Vir Valentynsdag het Mnr. Kaalvoet my in die kar geprop en verras met 'n uitstappie na Avebury in Wiltshire, een van my gunsteling dorpies hier in Engeland. Dis 'n uistappie wat ek aan enige een sal aanbeveel en 'n plek wat ons al menigte male plat gestap het. Ek dink nie mens kan verhelp om iets te voel as mens daar is nie, daar is werklik iets magies daaraan.
Die weer was heerlik mistroostig, wat op 'n vreemde manier nogal stryk met die gemoed van die ruwe klippe, die kaal bome en die duinende groen heuwels. Te danke aan die relatiewe slegte weer, was daar ook nie veel ander mense nie, wat dit net nog meer spesiaal gemaak het.
In die 3de millenium VC het neolitiese mense hierdie projek oor 'n paar honderd jaar aangepak, die oorspronklike doel daarvan nou verlore vir ons in tyd, maar dit moes vir hulle baie belangrik gewees het om soveel tyd en energie daaraan af te staan. Kenners reken dat dit van seremoniële en rituele belang was en vandag steeds word dit deur moderne Pagane gebruik om feeste en huwelike te vier.
Een jaar was ons net bestyds om te sien hoe 'n huweliks paartjie oor die besem spring terwyl mense, kinders en honde, almal met blomme kransies, juig en rondom hulle dans. Dit was baie roerend.
Vandag staan die dorpie sommer so tussen die klippe en die uitgrawings. Destyds het mense hulle nie veel daaraan gesteur om die plek te bewaar en is die plek vir geloofsrede selfs erg beskadig. Dis jammer dat mense in die verlede die sirkels probeer afbreek het en selfs van die klippe weg gedra het en begrawe het, maar gelukkig word hulle nou mooi opgepas en word dit beskerm vir die toekoms as 'n UNESCO wêreld erfenis gebied.
As die son skyn sal ons weer gaan. Hierdie keer was daar net 'n paar nat kraaie tussen die klippe, maar in die Somer is daar gewoonlik skape, die bome staan vol en groen en skielik is die hele atmosfeer van die plek iets heeltemal anders.
No comments:
Post a Comment