Thursday 28 December 2017

Yskoud in Asemrowende Ysland

Ons was nog opsoek na 'n vakansie iewers in die sonskyn, om 'n bietjie weg te kom van die Britse Winter, toe ons heel toevallig op super goedkoop vlugte na Ysland afkom in November. Die kans kon ons nie laat verbygaan nie en so bevind ons onself 'n kort rukkie daarna oppad na hierdie besonderse eiland in die koue Noorde.


Meeste mense besoek Ysland in die Somer vanaf Junie tot Augustus, wanneer die dae langer is en die weer warmer, maar as jy hoop om die Noordeligte te beleef, is dit beter om in die Herfs of Winter te gaan. Winter bring natuurlik korter dae en kouer weer. Met ons besoek in November het ons 7ure daglig gehad, maar dit was meer as genoeg om alles te sien en te doen wat ons wou. Ek was bietjie bekommerd oor hoe koud dit sou wees, maar met die regte klere, het die weer ons nie in die minste gepla nie. Oral sal jy lees dat die weer daar baie wisselvallig is en dit was werklik waar - as jy nie hou van die weer nie, wag net 5 minute, dan het alles weer verander. Ons het besonderse heerlike weer gehad, met baie sonskyn en oop blou lug. Moet net nie dink jy kan jou handskoene of mussie vergeet nie, dit lyk dalk heerlik, maar dit is baie koud. 


Ons het daar aangekom nes die son sak en moes vinnig eers ons huurmotor gaan haal by Geysir, voor ons die pad na ons verblyf in Stokkseyri, net buite Eyrarbakki, aanpak. In Ysland maak meeste winkels vroeg toe en ons het seker gemaak ons stop by die eerste beste supermark om kos en sjokolade melk op te tel. Dinge daar is baie duur en alhoewel die vliegtuigkaartjies relatief goedkoop was, was die 4x4 huurmotor nie, en selfs die goedkoopste verblyf (ons het by mense in hulle huise tuisgegaan), was meer as wat ons gewoonlik sal betaal. Ons was dus nie van plan om uit te eet nie en ek het seker gemaak om vir ons klomp padkos (selfs 'n pakkie droëwors) in te pak. Alle water, selfs in die strome, is van die skoonste water in die wêreld, en ons het dus 'n waterbottel ingepak, sodat ons nie water hoef te koop nie en verder het ons 'n koffiefles met aanmaak koffiesakkies ingepak vir ietsie warm deur die dag. Verder het ons hier en daar by Bónus en Krónan, die goedkoopste supermarkte, gestop om brood, kouevleis, chips en nog sjokolade melk op te tel en ons het rerig lekker geëet.
  

Oppad na Stokkseyri was dit reeds stikdonker. Ons het aanhou uitkyk by die vensters om te sien of ons die Noordeligte gewaar en was wraggies so gelukkig om op ons eerste aand al 'n smakie daarvan te kry. Kort daarna het die maan ook goudgeel opgekom oor die Ölfusá rivierkom net buite Eyrarbakki. By ons verblyf aangekom ontmoet ons toe 'n man van die Oekraïne, hy en sy vrou het ook daar tuis gegaan, en dit was hul laaste aand na 'n week in Ysland. Na 'n hele week, was daardie aand die eerste aand wat hy die Noordeligte gesien het, en dit was maar 'n flou vertoning. Ek het hom jammer gekry, want dit was duidelik dat dit die hoofrede vir hul vakansie was. 

Die huismense was baie vriendelik en die kamer, badkamer en kombuis baie skoon, modern en gerieflik. Ons kon hulle kombuis gebruik om vir ons kos te maak en moes net sorg dat ons vroeg soggens uit te pad uit bly terwyl hulle en die kinders gereed maak vir werk en skool. Dit was nogal lekker om so saam met 'n familie te bly. Die bed was bitter gemaklik en knus en die huis so warm, dat ons met 'n venster moes oop slaap.

Die volgende oggend het ons die fles vol koffie gemaak, ons padkos gepak en in die pad geval om te gaan verken. Ons eerste stop was Seljalandsfoss, 'n 60m hoë waterval waaragter 'n smal, modderige paadjie verbygaan waar mens agter die waterval om kan stap - as jy nie omgee om sopnat te raak nie en nie bang is jy gaan gly op die ysige, gladde, modderige paadjie nie. Ysland is nogal groot op selfstandigheid en toeriste moet hulle trap ken by baie van die besienswaardighede. Om agterom die waterval te kan stap was 'n ongelooflike ervaring. Ons was sopnat toe ons weer terug was op vaste aarde en my bene was net so effens bewerig in dankbaarheid dat ek nie gegly het en iets oorgekom het nie. 


Daarna het ons die pad gevat na die swart strande en basalt kolomme van Reynisfjara strand naby Vik. Met die ry het ons ons vergaap aan die landskap en die ongelooflike weer. Ons kon letterlik sien hoe reusagtige reënbuie in en verby waai en kon so ry en stop sodat ons net net heeltyd son het of veilig in die kar wegkruip in die ongure weer soos dit verbykom. Plek plek ry jy deur sneeu en dan skyn die son weer skielik ewe vrolik asof niks gebeur het nie. By Reynisfjara het ons uitgeklim en ons vergaap aan die onaardse omgewing met die gitswart sand onder ons voete. Die wind het al hoe sterker en sterker gewaai en oppad terug na die kar, kon ek letterlik al my gewig terugleen in die wind sonder om om te val. Ons het net betyds die kar gehaal, toe stort dit neer. Ek is nie seker hoe die res van die toeriste op die strand gevaar het nie, maar ons het heel knus in die kar gesit en piekniek hou. 


Met die slegte weer in Vik het ons terug gedraai in die sonskyn in om Skógafoss waterval te besoek. Hier kan mens met 'n paadjie al teen die berg uitklim om die waterval van bo af te bekyk. Ons het verkies om tot teen aan die waterval se voet te stap om daar in die ysige sproei te staan en ons te verwonder aan die krag van die natuur. 


Langs hierdie roete kan mens ook stop om Eyjafjallajökull van ver af te besigtig. Dit lyk so bitter rustig daar en dit was moeilik om te glo dat hierdie sneeubedekte pieke so 'n aktiewe vulkaan versteek. 

Teen die tyd moes ons maar aanstaltes maak om terug "huistoe" te keer, sodat ons betyds by 'n winkel kon uitkom om aandete te koop en kos vir die volgende dag se avonture aan te skaf. Ons wou ook nie op ons eerste uitstappie te laat in die donker, ver van die huis af gestrand raak nie. 

In die winkel het ons lekker al die kos en produkte verken en vir ons cordon bleus vir aandete gekoop en vars brood, koue gerookte lam en kruie botter vir die volgende dag. Terug by die huis kon ons lekker kosmaak in die kombuis en 'n bietjie ontspan voor ons weer terug in die kar geklim het met ons kameras om die Aurora te gaan jag. Daardie aand het ons 'n absolute skouspel beleef. Mnr. Kaalvoet was so opgewonde soos 'n kind en ek was so stomverslae, ek kon omtrent nie verstaan wat ek sien nie. Die groen, pienk en pers kolomme en linte het oor die sterbelaaide swart doek van die nag gedans. Dit was absoluut betowerend.


Terug by die huis het ons doodmoeg en doodgelukkig in die bed geval en baie vas geslaap. Die volgende oggend was ek dankbaar dat ek reeds die vorige aand ons broodjies gemaak het en het ons net 'n paar minute nodig gehad om nog 'n fles koffie te maak sodat ons die son kon sien opkom vanaf die rooi rante van die vulkaniese kratermeer, Keriđ.


Ons volgende stoppunt was die geotermiese velde van Haukadalur, waar die vermaaklike Strokkurgeiser elke paar minute byna 20m die lug in spuit. Die oorspronklike Geysir is ook hier geleë, vanwaar die woord geiser vandaan kom. Oral rondom die geisers is daar stomende strome en kokende, borrelende poele. Die goue son het deur die stoom gestroom en dit was rerig besonders om so naby aan die geisers te kon staan en kyk hoe hulle spuit.


Weereens moes jy maar jou trap ken en jou gesonde verstand gebruik. Met die kokende water wat oral spuit en borrel, was daar 'n baie behulpsame bordjie wat aangedui het dat die naaste hospitaal sommer baie ver weg is. Ons het reg by die agterste ingang van die park gestop en kon na ons stappie lekker in die kar sit en koffie drink en broodjies eet, terwyl ons kyk hoe die geisers spuit.  

Vandaar het ons gery om die ongelooflike Gullfoss te gaan bewonder. Die magtige waterval is die gewildste toeriste-aantreklikheid in Ysland en ek kon verstaan hoekom. Daar was soveel mense daar, dat ek my nie kan indink hoe dit moet lyk in die Somer nie. 


Na die oggend se aktiwiteite was dit tyd om 'n bietjie te gaan ontspan en het ons die koppies ingery opsoek na 'n semi versteekte warmwaterbron op 'n plaas. Daar aangekom was ons bly om te vind dat die mense wat reeds daar was, juis oppad was en kon ons 'n bietjie die warm water op ons eie geniet voor die volgende paar mense daar aangekom het. Dit was heerlik ontspannend om so in die natuur in die warm water te sit, maar natuurlik minder lekker om uit die warm water te klim en weer mens se klere aan te trek. 'n Ou kliphuisie met 'n grasdakkie staan bo-oor die bron sodat mens darm so 'n effense beskutte plekkie het om te verkleë.


Oppad na ons verblyf vir die volgende twee aande het ons deur Þingvellir Nasionale Park gery in die hoop om nog na Öxarárfoss te gaan kyk, maar dit was reeds te laat en donker. Die park was steeds bitter mooi in die skemer en dit was ongelooflik om te dink dat ons tussen die Noord-Amerikaanse en Eurasiese tektoniese plate kon ry.  Þingvallavatn, die grootste natuurlike meer in Ysland, was so mooi, dat ons net eenvoudig moes stop om die weerkaatsing van die pienk skemer in die spieelgladde waters te bewonder.


Terug in die stad moes ons deur 'n sneeustorm jaag om by ons verblyf aan te kom. Dit was reeds laat en ons het gesukkel om kos te kry, maar was so moeg en tevrede, ons het nie juis omgegee nie. Ons nuwe slaapplek was naby die lughawe in Reykjanesbær geleë. Die mense was so vriendelik en hulle het die oulikste Yslandiese skaaphond wat mens warm verwelkom deur op jou voete te kom sit en met groot oë vir jou te staar tot jy haar vryf. Die kamer was lekker ingerig en ons het heerlik daar geslaap.

Op ons laaste dag was die plan om dit rustig te vat, maar ons het ons misgis met die stappie op teen die berg na die warm riviere in Reykjadalur. Die hele vallei stoom in die koue en die 3km staproete na die warmwater riviere is iets besonders. Wees wel gewaarsku dat die toestande in die Winter gevaarlik kan wees, die paadtjies is ysig en daar is nie iets soos handrelings nie. Plek plek stap jy oor stomende strome en verby kokende poele, met die reuk van swael wat swaar in die lug hang. Nes jy hoop die swemarea is om die volgende draai, strek die kronkelpad nog doerie deur die sneeu die berg uit.


Uiteindelik het ons dit gehaal en vinnig verkleë sodat ons die water kon geniet. Gelukkig, na al die stap, is dit nie eintlik so moeilik om jou klere uit te trek nie, ten spyte van die bitter koue bo in die berge. Die ergste is om kaalvoet daar te staan. Jou voete brand so van die koue dat jy hulle na 'n paar sekondes byna nie meer kan voel nie. Wees ook gewaarsku, daar is nie verkleë kamers nie, bloot windskerms waaragter mens so effens kan skuil, maar daar is werklik geen rede om jouself te bekommer nie. Jy is oop tot die natuur, die elemente en ander toeriste, maar mense is beleef en beskaaf en almal is tog in dieselfde bootjie.


Om wel uit te klim in die koue met jou warm nat lyf en dan weer jou klere te probeer aantrek sonder om te gly op die ys, is geen grap nie. Mnr. Kaalvoet moes omtrent aan my klou op een stadium sodat ek nie op my agterstewe beland nie. Af teen die berg is ook toe nie soveel makliker as op nie. Die ys was so glibberig en ek was baie dankbaar vir die skoenspykers wat ek gekoop het om bo-oor my skoene te dra. Sonder hulle sou ek belis my alie gesien het. 

Na hierdie uitstappie was die dag halfpad verby en ons redelik uitgeput. Ons het ons padkos geëet en weer in die pad geval, deur Þingvellir Nasionale Park, na Laugarvatn Fontana, 'n lieflike spa met natuurlike stoombaddens, minerale poele en 'n sauna om ordentlik te gaan ontspan. Die plek is lieflik ingerig met 'n uitsig oor Laugarvatn meer en relatief redelik beprys.  Ons het teen skemer daar aangekom en vir ure in die baddens, stoomkamers en sauna ontspan. Die nag was koud en oop en ons kon heerlik in die warm water lê en opkyk na die sterre. Plek plek het kerse langs die baddens geflikker en met die gedempte lig en digte stoom het dit 'n heerlike intieme atmosfeer geskep. Teen die tyd wat die Noordeligte bo ons koppe begin dans het, was ons verbaas om te vind dat ons basies alleen in die poele was en die ander besoekers reeds in gegaan het om in die restaurant te gaan eet. Dit was 'n droom ervaring om daar in die water te dryf en na die groen ligte in die hemel te kyk. 


Oppad terug na ons slaapplek vir die laaste aand, kon ons nie help om eers weer op 'n verlate stuk pad te stop en daar in die absolute donkerte na die Aurora te staar nie. Ons het eers baie laat in die bed gekom, heerlik geslaap en met 'n swaar hart die volgende oggend op die vliegtuig geklim.


Ek kan nie wag om weer te gaan nie en kan Ysland aan enige iemand aanbeveel.