Ek kom nie baie in London nie, en veral nie in die aand nie. Mens vergeet hoe mooi dit daar kan wees, veral in die maanlig op 'n vars November aand. 'n Vriendin het my Vrydagaand genooi na 'n voorlesing deur die gewilde skrywer, Marita van der Vyver, in die Nedbank kantore. Die gebou het 'n benybare posisie op die Teems, reg langs die Millennium Footbridge ('n voetbrug reg oor die Teems) en oorkant St. Paul's Cathedral. Ek het 'n bietjie verdwaal, maar met die pragtige stads liggies wat glinster in die waters van die groot rivier, kan mens nie te sleg voel om daar rond te wandel in die koue nie.
Die voorlesing was heerlik. Marita het 'n nuwe book geskryf oor haar ervaringe in Frankryk ('n Fontein voor ons deur) en ek sien uit om dit self te lees. Soos sy ook verduidelik, ons woon dalk nie almal in dieselfde 'verre land' nie, maar bevind ons wel in die vreemde, waar ons ervaringe in baie gevalle dieselfde is, omdat ons dit met ons Suid-Afrikaner lywe beleef. Hoe lekker om 'n bietjie in Afrikaans te kuier.
Op die rit terug op die trein, verwonder ek my soos altyd aan die mense om my. 'n Meisie sit in 'n hoek en praat heel rit kliphard met haar Ma oor die foon oor haar moeilike dag en al die frustrasies in haar lewe - dis al byna elf uur, ai die geduld van 'n Ma darem. 'n Middeljarige man vang die oog van die vrou wat oorkant hom sit en skraap sy moed bymekaar en skryf vir haar 'n nota op 'n stuk papier wat hy uit 'n boek uit skeur. Skaam skryf sy terug en so, voor my oë kan ek sien hoe twee vreemdelinge mekaar vind. Oorkant my sit twee jong seuns, oppad huistoe vanaf 'n nuwe werk. Hulle ken nog nie hulle kollegas se name nie, so moet hulle kleurvol beskryf...is sy die een met die sweterige hare? Nee, nie daai een nie, die een met die "scary" naels. O ja..daai een! Ek kan maar net lag, toe die een vir die ander met groot oë sê, "Jy weet, dis rerig moeilik, nie net moet ek al hierdie nuwe mense se name onthou nie, maar ook wat hulle doen en hoe hulle lyk." Welkom tot die grootmens lewe van werk, boet!
Op die platforms sien ek dronk mens skeef rond weef en ek wonder hoe hulle by die huis gaan kom. Jong meisies, oppad na partytjies, nes ek begin moeg word en wens vir my bed. Ou mense, terug van die teater, styf toegewoeg in groog jasse met warm serpe, wat steeds hande vashou soos hulle saam wag vir hulle trein.
Soos die trein deur die donker nag jaag, vang jy flitse van mense se lewens deur verligte vensters. 'n Woonstel verlig met kerse, 'n groep vriende wat lekker lag om 'n groot tafel. Kantore waar mense nog daai tyd van die nag hard sit en werk of dalk rondstaan met 'n glas wyn by 'n 'office party'. Of couples wat voor die TV op die rusbank lê en wyndrink. 'n Vrou wat woes, elf uur in die nag, stofsuig. Miljoene lewens, almal so styf saamgeprop, almal so hard aan die lewe, elkeen met hul eie storie.