Sunday, 2 September 2018

'n Maalkolk van Kleur in Marrakesj

Opsoek na 'n bietjie Winter wegbreek hier in die koue Noordelike halfrond, het ons net voor Kersfees in 2017 'n draai gemaak in Marrakesj, om soos twee akkedissies vir 'n week lank in die son te gaan sit en baai.


Dit was ons tweede besoek aan Marokko en ek het gedog ons weet wat om te verwag, of selfs dat Marrakesj nie heeltemal so verwarrend soos Fes sal wees nie, maar die plek was vir my heeltemal oorweldigend. Marrakesj is vreeslik besig en daar word voertuie in die Medina toegelaat, so nie net is daar hordes mense en katte en donkies en ware wat uit winkeltjies uit oorloop nie, maar ook motors, poegies en fietse wat onmoontlik vinnig in die nou straatjies afjaag met geen teken van verkeersreëls nie. Pop jy natuurlik by 'n winkeldeurtjie in om 'n haastige voertuig te ontsnap, word jy deur die winkel eienaar oorrompel wat dadelik dinge aan jou probeer verkoop. 


Omdat ek nie daarvan hou om mense se privaatheid te skend deur te veel fotos te neem met mense in nie, kan my fotos nie juis wys hoe mal Marrakesj werklik is nie. Gelukkig is daar baie agterstraatjies waar dit stil is en waar mens wegkom van die inkopie areas en net die argitektuur, die tuine en die geskiedenis van hierdie merkwaardig plek kan waardeer.


Ek het veral baie daarvan gehou om te sien hoe die inwoners van die Medina leef. Dis so maklik om te dink dat Marrakesj bloot 'n toeriste bestemming is, maar oral is dit duidelik dat menigde mense hier woon en werk, hulle kinders hier grootmaak en hulle geloof hier met groot eerbiedigheid en toewyding beoefen.

 
Marrakesj se groot trekpleister is natuurlik die groot plein in die middel van alles, Jemaa el-Fnaa. Gedurende die dag is die reuse plein relatief stil met stalletjies wat vars lemoensap en kos verkoop. Plek plek staan daar mense met apies aan toutjies wat jou probeer nader lok en loop mens lang draaie om die manne wat op die matte sit en slange betower met hulle vreemde deuntjies. Almal hier probeer jou aandag trek om iets aan jou te smous of jou dalk 'n aap in die arms te stop. Om 'n foto te neem van enige van hierdie dinge is 'n risiko, want hulle wil betaling hê. Jong seuns bied gedurig aan om jou na 'die beste' restaurant te neem en vrouens sit in groepies, gereed om jou hande met henna te verf. Soos dit donkerder word, raak dit al hoe besiger en besiger. Hordes kosstalletjies verskyn en vure word aangesteek, groepe mans kom staan en luister na storievertellers wat hulle staaltjies vertel met behulp van vreemde tromme en instrumente. Seuns wys af teenoor mekaar met tradisionele en moderne dansies en almal maak hulle eie musiek so hard as wat hulle kan. Groot matte word neergelê en tradisionele medisyne en vreemde ware word netjies uitgepak. Oral speel kinders en meer en meer mense daag op, totdat jy amper nie meer kan beweeg nie. Elke aand daar voel soos 'n fees, 'n kakofonie van klank, kleur en geur. 


Ons het nie heeltemal kans gesien vir die kosstalletjies op die plein nie en het eerder by restaurante gaan eet. Meeste restaurante bedien hulle kos op die tweede verdieping wat dan vir jou 'n heerlik uitsig oor alles gee, vanwaar jy die chaos kan gade slaan en saans kan kyk hoe die reuse oranje maan oor die medina opkom. Ons gunsteling eetplek saans was Kosy Bar, waar hulle heerlike en interessante kos bedien het in 'n ongelooflike rustige atmosfeer. Bedags het ons gereeld by Cuisine De Terroir ingepop met hulle ontspanne atmosfeer, skoon restaurant en badkamers en heerlike, interessante, bekostigbare kos. En oral waar ons kom drink ons natuurlike heerlike kruisement tee, wat nie net goed is vir jou maag nie, maar ook lekker verfrissend.


Gedurende die dae het ons die Souk kruis en dwars platgestap, 'n doolhof van winkeltjies en ware. Van die ware word iewers in fabrieke vervaardig, maar baie van dit word net daar met die hand gemaak op eeue oue metodes. Oral is daar lieflike klere, leer, glas, silver, speserye, matte, skoene, medisyne en erdeware. Dinge wink en blink aanloklik uit die klein donker winkeltjies en lieflike matte en handgeverfde bakke hang teen die mure van die doolhof straatjies. Die geure is soms so oorweldinged soos die kleure, met mense wat kos maak, diere slag, lemoene pars en kosbare wierook en mirre brand terwyl daar oral poegies ry wat stof opskop met uitlaatgasse wat nêrens heen kan gaan in die klein beknopte stegies. Kort kort sal daar 'n man met 'n waentjie of reuse sakke vol kruisement verbykom en dan ruik alles skielik vir 'n oomblik so vars en skoon dat jou oë glad water. Van die handelaars kan opdringerig wees, maar baie van hulle is vreeslik gaaf en behulpsaam en neem hul tyd om hulle ware en tradisies mooi aan jou te verduidelik sonder enige verwagting dat jy iets moet koop. Die mense hier geniet dit werklik om te kibbel oor die prys van hulle ware. Om die eerste prys wat hulle aanbied te aanvaar, is omtrent 'n teleurstelling vir hulle. Ek bied gereeld die helfte van die voorgestelde prys aan en word dan met groot drama vertel dat ek die kos uit die monde van sy kinders neem. So kan mens lekker heen en weer kibbel, maar moet nie daarmee begin as jy nie werklik die ware wil hê nie. Om weg te stap is net nog 'n metode om 'n prys af te bring, en dus as jy wegstap sal hulle agter jou aanstap om goedig beter pryse aan te bied. Solank mens dit alles gemoedelik hou en eerlik met die mense te werk gaan, kan dit 'n rerige lekker ondervinding wees. 


As jy 'n goeie idee wil hê van wat dinge werklik kos of nie lus het om met mense te stry oor pryse nie, gaan besoek gerus die Ensemble Artisinal. Hier vind jy dieselfde wye verskeidenheid handgemaakte ware, maar die pryse is vas en duidelik aangedui en niemand hier sal produkte aan jou opdring of met jou stry oor hoeveel dinge kos nie. Daar is ook plek om te eet, te sit en ontspan onder lemoenbome of om te kyk hoe die mense hulle ware maak. Ons het 'n hele paar keer hier 'n draai gaan gooi omdat dit so 'n rustige atmosfeer gehad het. 


Ons het natuurlik 'n gelukskoot getref met ons keuse in verblyf. Riad Jnane Jdid was net mooi vergenoeg weg van dinge dat dit 'n stil oasis was om heen weg te breek vanaf die geroesmoes van alles in die stad, maar naby genoeg dat ons binne minute se stap ons weer in die middel van alles bevind het. Daar kon ons elke oggend in die son op die dak ons ontbyt geniet met 'n uitsig oor die Atlas gebergtes en het ons oor die hitte van die dag in die koel gebou ontspan. Op ons laaste dag daar het ons met die Riad afgespreek dat hulle vir ons daar 'n tradisionele aandete sou bedien. Hulle kry dan 'n plaaslike vrou om die kos in haar kombuis voor te berei en dit dan na die Riad te bring. Dit was heerlik en ek het die kos so geniet dat ek nou my eie resep daarvoor opgedroom het met ingelegte suurlemoene, roosblare en olywe. 


Op ons laaste dag het ons ook vir 'n hammam gegaan. Ek sal dit rerig aanbeveel, veral om dit op die laaste dag te doen, sodat jy weer skoon en mens kan voel na al die stof in die strate. Die hammam was omtrent 'n belewenis. Om as volwassene deur 'n ander persoon van kop tot tone gewas, geskrop en ge-olie te word, is rerig vreemd, maar ons het die baie geniet. Ek het ook 'n tradisionele massering gehad, waar die vrou my hele lyf, selfs my ore en oogballe gemasseer het. Lanklaas het ek so bederf gevoel. Die hele ondervinding het baie outentiek gevoel, met niks modern, opgesmuk of aangesit. Tussen ons en die vrou het ons nie een taal ingemeen gehad nie, maar tog het ons oor die weg gekom. Sy was so 'n warm mens en het ons gou op ons gemak gesit, selfs onder die vreemde omstandighede. Met my gebroke Frans kon ek haar darm vertel dat ons van Suid-Afrika af kom, sy kon nie glo dat ons nie 'noir' was nie, maar 'blanc' en was in haar noppies dat ons almal dus vanaf Afrika was.

Friday, 31 August 2018

'n Nuwe Noordelike Avontuur

Vir die min mense wat wel my Blog lees moet ek om verskoning vra dat ek so lanklaas enige iets geskryf het. Aan die einde van 2017 het die lewe skielik 'n opwindende wending geneem en nou bevind ek en Mnr. Kaalvoet ons in die Noorde van Engeland, in pragtige Northumberland. Ek is nie seker hoe die lewe so met my weggehol het dat ek nie 'n kans gehad, of gesien het, om te skryf nie, maar nou voel ek uiteindelik weer of my voete op vaste aarde staan en sien ek weer kans vir 'n bietjie skryf.


Na 10 jaar in en om London het ons meer as 300 myl weggetrek van alles en almal wat ons ken, maar in die 6 maande wat ons nou hier buite Newcastle-upon-Tyne woon, was ons nog nie 'n dag spyt nie. Ons nuwe dorpie is op die Tyne Rivier, 'n ent buite die stad, en ons is omring deur die platteland.

Toe ons in die Winter hier aangekom het, het dit so gesneeu dat daar dae was dat ons nêrens heen kon ry nie en die winkels en paaie almal toe was. Ek het in die sneeu langs die rivier afgestap en die wit landskap bewonder. Ons het jare laas ordentlike sneeu in die Suide gesien en dit was so lekker om dit so onder my voete te voel knars. Dit was wel 'n besonderse koue Winter en ek het geen idee of dit weer hier so sal sneeu nie. Net die tyd sal leer. 


Die Somer, wat nou hier einde se kant toe staan, was heerlik. Meeste van Europa was in die greep van hittegolwe, maar hier was dit net lekker.  Met die see net 'n bietjie meer as 'n halfuur se ry weg, het ons 'n wonderlike tyd gehad. Ek kon gereeld in die kar spring om 'n bietjie te gaan swem en snorkel gedurende die week en oor naweke kon ek en Mnr. Kaalvoet lekker die kus gaan verken. 


Dit voel of ons hier omring is met wonderlike vooruitsigte. Ons het toegang tot lieflike strande en kan maklik uitry na nasionale parke, soos die Lake District, die Noord Pennines of Noord Yorkshire Moors en ons is gerieflik naby aan Skotland. Wildlewe en voëls is meer volop en die lug en water kwaliteit is beter. Die nadele is natuurlik dat hier minder werksgeleenthede is en dat dit kouer is as in die Suide, maar die hartlike mense maak meer as genoeg op vir die ongure weer - dis nou as jy kan verstaan wat hulle sê.


Ek weet nie wat die toekoms alles hier vir ons gaan inhou nie, maar ek sien uit om uit te vind en intussen maak ons die meeste van elke liewe dag.