Thursday 5 February 2015

Veldmuis Vriende

Onlangs was daar 'n bietjie van 'n onderbreking in die vreeslike koue weer en het ek weer 'n slag kans gesien om die gras te sny. Gelukkig groei die gras hier so stadig in die Winter dat mens dit glad nie gereeld hoef te sny nie. Soos ouder gewoonte gooi ek die varsgesnyde gras op die komposhoop wat ons bo-op die krimpvarkie huisie versamel. Ons weet nie werklik of hy daarbinne woon nie, maar ons het vir hom 'n huisie gebou om in te oorwinter, indien hy dit sou nodig kry. Deur die tuinvullis bo-oor te gooi, hou dit sy huisie warm en beskud. 


Saterdag het ons by die huis gebly, dit was baie koud en ons het niks nodig gehad by die winkels nie. So sit ons in die sitkamer toe Mnr. Kaalvoet 'n klein muisie bo-op die komposhoop gewaar. Hy was maar uiters sku en het rats verdwyn. Toe ek later uitgaan om vir die voƫls kos te gee, gooi ek toe maar 'n paar stukkies gebreekte grondboontjies daar waar ons die muis gesien het. Mnr. Kaalvoet sweer later hy sien die gras beweeg en die grondboontjies verdwyn, maar die muis self kan ons nie sien nie - die skelm is toe al die tyd besig om die kos in 'n gaaitjie in te trek. Gelukkig was die kos darm nie alles binne sy bereik nie en het hy dit weer buite gewaag om sy buit te bekom. Met ons kamera gereed, kon ons darm 'n paar fotos neem. Nou nie juis die beste gehalte so deur die agterdeur se ruit nie, maar mens kry darm die idee.


Ons reken dit is 'n Geelhals Bosmuis (Apodemus Flavicollis). Die rede hoekom ons hom in die middel van die winter aktief gevind het, is omdat hierdie spesie nie hiberneer nie. Dis wel vreemd om hulle in die dag te sien, want hulle is tog nagdiere, maar miskien was hy net baie honger. Soos baie ander diere dra hulle natuurlik siekties, maar ek is nie een om sulke dinge teen so 'n oulike diertjie te hou nie en is hy welkom om in my tuin te woon, so lank hy net nie in die huis in wil kom nie. Gelukkig is hulle nie bekend daarvoor dat hulle binne huise woon nie en lyk hy baie gelukkig daar op my komposhoop. Die krimpvarkie mag dus dalk nie daar woon nie, maar iemand anders het hulself wel tuis gemaak.



No comments:

Post a Comment