Saturday, 14 February 2015

Mishopies van Liefde

Ek kan nie presies onthou of dit 'n nuwe ding was of 'n ou ding waarvan ek maar net nie geweet het nie, maar iewers gedurende Hoërskool het een van my vriendinne mishopies begin maak. Dis nou 'n ander naam vir die baie gewilde 'ongebakte sjokolade koekies' - jy weet, daai chocolate gestolde hopies klapper en oats wat so onweerstaanbaar lekker is.

Vandat ek dit die eerste keer geëet het, was ek dol daaroor. Ek is mal oor klapper. Ek het dit nooit self gemaak nie. My vriendin was geoefen in die kuns van netjiese hopies maak uit 'n baie taai gemors en ek was redelik seker dat ek dit net sou vas brand in die pot en 'n hele hoop bestandele sou vermors. Ek het wel gesorg dat ek by is wanneer sy dit maak, sodat ek die pot kon lek asook lepels vol warm mengsel steel wanneer sy nie kyk nie. Sy is 'n baie geduldige mens.

Ek onthou nog goed die keer wat ons die koekies op die kombuistafel laat staan het om af te koel, net om terug te kom en dit oortrek van die miere te vind. Dit was byna onmoontlik om die donker miere op die donker koekies te onderskei en die krateragtige landskap het ook nie gehelp om hulle te probeer afkry as jy hulle eers gevind het nie. Ons het koekies geskud en geblaas, maar ek sal lieg as ek sê ons het nie 'n hele paar miere geëet nie. As ek aan die koekies dink, dink ek aan soveel goeie tye saam met goeie vriendinne, so naby aan my soos susters. Dit skep so 'n heerlike warm gevoel in my hart.

Met Valentynsdag het ek besluit om hierdie warmte met my man te deel en vir hom ook 'n paar mishopies te maak die dag voor die tyd. Hulle sal nou wel nie hartvormig wees nie, maar kom direk uit my hart uit. Ek hou daarvan om my man te bederf, elke dag van die jaar, en dan sommer dubbel en dwars by enige spesiale geleentheid. Dit maak die huwelik so lekker om die persoon van wie jy die meeste in die wêreld hou, gereeld te verras en gelukkig te maak. 

 Mishopies - Ongebakte Sjokolade Koekies

2 koppies suiker
1 koppie botter
1/2 koppie melk
1/2 koppie kakao
2 koppies hawermout
2 koppies klapper
2 teelepels vanilla

Meng die suiker, botter, melk en kakao stadig oor 'n lae hitte totdat die suiker en botter gesmelt het. Kook dan vir 5 minute op 'n hoë hitte totdat dit begin borrel. Haal van die stoof af en voeg vanilla by. 

Meng die klapper en hawermout en voeg dit by die mengsel. Meng goed. Skep lepels vol in hopies op 'n gesmeerde bakplaat of skinkbord. Laat afkoel en verkoel in yskas. 

Ek hou van hulle in sulke lelike ou hopies, maar ten spyte van wat ek vroeër gesê het, moes ek tog probeer om hulle in hartjies te verander. Ek het dus gewag tot hul effens afgekoel het, en dus meer hanteerbaar is, en met my vingers hulle in hartjies gevorm. Werk nogal nie te sleg nie.


Gelukkige Valentynsdag aan al my familie, vriende en vriendelike lesers. 

Thursday, 5 February 2015

Veldmuis Vriende

Onlangs was daar 'n bietjie van 'n onderbreking in die vreeslike koue weer en het ek weer 'n slag kans gesien om die gras te sny. Gelukkig groei die gras hier so stadig in die Winter dat mens dit glad nie gereeld hoef te sny nie. Soos ouder gewoonte gooi ek die varsgesnyde gras op die komposhoop wat ons bo-op die krimpvarkie huisie versamel. Ons weet nie werklik of hy daarbinne woon nie, maar ons het vir hom 'n huisie gebou om in te oorwinter, indien hy dit sou nodig kry. Deur die tuinvullis bo-oor te gooi, hou dit sy huisie warm en beskud. 


Saterdag het ons by die huis gebly, dit was baie koud en ons het niks nodig gehad by die winkels nie. So sit ons in die sitkamer toe Mnr. Kaalvoet 'n klein muisie bo-op die komposhoop gewaar. Hy was maar uiters sku en het rats verdwyn. Toe ek later uitgaan om vir die voëls kos te gee, gooi ek toe maar 'n paar stukkies gebreekte grondboontjies daar waar ons die muis gesien het. Mnr. Kaalvoet sweer later hy sien die gras beweeg en die grondboontjies verdwyn, maar die muis self kan ons nie sien nie - die skelm is toe al die tyd besig om die kos in 'n gaaitjie in te trek. Gelukkig was die kos darm nie alles binne sy bereik nie en het hy dit weer buite gewaag om sy buit te bekom. Met ons kamera gereed, kon ons darm 'n paar fotos neem. Nou nie juis die beste gehalte so deur die agterdeur se ruit nie, maar mens kry darm die idee.


Ons reken dit is 'n Geelhals Bosmuis (Apodemus Flavicollis). Die rede hoekom ons hom in die middel van die winter aktief gevind het, is omdat hierdie spesie nie hiberneer nie. Dis wel vreemd om hulle in die dag te sien, want hulle is tog nagdiere, maar miskien was hy net baie honger. Soos baie ander diere dra hulle natuurlik siekties, maar ek is nie een om sulke dinge teen so 'n oulike diertjie te hou nie en is hy welkom om in my tuin te woon, so lank hy net nie in die huis in wil kom nie. Gelukkig is hulle nie bekend daarvoor dat hulle binne huise woon nie en lyk hy baie gelukkig daar op my komposhoop. Die krimpvarkie mag dus dalk nie daar woon nie, maar iemand anders het hulself wel tuis gemaak.