Tuesday, 23 August 2016

Windverwaaid in Wyke Regis

Met ons bure wat alewig soos skoorstene rook, kan ons omtrent nie 'n venster oopmaak, sonder dat alles nie na sigarette stink nie. Dus, ten spyte van kommerwekkende weervoorspellings oor erge winde, het ons besluit om maar ons tentjie te pak en te gaan kamp, eerder as om hier rond te sit en te verstik.

Mnr Kaalvoet het vir ons 'n kampplekkie bespreek in Wyke Regis aan Dorset se Jurassic Coast Wêrelderfenisgebied tussen Weymouth en Portland. Martleaves Farm Campsite is geleë op 34 akkers pragtige platteland en is 'n terrein van spesiale wetenskaplike belang met lieflike uitsigte, goeie geriewe, nuuskierige seemeeue, windverwaaide perde en mistroostige alpakkas.


Na werk het ons eers gewik en geweeg of ons werklik die weer moet trotseer en was dus 'n bietjie laat met die wegval. Gelukkig het ons wonderbaarlik net betyds daar aangekom om die tent op te kry voor dit hard begin reen het. Die eienaar was rerig gaaf en het vir ons aan die lykant van 'n skaapskerm 'n plekkie uitgewys wat ons tot 'n mate beskerm het van die stormsterkte winde wat vanaf die see ingewaai het. Ons het selfs nog kans gekry om 'n steak te braai, maar hoe Mnr Kaalvoet daai kole aan die brand gekry het, in daai ongelooflike wind, sal ek nooit weet nie. Ek dink hy het hulle dalk aan die brand geswets so tussen deur toue en tentpenne vasslaan. Ons was bitter dankbaar vir die lekker tentpenne wat ons mense uit Suid-Afrika vir ons 'n tyd terug saamgebring het. Die storm het daai nag sy beste gedoen, en daai tent het gewoel asof hy by 'n rave is, maar daai penne het nie beweeg nie.


Die volgende oggend het ek deur die kamp gestap om te kyk hoe die res van die mense gevorder het. In een veld was 'n tent heeltemal plat, met 'n dam water in en pale wat soos geraamtes in alle rigtings staan, geen mens in sig. Ander tente het gebuigte pale gehad, party was heel skeef en ingeduik. Die wind het steeds sterk gewaai en party mense het dapper probeer om hulle tente af te slaan om te red wat daar te redde is terwyl ander weer toue aan hulle motors vasgemaak het om hulle tente beter te anker. 'n Hele paar mense het ons nogal aafgunstig aangekyk daar langs die skaapskerm. Ons het ons kar punt in die wind parkeer en agter in die kattebak ons gasstofie aan die gang gekry vir ontbyt en koffie en die vars lug en fris wind geniet.  

Die middag het ons bietjie gaan rondry om Portland te verken. Die wind het steeds sterk gewaai, maar die son het geskyn. Die wind- en kitesurfers was bedrywig en die seevoëls het oral gewigloos op die winde gehang. My hare was teen die tyd 'n verlore saak en het maar in 'n koek agter my aangestroom soos ons die strande en kalksteen kranse van Portland verken het. Die wind het die seesproei in 'n waas teen die kranse uitgejaag terwyl die lang grasse lieflik in die wind gedans het.


Terug by die kamp het nuwe mense byna op ons kom opslaan en nog 'n stel mense het dig teen ons tent aan die anderkant kom parkeer om hulle tent daar op te slaan. In normale omstandighede sou dit gans te naby gewees het, veral omdat daar so baie plek was, maar hulle het natuurlik net kom skuiling soek teen die wind. Ons het maar ons vuurtjie aangesteek, weereens baie vernuftig van Mnr Kaalvoet, en lekker skaapribs en braaibroodjies gebraai terwyl ons kyk hoe hulle werkskaf in die wind hier op ons voorstoep. Ek weet nie wat die ander kampeerders geëet het nie, want ons was die enigste mense wat ek die naweek ooit sien kos maak het. Ons kon maar net lag toe die buur skimp of daar genoeg vir hulle ook is.

Saterdagaand het die wind en weer weer 'n keer sy beste probeer, maar ons tentjie het bly staan. Die volgende oggend het die nuwe kampeers maar oes gelyk met die dames wat in die badkamers kla oor hoe sleg hulle in die storm geslaap het. Ek het weer in teendeel gevoel, hoe harder die storm gewoed het, hoe lekkerder het ek knus in my bedjie geslaap. Na 'n lekker ontbyt, weereens uit die kattebak, het ons vinnig opgeslaan en ingelaai en stadig ons pad huistoe gemaak. 


Sondag was lieflik en nie meer so bitter winderig nie.  Ons het weer 'n bietjie in Portland gaan rondstap op die kranse waar daar soveel mooi klein dingetjies was om te sien in 'n landskap wat maar dor en vaal voorkom met al die Portland stone rotse wat die wêreld vol lê asof trolle daar oorlog gevoer het. Ons het akkedissies, klein slakdoppies en blou vlinders afgeneem en onsself baie geniet.

Die weer het dit 'n bietjie moeilik en onaangenaam gemaak om die plek behoorlik te verken en ons kan nie wag om weer daar te gaan kamp sodat ons dit selfs meer kan geniet nie.

Monday, 15 August 2016

Skone Skoenlappers

Hierdie Lente en Somer het ek my nogal ingespan om insekte van nader af te neem. Ten spyte van my liefde vir fotografie, het ek geen benul van die tegniese aspek daarvan nie en is my fotos maar 'n kombinasie van geluk en kunssinnigheid.
  

Party insekte is baie behulpsaam en sit mooi stil terwyl ek probeer om hulle in fokus te bring, maar meeste van hulle is al te bedrywig en wil niks weet van 'pose' vir 'n foto nie. Buiten naaldekokers, is skoenlappers seker die moeilikste. Hulle kan net nie stilsit nie en wanneer hulle doen, is dit baie moeilik om hulle te bekruip sonder om hulle weg te skrik. Dan, as hulle wel stilsit, is hulle geneig om hul vlerke toe te vou, om sodoende jou foto te ruineer. Dus het ek nogal baie tyd spandeer om soos 'n simpel dinge in die velde rond te sluip en agter vlinders aan te hardloop. Gelukkig geniet ek dit verskriklik!

Ringlet (Aphantopus Hyperantus)


Hierdie skoenlapper is baie algemeen en een van die eerste wat ek hierdie jaar gesien het. Op die oogaf is hy bloot vaal en bruin maar tog so delikaat en sag, 'n subtiele skoonheid. Ringlets kry hulle naam nie van die standaard klein ogies bo-op hulle vlerke nie, maar eerder die ogies wat jy aan die onderkant van die vlerke vind, wat kan wissel in aantal, vorm en grootte. 


Marbled White (Melanargia Galathea)


Die Marbled White is 'n pragtige skoenlapper, uniek in terme van sy kleur en vlerkpatroon. Allhoewel hulle redelik volop is in my omgewing het ek omtrent gesukkel om hulle af te neem, maar die was die moeite werd want hulle maak pragtige fotos. Ek het veral gehou van die onderkant van hulle vlerke, wat vir my baie mooi is.
 

Comma (Polygonia c-album)


Die Comma skoenlapper het 'n bedrieglike vervelige naam vir so 'n pragtige insek. Sy vlerke is 'n lieflike diep oranje met lieflike gerifelde rante. Dit is 'n redelike algemene skoenlapper met 'n voorliefde vir brandnetel. Wanneer sy vlerke toegaan, is die onderkante bruin en lyk hy byna soos 'n ou dooie blaar.


Brimstone (Goneptyrex Rhamni)


Sy kenmerkende vorm en die opvallende are op sy vlerke, maak van die Brimstone 'n besondere mooi skoenlapper. Hierdie skoenlappers het een van die langste lewens en hiberneer deur die Winter om weer vroeg in die Lente op warm dae te voorskyn te kom.


Red Admiral (Vanessa Atalanta)


Hierdie is 'n besondere geharde skoenlapper en migreer vanaf Europa na Brittanje en kan selfs tot in Desember nog gevind word wanneer alle ander skoenlappers reeds die gees gegee het. Hulle is baie opvallend en het pragtige herlder kleure. Ek sukkel my gewoonlik dood om hulle af te neem, want as hulle jou gewaar, vlieg hulle sommer baie vinnig, baie ver weg. Ek dink die 'Admiraal' doen sy naam gestand.

Small Tortoiseshell (Aglais Urticae)


Hierdie pragtige skoenlapper kan lekker vinnig vlieg maar kan maklik afgeneem word as hy eers besig is om te eet. Met sy helder kleure is hy maklik uitkenbaar en is een van die mees algemeenste skoenlappers in Brittanje alhoewel hulle getalle op die oomblik aan die daal is. Ongelukkig is daar een of ander afskuwelike uitheemse vlieg wat se larwes op die larwe van hierdie skoenlapper teer en dus sy getalle 'n knou gee.

Peacock (Inachis Io)


Ek los my gunsteling vir laaste. Wat 'n gepaste naam vir hierdie ongelooflike mooi skoenlapper. Nie net is hulle pragtig nie, maar gewoonlik as jy gelukkig is om op een af te kom, is hulle so besig om te eet dat hulle nie eens weet dat jy daar is nie. Ek het dus honderde fotos van hierdie pragtige skoenlapper. Wanneer die skoenlapper se vlerke toe is, is dit byna pik swart en maak dit dus die skoenlapper byna onsigbaar. Met die groot oë op sy vlerke word selfs groot voëls afgeskrik en boonop kan hierdie skoenlapper 'n skreinende klank maak deur sy voorvlerke saam te skuur wat meeste voëls afskrik. Blykbaar is die mannetjie skoenlapper so territoriaal, dat hy nie net ander mannetjie skoenlappers wegjaag nie, maar ook voëls.


Daar is nog baie ander skoenlapper spesies hier wat ek graag met my kamera lens wil vasnael. Elkeen so lewe eintlik so vlugtig, so pragtig, geen wonder mense is so gefassineer met hulle nie.

Friday, 12 August 2016

Kamp saam met Skape

In Julie het ons vir 'n naweek weggebreek en gaan kamp tussen die skape op New House Farm in die South Downs. Dit is 'n werkende plaas met skape, koeie, perde en mielie lande. Die kampgeriewe bestaan uit grasvelde met portaloos. Daar is dus geen storte of warm water, krag of opwasplekke nie. Die drinkwater is dieselfde kraan wat die skape se waterbak volmaak. 

Dit het ek natuurlik nie geweet nie, want ek was verlei deur die mooi fotos van skape en gras velde op die website en het nie verder gelees nie. Toe ek die eienaar gebel het om te bespreek, het hy ook weer nie genoem dat daar 'n musiekfees aan die gang is nie, iets wat ons eers uitgevind het toe ons daar opgedaag het.


Jy ry met 'n elle lange rowwe grondpad vannaf die plaashuis op na die kampplek en as jy eers daar is, gaan jy nie sommer weer op daai pad wil terug ry nie, mens karwei dus maar saam wat jy gaan nodig kry. Die eienaar is baie gaaf en kom in die aande by jou staanplek om om te sien of jy nog daar is, die geld te kollekteer vir jou staanplek en om te sien of jy enige hout by hom wil koop. Hy het nie juis omgegee oor hoe laat jy opdaag of weer vertrek nie, wat nogal lekker was toe dit kom by oppak, want daar was geen haas.

Aanvanklik het ons net verdwaas in die middel van die veld in ons kar gesit en staar na die gros kampeerders, die musiek verhoog en mense in vreemde kostuums wat rond dans. Toe het ons inderhaas 'n stil hoekie gaan vind om ons opsies te bespreek. Ons het amper besluit om maar eerder te ry, maar het toe gelukkig uitgewerk dat daar meer as een veld is om op te kamp en het toe na 'n stiller veld getrek, reg teen die skaap kamp en ver van ander mense af.   Ons kon nog die musiek in die aande hoor, maar dit het ons nie juis gehinder nie en deur die dag het die feesgangers lê en slaap en kon ons rustig die stilte en die geblêr van skape geniet. 

Skape maak nogal 'n hele aantal eienaardige geluide en ons het ure gesit en staar na hulle. Die lammers was al fris en groot en die ooie was al 'n bietjie moeg vir hulle, tog het hulle steeds bly mik vir Ma se speen en baie ontsteld geraak as sy te vêr van hulle dwaal. Dan blêr hulle hard oor en weer tot hulle mekaar weer gevind het. Die lammers het ook 'n leë emmer gevind om mee te speel, wat kostelik was. Dan deur die dag, as die son hard begin skyn, het almal gemik vir dieselfde stukkies skaduwee en dig teen mekaar daar ingebondel. Terwyl ons gaan water haal het moes ons weer ons lag inhou vir 'n jong skaap wat 'n bietjie te kort was om lekker oor die waterbak se rand te drink. Hy het ongelooflik baie geraas gemaak terwyl hy so gesukkel het om te drink en nes jy dink hy is klaar, dan gaan hy net weer aan en moet ons van vooraf ons lag inhou. 

Ons opblaas matras het natuurlik op 'n vorige kamp ingegee en ons het heeltyd beplan om dit reg te maak, maar kon nooit die gat vind nie. Ons moes dus op die grond slaap en ek was bekommerd dat tussen die musiek van die fees en die harde grond ek nie sou kon slaap nie, maar ons was elke aand uit soos 'n kers en het heerlik geslaap. Ek dink selfs die grond het my rug 'n bietjie goed gedoen.

Ons het gebraai en ontspan en saans na, eers die vlêrmuise, en dan die sterre gekyk. Geen internet, geen TV, geen krag. Net lekker rus. Ek sal enige tyd weer daar gaan kamp, volgende keer sal ek net seker maak dat daar nie 'n fees van een of ander aard aan die gang is nie.

Wednesday, 29 June 2016

Somer in Parys

Met bekommernisse oor terroriste aanvalle, aarbeid betogings en geweld tussen Euro 2016 sokker skollies was ek maar 'n bietjie benoud oor ons wegbreek na Parys die Somer. En alhoewel ons 'n paar dronk en luidrugtige sokker aanhangers teegekom het en daar heelwat swaar gewapende teenwoordigheid op die strate was, het alles baie glad verloop. 

Die weer was ongelooflik warm teenoor die koue storms hier in Engeland. Hier het ons verspoel en daar het ons verbrand, maar ek eet enige dag eerder roomys in die son langs 'n kabbelende Franse fontein as wat ek hier in die huis sit met 'n vertroostende warm sjokolade terwyl die weer buite woed.  


Ons verblyf was in 'n baie interesante, bedrywige woonbuurt, relatief goedkoop en gerieflik en aangesien ons iemand se woonstel gehuur het, terwyl hulle weg was, het ek gevoel ons kry nogal 'n 'egte' ervaring van hoe dit is om daar te woon. Ek dink nie ek het al ooit in my lewe so lekker op 'n uitskopbank geslaap nie. Die groot vensters, rooi kleiteël vloere en houtbalke was 'n heerlike verrassing. Die vier stelle trappe was dalk 'n bietjie straf, maar ek sal enige tyd weer daar gaan bly. Ons het dit deur Airbnb bespreek en al die reelings het baie glad verloop.

Op ons eerste dag daar was dit baie warm, en ons was bitter moeg. Ons het skaars kans gesien om veel te doen. 'n Toeriste vaart in die Seine het soos die beste opsie gelyk en dit was heerlik om terug te sit en te kyk hoe die besienswaardighede van Parys verby gly soos ons rustig in die rivier afvaar. 

Die volgende dag het ons die lang tou aangedurf om die Katakombes te gaan besigtig. Teen 14 grade was dit heerlik koel daar diep onder die grond en dit was baie interessant om al die gebeendere so opgestapel te sien. Wees gewaarsku, mens staan maklik tussen 2 en 4 ure buite in die son en wag om in te gaan. Ons was gelukkig en het baie vriendelike mense in die tou ontmoet met wie ons al te lekker gesels het. 130 trappies vat jou 20 meter onder die strate van Parys waar die katakombes geskep is in die voormalige steengroewe vanwaar die klip opgediep is waaruit die hoofstad gebou is. Hier lê die gebeendere van oor die 6 miljoen Parysenaars. Meeste is soontoe geskuif in die 18e en 19e eeu soos begraafplase toegemaak het en ander is direk daar begrawe. Die gedeelte wat oop is tot die publiek strek oor die 2km en neem 45min om te stap. Dit word nie aanbeveel aan die met 'n sensitiewe geaardheid nie, die boodskap oor die ingang lees: "Arrête, c'est ici l'empire de la mort" - Stop! Hierdie is die ryk van die Dood.


Na die stil, koel donkerte van die katakombes was die sonnige, groen Luxemburg Tuine 'n heerlike plek om te ontspan vir middagete. Met die pragtige paleis, fonteine en gemaklike stoele wat oral rondstaan, kan mens verstaan dat die plek so bedrywig en gewild is. Oral sit mense rond en die kinders speel met bootjies in die water. Met oor die 23 hektaar is daar baie om te verken, maar ons was heel tevrede om maar net voor die paleis te ontspan en die atmosfeer in te drink.


Saterdag het ons kans gesien om die Louvre aan te pak. Ons was seker gelukkig, want ons het nie eens tou gestaan om in te kom nie. Binne was dinge baie bedrywig, maar omdat dit so 'n tamaaie groot plek was, het mens selde beknop gevoel. Daar is ongelooflik baie om te sien en ek dink nie mens kan alles werklik inneem in een dag nie. Daar is natuurlik 'n paar belangrike dinge wat jy nie kan misloop nie, soos Da Vinci se Mona Lisa, die Gevleuelde Oorwinning van Samothrace, Michelangelo se Sterwende Slaaf, die Venus de Milo, die skildery van Gabrielle d'Estrees en haar suster, die Hertogin van Villars en Vermeer se Kantwerkster. 


Natuurlik is die gebou self en die gronde net so indrukwekkend en ons het na die tyd rustig roomys geëet rondom 'n fontein met 'n uitsig af in die Champs-Elysees, verby die Obelisk van Luxor al die pad tot by die Arc de Triomphe.


Sondag het ons dit rustig gevat met 'n uitstappie na die interessante Menagerie le Zoo du Jardin des Plantes met 'n lieflike botaniese tuin en 'n pragtige klein dieretuin wat daarop gemik is om beskermde spesies te bewaar. Die dieretuin is die tweede oudste in die wereld en bevat heelwat seldsame spesies en hulle werk hard daaraan om spesies wat in gevaar is te bewaar. Daar is selfs 'n creche waar jy die deur groot vensters kan sien hoe babatjies met die hand grootgemaak word. Die tuine is lieflik, gevul met blomme en kruie en ons het selfs 'n paar groot paddas in die dammetjies teëgekom.


Van hier kan jy deur die tuine aanstap en dan al langs die Seine af tot by die Notre Dame. Hier het ons ons uistappie afgesluit met 'n baie duur, baie klein, maar baie lekker ete'tjie reg langs die ongelooflike indrukwekkende katedraal.


Terug by die huis is ons begroet met 'n triestige motreën wat eintlik 'n bietjie van 'n lafenis was teenoor die bedompige hitte in Parys. Hulle sê mos, jy moet eers weggaan om te waardeer wat jy het. 

Sunday, 13 March 2016

Slange in die Sonskyn

Gister het die son 'n slag geskyn en alhoewel dit net 8grade buite was, was dit nie te koud nie. Met die sonnetjie en ekstra hitte het ons gehoop ons staan 'n kans om die eerste paar slange van die jaar te vind. Sukses! 


Laas jaar het ons langs Basingstoke kanaal 'n Oom ontmoet wat ons vertel het waar ons hulle kan vind en ons het sedertdien 'n hele paar gesien. As jy hulle eenmaal gevind het, weet jy waarvoor om uit te kyk, en skielik sien jy slange waar jy nooit gedink het hulle sal wees nie.

Hier in Engeland is daar net drie tipe slange, Adders, Gras slange en Gladde slange. Daar is ook 'slow worms', hulle lyk nes 'n slang, maar is eintlik 'n pootlose akkedis, baie uniek. Ons was gelukkig om een 'n Skotland te vind.


Die slang wat ons die meeste teekom is die Adder. Dit is die enigste giftige slang in Engeland, maar gelukkig is hulle sku en vlug eerder as om te veg. Die gif is dodelik, maar in meer as twintig jaar is niemand nog aan 'n adder pik hier oorlede nie. Adders bly gewoonlik waar hulle gebore is en dus as jy weet waar hulle woon, staan jy altyd 'n goeie kans om een te vind as die son skyn.


Gister het ons ons tweede Gras slang gesien. Die eerste een het ons in Desember in die middel van die Winter in die middel van 'n veld gevind. Ons kon dit nie glo nie. Daai slang was glad nie bly om ons te sien nie, maar gelukkig kan hulle niks aan 'n mens maak nie. Ons wou hom nie rerig versteur nie, maar hy het reg bo-oor 'n paadjie gelê en ons was bekommerd dat ander stappers die slang dalk iets sou aandoen - mense kan soms so onredelik optree as hulle 'n slang teekom. Ons moes ons hom aanmoedig om aan te beweeg, wat hy uiteindelik gedoen het, maar hy was baie knorrig.


Nou moet ons nog net ons oë oophou vir 'n Gladde slang, maar die kans is maar skraal, want hulle is baie skaars. Intussen sal ons dit maar geniet om te kyk hoe die Adders in die son baai.  

Tuesday, 1 March 2016

Heerlike Lente!

Dis heerlike Lente, die Winter...lyk of dit nog 'n rukkie gaan aanhang...

Op die eerste dag van Maart, voel jy asof die son darm moet skyn, dis immers die eerste dag van die meteorologiese Lente aan hierdie kant van die wêreld, maar miskien moet ons eers wag vir 20 Maart om aan te breek (die begin van die astronomiese Lente) om 'n verbetering in die weer te sien.

Vandag is dit lekker grou buite en reën dit liggies. Onlangs was die oggende bitter koud, met ryp op die gras en die son wat net sommige dae sy kop uit steek. 


Ten spyte van die reën, koue winde en bitter vars oggende, het die bome reeds begin bot, bloeisels is hier en daar te vinde en steek blombolle oral kop uit. Ek maak die meeste van enige sonskyn, deur my stapskoene aan te trek en die kamera te gryp.


Op my uitstappies sien ek voëls stokkies en donsies en allerlei dinge versamel om mee nes te maak. Die voëls in my tuin, wat goed klaar gekom het en maar net al te dankbaar was vir kos deur die Winter, begin nou weer met mekaar baklei vir grondgebied en wyfies en jy sien net vere waai. Die magpie bou hard aan 'n groot nes in hoë boom, maar nes hy sy rug draai, gaan steel die kraai sy stokkies. Ek kan maar net toekyk.


Die ryp kou nog soggens aan die nuwe blare, maar daar is 'n verandering in die lug. Mens voel die draai van die seisoen en skielik jeuk my vingers weer om saad te plant en dinge te maak groei. 

Monday, 29 February 2016

Avebury Avontuur

Vir Valentynsdag het Mnr. Kaalvoet my in die kar geprop en verras met 'n uitstappie na Avebury in Wiltshire, een van my gunsteling dorpies hier in Engeland. Dis 'n uistappie wat ek aan enige een sal aanbeveel en 'n plek wat ons al menigte male plat gestap het. Ek dink nie mens kan verhelp om iets te voel as mens daar is nie, daar is werklik iets magies daaraan.

Die weer was heerlik mistroostig, wat op 'n vreemde manier nogal stryk met die gemoed van die ruwe klippe, die kaal bome en die duinende groen heuwels. Te danke aan die relatiewe slegte weer, was daar ook nie veel ander mense nie, wat dit net nog meer spesiaal gemaak het.


In die 3de millenium VC het neolitiese mense hierdie projek oor 'n paar honderd jaar aangepak, die oorspronklike doel daarvan nou verlore vir ons in tyd, maar dit moes vir hulle baie belangrik gewees het om soveel tyd en energie daaraan af te staan. Kenners reken dat dit van seremoniële en rituele belang was en vandag steeds word  dit deur moderne Pagane gebruik om feeste en huwelike te vier.

Een jaar was ons net bestyds om te sien hoe 'n huweliks paartjie oor die besem spring terwyl mense, kinders en honde, almal met blomme kransies, juig en rondom hulle dans. Dit was baie roerend.


Vandag staan die dorpie sommer so tussen die klippe en die uitgrawings. Destyds het mense hulle nie veel daaraan gesteur om die plek te bewaar en is die plek vir geloofsrede selfs erg beskadig. Dis jammer dat mense in die verlede die sirkels probeer afbreek het en selfs van die klippe weg gedra het en begrawe het, maar gelukkig word hulle nou mooi opgepas en word dit beskerm vir die toekoms as 'n UNESCO wêreld erfenis gebied.


As die son skyn sal ons weer gaan. Hierdie keer was daar net 'n paar nat kraaie tussen die klippe, maar in die Somer is daar gewoonlik skape, die bome staan vol en groen en skielik is die hele atmosfeer van die plek iets heeltemal anders.


  

Sunday, 31 January 2016

'n Vars Januarie

Met die ongewone warm Winter het ek amper gedink ons gaan die koue vryspring, maar Januarie het 'n hele paar koue dae gebring en dan lê Februarie nog voor. Elke seisoen het sy eie skoonheid en hierdie vars, koue Wintersdae is doodgewoon pragtig. 


As ek in die oggend wakker word en die wêreld lê so wit van die ryp, terwyl die son so stadig klim, trek ek my lekker warm aan en vat dan my kamera op 'n uitstappie. Terwyl mense gereed maak om te gaan werk en die pensionarisse hulle honde neem vir 'n oggend tinkel, stap ek stadig stadig en bestudeer die pragtige ys formasies al langs die pad. 


Mense wonder seker waarmee ek besig is, want ek kry 'n hele paar vreemde kyke, maar gelukkig steur ek my nou nie juis daaraan nie. Vir my is dit eerder vreemd dat hulle so vinnig verby soveel mooi kan stap sonder om dit eers op te let. 


In 'n nabygeleë veld staan die koeie en bolle wit stoom blaas terwyl hulle toekyk hoe ek die ys breek in hul waterkrib. Af in die voetpad is die modder en waterplasse kliphard geys. Die gras kraak behoorlik soos mens oor dit loop. Die lug is ongelooflik vars en skoon.


Oral waar die son loer is daar klein reënboe en waar die son vat kry, smelt die ys dadelik. Tussen die blare en die lang gras is die formasies die heel mooiste.


Ek kan seker ongelukkig wees dat die ryp die plante in my tuin verniel, maar dit is so mooi dat ek dit nie kan kwalik neem nie. Nou moet dit net 'n slag ordentlik sneeu en dan sal ek voel asof ons ordentlik Winter gehad het.