Friday 7 March 2014

RHS Wisley Wow!

Vandag het ek en Juan die dag afgevat om by RHS Wisley se 'Free Open Day' 'n draai te maak. Dit is een van Engeland se beste botaniese tuine en 'n belewenis. Wisley is in 1903 aan die Royal Horticultural Soceity geskenk en is 'n absolute pragtuin. Die Magnolias en Kamelias was in blom en die tuin het wonderlik soet geruik. 


Hulle het 'n uitstekende glashuis met die pragtigste orgidieë, kaktusse en tropiese plante. Op die oomblik het hulle selfs 'n gedeelte daarvan gebruik as 'n vlinderhuis. Ons moes omtrent toustaan om die vlinders te sien, maar hulle was pragtig en die tropiese afdeling waarin hulle gehuisves is, was soos iets uit 'n ander wêreld.


In die tuine self is die bolle aan die blom en het ons oral ons verwonder aan die pragtige daffodille en krokusse.


In groente tuine en vrugte boorde het ons baie interesante dinge gesien wat ons eendag self sal kan toepas in ons eie tuin. Die 'Alpine Display' was ook pragtig, met die aller pragtigste fyn berg plantjies - miniatuur wondere in hul eie reg.


Ons het omtrent ons voete deurgestap, en daar was so baie mense dat ons nie by een van die vele restaurantjies op die gronde 'n sitplek kon kry vir 'n bietjie lafenis nie, maar dit was dit werd om 'n lieflike vroeë lentedag in die vars lug en pragtige omgewing te kon deurbring.

Sunday 2 March 2014

Lente is hier!

Gister was dit die 1ste Maart en dus offisieel die begin van Lente hier by ons. Dit was 'n perfekte Britse Lente dag met hope koue vars lug en so 'n skewe flou sonnetjie en ons het die beste daarvan gemaak deur in een van ons nabygeleë parke te gaan rondstap. 


Oral het pragtige Lente blomme en bloeisels ons gegroet - dit verbly die hart en gee mens hoop dat die Winter tog maar altyd tot 'n einde moet kom. Die feit dat ons nog geen sneeu gehad het nie, het my effens bekommerd, want ek kan nie help om te voel dit moet tog kom nie, maar ons sal maar moet wag en sien. My eie daffodille blom nou baie mooi en ek het reeds 'n paar in die huis om ons hierbinne ook op te cheer. Groente groei is beslis my ding, maar ek dink tog ek moet maar eendag plek maak vir blomme groei ook wanneer ons die spasie het - hulle is net so vriendelik!


Die voëltjies was baie bedrywig en ons het vir die eerste keer 'n Goldcrest gesien, wat een van die kleinste voëltjies in Engeland is. 'n Paar hommelbye het ook tussen die heide geboer en ek het omtrent gesukkel om hulle af te neem terwyl hulle so bedrywig is. Nes hulle, het ons die sonnetjie en die koms van Lente en warmer dae sommer baie geniet.