Saturday 19 October 2013

Die lewe is maar onregverdig vir vlermuise

Laas week Donderdag het ek na werk vinnig by die winkels omgestap vir aandete en oppad terug, op die hoofstraat, met 'n sak kos, sien ek so tussen al die mense se voete en die wiele van die babastootwaentjies, 'n klein bruin dingetjie oor die grond sukkel. Vir 'n sekonde het ek dit afgemaak as 'n blaar, toe gedog dit is 'n brulpadda. Toe ek nader kom besef ek dat dit harig is, en omdat dit nie genoeg bene het om 'n tarantula te wees nie, moes ek weer dink...'n vlermuis. 

'n Klein vlermuis, helder oordag, in die middel van die hoofstraat, pynlik besig om homself aan sy vlerkies rond te sleep, desperaat om onder die mense se voete uit te kom. Dat niemand anders hom kon sien nie, kon ek nie glo nie. Ek kon hom ook nie daar los nie, iemand sou op hom trap of bo-oor hom ry met 'n stootwaentjie. En, as 'n vlermuis eers op die grond is, is dit vir hulle basies onmoontik om op te styg. Met die idee om hom nie te beseer nie en om ook nie self iets oor te kom nie (want vlermuise kan hondsdolheid dra) het ek hom toe op my serp laat klim. Dit het maar vreeslik gesukkel en terwyl ek besig is, kom daar toe twee jong profesionele mans uit die bookies ('n beroepswedders winkel). "Is that our bat?" vra hulle. Hulle lag hulle half simpel en vertel dat hulle die vlermuis in die betting shop gevind het en hom toe by die deur uitgeskop het. Sal hulle toe nou wragtig daar staan, soos twee skoolseuns, en my uitjou, "Look at the bat girl...no, I think it is a bat woman," lag hulle herhaaldelik. Hulle was seker dronk. Ek noem toe maar nie dat as jy 'n vlermuis versteur of beskadig, kan jy 'n £5,000 boete opdoen nie, en maak toe maar net dat ek en my vlermuis so vinnig as moontlik daar wegkom, terwyl hulle nog vir my lag. 

By die huis gekom het ek hom met my serp in die bad gaan sit, waar hy rustig geslaap het tot donker. Ek en Juan het 'n bietjie aanlyn opgelees en mens moet maar versigtig wees vir vlermuise. Die kans dat jy hondsdolheid opdoen is baie skraal, maar dis so 'n vreeslike siekte, dat jy nie kanse moet waag nie. Ons het gewag tot dit donker is en Juan het hom toe versigtig (met twee stelle handskoene) uit die serp gehaal en hom hoog in die lug gehou. Hy het sy klein neusie in die lug gesteek, en soos blits in die donker verdwyn. Ons was alby so bly dat ons hom kon help en so dankbaar dat hy niks oorgekom het nie.

Gisteroggend raak en vroeg wakker, trek die gordyne oop, en lê en kyk hoe die wolke verkleur soos die son opkom. Een van die bure se katte kom later op ons shed se dakkie sit. Ek klop aan die venster om hom te verwilder, maar hy is te besig om iets te bekyk om vir my te luister. Ek sien hoe hy oor die shed se dak met iets peuter en staan maar op om hom te gaan wegjaag. Daargekom, hol die kat vinnig weg, maar sien ek te laat die klein stil lyfie. My arme vlermuis! Om 'n hele week te oorleef na die voorval in die hoofstraat en dan nou hier te dood onder die poot van 'n nare kat. Sy dae was maar getel. 

Ek het nie self 'n goeie foto geneem nie, maar hier is 'n foto van dieselfde tipe vlermuis - 'n Brown Long-Eared Bat
Ek en Juan is maar bitter hartseer. Een ding is beslis, ons sal nooit katte aanhou nie.

Sunday 6 October 2013

Die herfs is op ons...so kom ons eet koek.

Waar gaan die tyd so vinnig met ons heen? Voel of dit net eergister Augustus was, maar in September het die dag en nag ewening gekom en gegaan en die dae raak nou net korter. Oktober is hier en met dit, die herfs. Oral lê appels en pere onder die bome en bruin word, die aande is al vroeg donker en die oggende baie fris. 

My tuintjie is nou stadig besig om die laaste van sy oes op te lewer en dit is nog net die bete wat daar staan en uithou en 'n paar verlore aarbeie wat nog so nou en dan kop uitsteek. Miskien kruip daar ook nog 'n wortel of twee weg. Ek het hierdie jaar so baie geleer in my tuin en kan nie wag vir die nuwe jaar om nuwe dinge uit te probeer nie, maar so wens mens die lewe om. 

In herfs wil ek altyd begin regmaak vir Winter. Ek wil skoonmaak en kosmaak en dinge vries, die kaste vol dinge laai, in die vae hoop dat ek in die koue wat nog voorlê, so veel tyd moontlik onder my duvet kan deurbring. As ek nou fluks is, kan ek lekker lui wees later... Nee, dinge is nooit so maklik nie.

Een ding waarmee ons ons wel die Winter sal bederf, is hierdie heerlike warm sjokolade koek, wat ek gister ontdek het. Dit is gluteenvry en gebruik olyfolie eerder as botter. Dis nou nie 'n sponskoek soos mens aan gewoond is nie, eerder 'n lekker poeding van 'n koek. 


Gluteenvrye Sjokolade Koek / Sjokolade Olyfolie Koek
(aangepas van 'n resep deur Nigella Lawson)

50g Kakaopoeier (gesif)
125ml Kookwater
2 Eetlepels Vanieljegeursel
'n Halwe Teelepel Koffiepoeier (opsioneel)

150g Gemaalde Amandels (Amandelmeel)
'n Halwe Teelepel Koeksoda
'n Knippie Sout

3 Groot Eiers
200g Sagte Bruinsuiker of Strooisuiker
150ml Olyfolie

Voorverhit die oond teen 170 grade en smeer 'n 20/23cm losboom koekpan met olyfolie en voer die uit met bakpapier.

Klits die kakaopoeier en kookwater saam tot glad en voeg dan die vanieljegeursel en koffie by. Laat staan dit eenkant om effens af te koel.

Meng die amandelmeel, koeksoda en sout in 'n ander bakkie en hou eenkant.

Klits die eiers, suiker en olyfolie vir drie minute saam - gebruik 'n elektriese klitser as jy een het. Voeg dan stadig, en teen 'n lae spoed, die sjokolade mengsel by. Vou heel laaste die meelmengsel met 'n lepel of spatel in. Gooi dit in die pan en bak vir 40 tot 45 minute.

Laat staan vir 10 minute om effens af te koel in die pan en skraap dan al langs die kant met 'n dun spatel. Verwyder uit die pan. Bedien die koek warm met lekker roomys. 

Ek het die koek gisteraand na vriende geneem vir 'n ete en daar het maar min terug gekom...verskoon dus die halwe koek foto.