Saturday, 31 August 2013

Otter Genot!

Vroeër die week, as 'n verdere verjaarsdag uitstappie, het Juan my na die New Forest Wildlife Park geneem. Wat 'n belewenis! Ons was daar toe die hekke oopgemaak het in die oggend, en ek kan nie presies onthou hoeveel keer ons deur die park gestap het nie, maar ons het 'n hele paar ure daar spandeer.

Daar was nie net otters en uile nie, maar pragtige skoenlappers, krimpvarkies, veldmuise, wilde katte, bokke, bisons en wie weet wat nog alles. Daar was selfs 'n pragtige wit wallaby, 'n kleiner weergawe van die kangaroe, wat rustig in die son gelê en dut het. Meeste van die bokke loop vry in die park rond en lê doodstil as jy aan hulle wil gaan vat - hulle het vreeslik geduld gehad met die kinders, wat baie oulik was om te sien. 


Die otters was beslis die hoogtepunt van ons uitstappie met hulle water mannewales en skril krete. Die park het 4 verskillende tipes otters - nie net het ons sommer baie van die inheemse Eurasiese otters gesien nie, maar ook die bedreigde Reuse Otters van Suid-Amerika. Ek dink die Reuse Otters was my heel gunsteling - hulle was so spelerig en liefdevol met mekaar - ek kon myself skaars kry om aan te beweeg. Hulle het vreeslik kos gebedel by die opsigters, ewe met hulle handjies so in die lug. Na middagete het hulle 'n slapie probeer vang, maar elk wil die ander een as 'n kussing gebruik en so het hulle al in die rondte gegaan en probeer gemaklik raak op die ander een se boude - te oulik!


Ons het ook baie tyd in die Skoenlapper area spandeer. Dit was klein, maar daar was 'n hele paar mooi skoenlappers en motte om te sien. Ek en Juan het omtrent ons lywe fotograaf gehou - kon onsself net nie keer nie, hulle was net so mooi! Onder andere was daar hierdie reuse helderblou skoenlappers wat teen 'n vreeslike spoed deur die hok gejaag het. Probeer soos ons wou, ons kon nie 'n foto van een kry nie, maar hulle was asemrowend.


Die park het ook 'n paar wolwe, maar ons kon hulle glad nie gewaar nie, al het die opsigters groot sakke vol vleis vir hulle uitgesit. Net so ook met die Lynx. Party van die mense het gespot en gesê die park jok en dat die hokke leeg is, maar die tekens was daar en mens moet verstaan dat sulke diere hulle eie roetines het, wat nie daarop gemik is om jou te vermaak nie. Die was wel lekker om te sien dat hulle sulke reuse areas gehad het om in vry rond te hardloop, met klomp skuilplekke, watergate en klimrame - niks soos die aaklige dieretuine waar die arme goed in klein hokkies moet leef nie. Die bosvarke het ons wel gesien en ek dink ons is die enigste mense wat die vreeslike skaam krimpvarkie en die uiters goed gekamoefleerde waterrot (wat ook 'n bedreigde spesie is) gesien het.

Uit en uit 'n uitstekende uitstappie!

Monday, 26 August 2013

Lekker Verjaar!

Ai ek word darm maar elke jaar vreeslik bederf deur my man op my verjaarsdag. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Saterdagoggend het ons in die pad geval, en dit was nie voor ek die pers bossies langs die pad herken het, dat ek geweet het ons gaan 'n draai gooi in die New Forest nie.


Een persoon wat nie bewus was van die feit dat dit my verjaarsdag was nie, is 'n wilde ponie wat ons by 'n stopplek in die woud raak geloop het. Ek en Juan het nog so ewe sit en padkos eet, toe steek die gedierte sy stinkasem mond deur die ruit en bedel eetgoed. Ek is van die veronderstelling dat ponies nie moet chips eet nie, so toe draai ons maar vining die ruit toe en probeer die ponie se kop uitstoot. Die ponie is toe heel ontevrede en nies toe kliphard 'n bol groen slym in my gesig. Sies, wat 'n gemors en die arme ruite moes ons omtrent was om skoon te kry. Gelukkig het ons wetwipes en oogdruppels byderhand gehad en het ek niks oorgekom van die snot-doop nie. Wel, ek kan seker nie die ponie kwalik neem nie, ek sal ook vies wees as iemand nie hulle chips met my wil deel nie. 


Ons het Saterdag die woud platgery en ook 'n draai in Bournemouth gaan gooi. Die dag het ons afgesluit met 'n baie mooi sonsondergang in die woud. 

Ete was 'n belewenis by die Day's Restaurant in Bournemouth - www.daysrestaurant.com/our-branches/bournemouth. Ek het nog nooit so iets gesien nie - vir middagete bedien hulle 'n 150 disse en oor aandete bedien hulle mer as 250 disse. Daar is stapels en stapels kos, sjokelade fonteine, berge poeding en hordes mense. Ek het nie 'n foto van die restaurant geneem nie, maar as jy hou van baie eet en baie verskeidenheid, dan sal ek die plek aanbeveel. 

Ons slaapplek by Petherton Cottage (www.pethertoncottagebandb.co.uk/) was ook baie lekker en gesellig. Die perfekte middelpunt om die area vanaf te verken. Sondagoggend kon ek uiteindelik die geskenke oopmaak wat nou al weke vir my staan en loer - en kyk net die lekker dinge wat ek gekry het - mens kan sien my man en ouers ken my goed. My Ma het vir 'n my 'n pragtige paar handskoentjies al die pad vanaf die huis gestuur en toe ek uiteindelik ophou tjank het daaroor, kon ek die oulike boeke bekyk wat Juan vir my gekoop het. Nou het ek genoeg inspirasie om my 'n leeftyd te hou en ek kan nie wag tot ons eendag al hierdie lekker dinge kan uitprobeer nie. 


Ek vertel weer 'n volgende keer van die res van ons uitstappie - ons het 'n wildpark besoek en ek het so baie fotos geneem, dit gaan my 'n eeu vat om deur hulle almal te werk.

Sunday, 18 August 2013

Nog groente...


Vandag het ons by 'n paar plaaslike plaaswinkels gestop en die heerlikste vars en organiese groente, vrugte en brood gekoop. Dit is merkwaardig hoeveel ekstra mense hier sal betaal vir vars, plaaslik vervaardigde dinge. In die normale winkels is dit sommer baie duur, maar as mens so by die padstalletjies omgaan, kan jy darm nog dinge vir 'n redelik prys kry en sommer ook sien waar dit gegroei word. As mens eers leer hoe vrugte, groente, brood en vleis hier, in die "eerste" wereld, vervaardig word, raak dit skielik vir mens baie meer belangrik om dinge te koop wat jy weet gaan goed wees vir jou of dit sommer self te maak of te groei. 

Ek is rerig dankbaar dat ons darm 'n bietjie spasie het om 'n paar dinge vir onsself te kan groei. En as jy eers jou eie 'homegrown' tamaties en mielies geëet het, is die winkel goed skielik glad nie meer so smaaklik nie. Ons was hierdie jaar baie gelukkig met ons tamatie oes. Die twee plante wat ons het dra swaar en ons kan nou elke dag 'n hele hand vol pluk - bloed rooi en stroopsoet. Ons gunsteling manier om hulle te eet is om hulle te rooster in die oond met olyfolie en vars basilie uit die tuin uit. Vanoggend het Juan ook vir my die heerlikste omelette gemaak met vars tamaties, spinasie, basilie en kaas. Ek moet net keer of ons sal hulle soos lekkergoed van die bos af eet, so soet is hulle.


Ons klein wit komkommertjies was vir ons nogal 'n lekker verrassing. Ek het hulle geplant met die idee om hulle sommer net te versap, want komkommersap is propvol baie gesonde dinge, maar hulle is so soet en verfrissend om te eet, dat ek bly is hy dra so goed. Hulle lyk miskien nie vreeslik mooi nie, en is lekker stekelrig, maar hulle proe tog te lekker. 

My bete is reuse en ons het hierdie jaar meer as wat ek dink ons ooit kan eet. Ons het van hulle nou al gerooster met heuning en tiemie en van hulle versap en glase vol bloedrooi beetsap gedrink. Dit is ook baie lekker om hulle te braai saam met uie, balsamiese asyn, seesout en suiker todat dit 'n dik "relish" maak. Bedien saam met tuisgemaakte worsrolletjies is dit so lekker, jy sal jou eie vingers wil afeet. 

My mielies het nie so goed gevaar nie, maar dit was darm my eerste probeerslag - ek dink mens moet hulle in groter blokke kan plant sodat hulle 'n beter kans staan om bevrug te word. Maar ons het darm sover een geëet gekry en dit was die beste mielie wat ek ooit geëet het. Sommer net vinnig gestoom en bedien met botter. Wat kan nou lekkerder wees? Ons gaan beslis in die toekoms probeer om hulle beter te groei. 

Waar ek gedink het my boontjies was klaar gegroei, het hulle nou wraggies weer begin blom en hang daar nou weer 'n hele groot hand vol pragtige boontjies. Vandag maak ek vir ons lekker varkrol, gerooster in die oond, en ek sal die boontjies bedien saam met 'n paar baba aartappeltjies. 

Ons aarbeie het ook nou weer te voorskyn gekom, maar hulle is net genoeg om jou lus te maak vir meer. Gelukkig kan mens nog plaaslik lekker varsgeplukte aarbeie koop om daarvoor op te maak. Vandag het ons twee groot houertjies vol gekoop en dit versap om lekker vars aarbei sap te maak. Ek het probeer om aarbei vrugterol te maak met die pulp, maar ek dink die waspapier was nie waspaper genoeg nie. Ek sal volgende keer van beter weet.

Ons baba spanspekkies kom ook nou mooi aan en ek is seker ons gaan binnekort ten minste twee hê om te eet. Ek glo hulle gaan net so lekker wees soos al die ander goed wat ons hierdie jaar gegroei het. Wat 'n bevredigende stokperdjie - ek is so dankbaar dat ek toevallig in groente groei in geval het en en is seker dat dit elke jaar net beter en beter kan gaan.

Saturday, 10 August 2013

Needle Felting - Naald Vervelting

By my vorige werk, het sekere mense my daar so vervies dat ek die uiters bevredingende stokperdjie van Needle Felting (blykbaar Naald Vervelting in Afrikaans) opgeneem het. Needle Felting verwys na die kuns om 2D/3D voorverwerpe to maak deur gekamde wol herhaaldelik met ‘n spesiale gegroefde naald te steek totdat die wol gekompakteerd word in enige vorm waaraan jy kan dink. Dit is uiters bevredegend om die wol bolletjies so herhaaldelik te steek met die naald - veral as jou baas jou die dag die joos in gemaak het. En dit is ‘n lekker ding om jou mee besig te hou terwyl jy televisie kyk op lang winters aande. Wees maar net versigtig dat jou vingers nie in die slag bly nie, want daai naalde is uiters skerp. 




Dit is nie juis ‘n baie nuttige kunsvorm nie – die mees bruikbaarste goed wat ek tot dusver gemaak het, was kersversierings – maar ek geniet dit baie. Verder het ek ‘n klein hondjie gemaak, wat veronderstel is om soos Cara telyk (en wat by die werk op my lessenaar vir my sit en kyk) en ek het ook al ‘n paar ander diertjies gemaak, wat die huis rondstaan. My gunsteling skeppings tot dusver is ‘n hoop kleurvolle pampoene wat ek vir Halloween gemaak het. Baie mense maak ook juweliersware daarvan, maar eintlik doen mens dit maar net vir die pret. Die reuk en tekstuur van die wol is ook baie bevredigend en maklik om mee te werk – selfs al is jy nie juis baie kunstig nie.
 

Deesdae het ek maar min dinge wat my bloeddruk opjaag, maar ek hou steeds daarvan om so nou en dan al my pragtige gekleurde wolle uit te haal en iets te skep. Laas naweek was ek geinspireer deur al die pragtige skoenlappers wat in ons tuin rondspeel. Hulle is so vinnig dat ek en Juan skaars ‘n foto van een kon neem. Ek het Saterdag my tamaties opgebind sodat Juan die gras onder hulle kon sny en toe besluit ek om ‘n paar skoenlappertjies te maak om die bruin goingdraad te versier. Hulle is sommer net prettig en niks spesiaals nie, maar sit tog ‘n glimlag op mens se gesig as mens hul so sien rondwapper op die draad. Ek mag dalk nog ‘n paar moet maak, waarmee ek meer moeite sal doen.


 
As jy belanstel om Needle Felting te probeer, is daar hope goeie tutoriale op die internet – jy moet net die wol en die naald in die hande kry om mee te begin. Ek is nog ‘n absolute beginner so my werk is nou nie rerig ‘n goeie aanduiding van die pragtige goed wat jy kan maak nie, so gaan loer gerus na ‘n paar websites wat wys hoe dit gedoen word.

Hier is bevoorbeeld my voorstelling van Cara – rerig oulik vir my en ek het probeer om haar kolle getrou na te doen, maar steeds lyk dit meer soos ‘n tekenprent hondjie. Party mense is so goed, dat jy amper kan dink dit is ‘n regte hond.