Tuesday 24 December 2019

Krenkel Koekies vir Kersfees

Na ‘n volle jaar in ons nuwe huis, wou ek graag ons bure bederf. Hulle het ons so welkom hier laat voel en staan altyd gereed om te help. Ek het hierdie heerlike koekies op die BBC Good Food webwerf raak gesien en gedink dit sal die ideale geskenk maak oor die kers seisoen. Hulle is sag en nie te soet nie en laat my dink aan sneeu in die woud.

Sjokolade Fudge Krenkel Koekies

60g kakaopoeier
200g strooisuiker
60ml sonneblom olie of soortgelyk
2 groot eiers

180g meel
1tl bakpoeier

50g versiersuiker

Voorverhit die oond tot 190°C (170°c vir waaier oonde) en bedek ‘n bakplaat met bakpapier. 

Meng die kakao, strooisuiker en olie saam en voeg dan die eiers een vir een by en meng mooi deur. Meng die meel, bakpoeier en ‘n knippie sout saam en voeg dan die mengsel by die sjokolade mengsel. As die mengsel te slap is, laat dit bietjie afkoel in die yskas voor jy verder daarmee werk. 

Skep opgehoopte teelepels van die deeg uit, rol dit dan in balletjies en rol die balletjies deur die versiersuiker. Bak in die oond vir 10 minute. Laat effens afkoel en plaas dan op droograk om heeltemal af te koel. 

Die beslag lewer tussen 35 en 40 koekies en behoort ‘n paar dae lank mooi in ‘n lugdigte houer te hou. Ons het reeds helfte uigedeel en tussen ons twee reeds 8 geĆ«et. Ek glo nie hulle gaan ‘n paar dae hou nie. Lekker smul en mooi wense vir die seisoen.