

Voor ons vlug die volgende dag het ons darm tyd gehad om op die lieflike Eibsee met 'n trapboot rond te vaar, na 'n lekker stoute ontbyt van warm sjokolade en koek.


Vandaar het ons besluit om te gaan kyk of dit moontlik is om vinnig deur die Partnach Gorge (Partnachklamm) naby Garmisch-Partenkirchen in Duitsland, te stap. Daargekom moes ons 'n hele ent stap om uit te vind dat by 'n sekere punt moet jy betaal om verder te gaan. Ons het nie genoeg kontant meer oorgehad nie en hulle het ook nie kaarte geneem nie. Nie ver daarvan was 'n klein kabel karretjie wat ook opgaan teen die berg en ons het toe gaan kyk of hulle nie dalk kaarte vat nie. Die gawe man wat daar gewerk het moes my seker baie jammer gekry het toe hy bevestig dat hulle ook nie kaarte vat nie, want hy het ons sommer toe verniet laat opry. Die kabelkarretjie was bitter klein en het heel onstellend rondgewieg soos hy die hoogtes ingestyg het. Ek gaan eerlik wees, dit het my sommer heel naar laat voel, al was dit baie mooi en baie opwindend.

Bo gekom het ons sommer vinnig verdwaal en kon glad nie aflei watter paatjies om te vat om weer teen die berg af te kom nie tot waar ons geparkeer het nie. Almal met wie ons gepraat het het teenstrydige advies gebied en so het ons begin bekommerd raak dat ons ons vlug sou mis en daar op die berg tussen die koeie gestrand sou bly. Natuurlik kon ons nie terug op die karretjie nie, want ons het nie 'n kaartjie om vir die man op die bopunt te wys nie. Gelukkig, na klomp 'Sprechen sie Englisch?' en verwysings na die 'Parkplatz' maak ek toe vinnig vriende met 'n baie gawe Duitse gesin wat ons toe sommer 'aangeneem' het. Saam met hulle het ons die berg af gestap en deur die gorge gegaan - wat asemrowend mooi was. Gelukkig het ek allerhande handige dinge gehad om in Duits te sê, soos 'wunderschön' en 'danke schön' en verwysings na 'wasserfälle'. Mnr. Kaalvoet het hom maar besig gehou met fotos neem terwyl ek praaitjies gemaak het. Onder gekom, was ons weer gestrand, maar die keer aan die verkeerde kant van die betaal punt, want sonder kaartjies kon ons nie weer uit nie en ons het steeds nie die geld om te betaal nie. Ons gawe 'aangenome' familie het ons sonder skroom uitgehelp en wou nie eens die geld wat ons wel gehad het geneem het nie. Ai, die goedheid van vreemdelinge. So het ons ons vlug gehaal en veilig weer die huis bereik.


Ek sal enige tyd die area aanbeveel, nie net is dit mooi nie, maar die kos was uit die boeke en die mense besonder vriendelik. Vakansie is darm maar lekker en dis veral lekker om so terug te kyk wanneer mens so bietjie in die huis vas sit gedurende die Winter.

Wednesday 9 December 2015

Gematigde Winter

Ons Winter was tot dusver baie gematig, dus nie juis koud nie, maar ongelukkig winderig en nat. Vanoggend het die son 'n slag geskyn en ek en die voëls was ewe ywerig om die meeste daarvan te maak.


Ek was gelukkig genoeg om 'n houtkapper raak te loop. Hulle is gewoonlik redelik moeilik om af te neem, want hulle het so 'n manier om heeltyd om die tak te skuifel sodat jy hulle net mooi nie kan sien nie. Hierdie een was 'n bietjie nuuskierig en het my dopgehou terwyl ek hom afgeneem het.


Oral is die eekhorings ook nog besig om kos te versamel. Ek is mal daaroor omhulle dop te hou. Hulle wil altyd weghol, maar dan raak hulle nuuskurig en kom kyk altyd wat ek maak terwyl ek so onder die bome rondstaan. As die sonnetjie so skyn vind ek hulle dikwels aan die slaap op 'n tak in die sonnetjie of lekker morsig aan die eet met vingertjies soms vol grond. 


Blue Tits is van my gunsteling voëltjies. Hulle is piepklein, pragtig en parmantig. Die in my tuin is vreeslik mak en sit gewoonlik bo die kosbakke en raas terwyl ek die kos uitsit. In die Lente woon hulle in pare, maar in die Winter kom hulle bymekaar en is dan oral saam bedrywig in die bome. Laas week het ek op twee afgekom wat so hard aan die baklei was dat hulle glad op die grond geval het. As ek wou sou ek hulle kon optel, want hulle was so behep met die geveg. Ek moes later my hande bo hulle klap sodat hulle uitmekaar uit spat en weg vlieg.


Vandag was ek baie gelukkig om ook op 'n Reebok (Roe Deer) af te kom. Hulle is inheems en taamlik volop in Engeland en Skotland, maar dit beteken nie mens sien hulle gereeld hier naby die huis nie. Ek was besig om met 'n paar koeie te gesels toe sy nuuskierig raak en haar kop hoog bo die grasse uitsteek om te sien wat aangaan. As sy wil kan sy taamlik maklik geruisloos tussen die droe gras verdwyn.


Ek is altyd so dankbaar vir 'n bietjie son, want die Winters dae kan so kort en mistroostig wees. Ek dink altyd jy moet maar die beste maak van elke bietjie lekker en is so gelukkig dat ek so 'n pragtige omgewing het.