Friday 31 August 2018

'n Nuwe Noordelike Avontuur

Vir die min mense wat wel my Blog lees moet ek om verskoning vra dat ek so lanklaas enige iets geskryf het. Aan die einde van 2017 het die lewe skielik 'n opwindende wending geneem en nou bevind ek en Mnr. Kaalvoet ons in die Noorde van Engeland, in pragtige Northumberland. Ek is nie seker hoe die lewe so met my weggehol het dat ek nie 'n kans gehad, of gesien het, om te skryf nie, maar nou voel ek uiteindelik weer of my voete op vaste aarde staan en sien ek weer kans vir 'n bietjie skryf.


Na 10 jaar in en om London het ons meer as 300 myl weggetrek van alles en almal wat ons ken, maar in die 6 maande wat ons nou hier buite Newcastle-upon-Tyne woon, was ons nog nie 'n dag spyt nie. Ons nuwe dorpie is op die Tyne Rivier, 'n ent buite die stad, en ons is omring deur die platteland.

Toe ons in die Winter hier aangekom het, het dit so gesneeu dat daar dae was dat ons nêrens heen kon ry nie en die winkels en paaie almal toe was. Ek het in die sneeu langs die rivier afgestap en die wit landskap bewonder. Ons het jare laas ordentlike sneeu in die Suide gesien en dit was so lekker om dit so onder my voete te voel knars. Dit was wel 'n besonderse koue Winter en ek het geen idee of dit weer hier so sal sneeu nie. Net die tyd sal leer. 


Die Somer, wat nou hier einde se kant toe staan, was heerlik. Meeste van Europa was in die greep van hittegolwe, maar hier was dit net lekker.  Met die see net 'n bietjie meer as 'n halfuur se ry weg, het ons 'n wonderlike tyd gehad. Ek kon gereeld in die kar spring om 'n bietjie te gaan swem en snorkel gedurende die week en oor naweke kon ek en Mnr. Kaalvoet lekker die kus gaan verken. 


Dit voel of ons hier omring is met wonderlike vooruitsigte. Ons het toegang tot lieflike strande en kan maklik uitry na nasionale parke, soos die Lake District, die Noord Pennines of Noord Yorkshire Moors en ons is gerieflik naby aan Skotland. Wildlewe en voëls is meer volop en die lug en water kwaliteit is beter. Die nadele is natuurlik dat hier minder werksgeleenthede is en dat dit kouer is as in die Suide, maar die hartlike mense maak meer as genoeg op vir die ongure weer - dis nou as jy kan verstaan wat hulle sê.


Ek weet nie wat die toekoms alles hier vir ons gaan inhou nie, maar ek sien uit om uit te vind en intussen maak ons die meeste van elke liewe dag.