Friday 1 September 2017

Mooiste Montenegro - Durmitor

Na vier fantastiese dae aan die kus van Montenegro, was dit tyd om die rit die binneland in, na Durmitor Nasionale Park, aan te pak.


Ons het met 'n swaar hart afskeid geneem van Miloš en vir oulaas gaan swem. Ek moes ook natuurlik eers Mnr. Kaalvoet se arm draai om vir my by 'n nabygeleë Antieke Handellaar te stop. Ons het elke dag verby die plekkie gery en nooit kans gekry om daar te stop nie. In die oggende was ons te haastig en in die aande, wanneer ons laat eers huis toe gekom het, was dit reeds toe. Gelukkig vir Mnr. Kaalvoet was al die goedjies wat my oog gevang het hopeloos te duur en is ek met leë hande daar weg. Die handelaar het seker gedink omdat ek met hom in Duits gepraat het, dat ek vol geld was. Min weet hy! Terug by die kar wys Mnr. Kaalvoet vir my 'n tamaaie groot sprinkaan wat aan die kar vasklou. Ons moes net keer of hy kruip by die vensters in. Tyd om die ruite toe te draai en die lugverkoeling te gebruik!


Na vier dae van rondry en verkenning het ons nou al reeds geweet dat dit ons beslis nie net drie na vier ure sou neem om Durminor te bereik nie. Maak nie saak wat die GPS masjientjie vir ons sê nie. Ons het deur Podgorica gery en net voor ons by die Morača Kloof in is het ons vir brandstof gestop. Selfs na meer as 'n 100km op 'n snelwel en oor berge was daai sprinkaan nogsteeds dood luiters aan die klou.

Die Morača Kloof is lieflik met styl hellings af tot in die bitter blou waters van die Morača Rivier. Alhoewel die pad as een van die wêreld se gevaarlikste paaie geag word, vanweë hoe nou hy is, die styl afgronde en die moontlikheid van rotsstortings...en die plaaslike mense se minagting van al hierdie gevare, is dit steeds 'n bitter mooi roete en die moeite werd. Ons het plek plek gestop om die waters benede te bewonder en teen die kranse uit te staar. Die kronkels, tonnels en styltes het dit alles 'n besonderse roete gemaak.


Vandaar het ons deur Kolasin gery en stadig maar seker die gebergtes van Durmitor begin opry oppad na Žabljak en ons bestemming daar naby in Razvršje. Kort kort het ek Mnr. Kaalvoet se selfoon gebruik om te bepaal hoe hoog ons bo seespieel is, want nes jy dink jy is bo-op die berg, dan sien jy dit is maar net die voet van nog 'n berg waarteen jy nog moet uit ry.  


Uiteindelik het ons laat die middag by Razvršje opgedaag. Daar was aanvanklik eers 'n hele 'waar is ons verblyf?' petalje, maar uiteindelik, na 'n hengse gesukkel waar ons die hele plek volgejaag het en sommer bo-oor 'n veld gery het, het ons die plek gevind - toe glad nie so moeilik nie, ons moes net 'n 100m verder gery het van waar ons aanvanklik gedink het dit is. So moeg was ek lanklaas, maar die onvangs daar was so vriendelik. Dadelik was daar vir ons rakija (tuisgemaakte brandewyn) in die hand gestop, gevolg deur heerlike donker, swaar koffie. Ons het sommer net daar voor die huisie gesit en gesels en vriende gemaak met Duitsers wat daar naby gekamp het. Die eienaars het ook vir ons heerlike tuisgemaakte kos aangebied, veel goedkoper as wat mens op die dorp sou betaal, en genoeg om enige persoon trommel dik te maak. Mnr. Kaalvoet het vis, vars gevang deur die eienaar in 'n nabygeleë meer, gehad en ek het 'n bord vol vleis gekry. Ek weet nie of die katte en honde daar troeteldiere was nie, want dit het gelyk of hulle sommer maar net daar buite rond bly, maar hulle het omtrent daai kos uit ons monde gekyk.


Na ete was ons baie vol en het in die skemer deur die dorp gestap. Dit was bitter lieflik met veldblomme en voëls, alles so stil en rustig en so baie ver verwyderd van die res van die wêreld. Ons het maar naby aan die dorp gehou, want ons nuwe Duitse vriende was baie opgewonde om ons te vertel dat hulle vroeer die dag op wolf spore in die omgewing afgekom het. Wolwe het ons wel nie gepla nie, maar die muskiete was 'n ander saak.


Na 'n goeie nag se rus, het ons vir ons 'n piekniek gepak en die roete na die Swart Meer (Crno Jezero) ter voet aangepak, oor die berg, agter ons verblyf. Dis nou daar waar die ou die visse gevang het en hy het beloof dis net 20 minute se stap soontoe. Natuurlik was dit nie 20 minute se stap nie, maar steeds die moeite werd. Die stap oor die berg was soos 'n ander wereld, alles was so ongeskonde. Van die wolwe en bere was daar geen teken, maar ons was gelukkig genoeg om 'n swart eekhoring te sien. 


By die meer het ons heerlik gepiekniek en was teen die tyd so warm gestap, dat ek sou geswem het as ek kon, al is die water blykbaar bitter koud. Daar was soveel om te sien en ons het ons tyd gevat om stadig om die meer te stap. Oral het daar wilde aarbeie gegroei, akkedisse op die klippe gesit en bak en voëls in die bome gesing. Ons het op 'n dammetjie vol salamanders afgekom en op plekke kon jy versteende boomstompe binne-in die rotse sien. 


Met die stappie terug het ons 'n ander roete aangepak, wat blykbaar nog vinniger moes wees, maar so styl dat ek halfpad vir Mnr. Kaalvoet gesê het hy moet maar aangaan sonder my. Ek het gedink ek is stap fiks, maar as mens ingedagte hou dat die area byna 1,500m bo seevlak is, kan mens seker verstaan dat die lugdruk 'n bietjie erg kan raak as mens nie daaraan gewoond is nie. En daai berg was rerig styl!

Al het ons lekker gepiekniek was ons alweer honger na die uitstappie en het ingery Žabljak toe om vir ons nog börek te gaan koop en by die supermark om te gaan. Alhoewel ons nie die uiteet te duur gevind het nie, is die winkels rerig baie goedkoop en is daar klomp lekker dinge om uit te probeer. Die bakkerye is veral besonders goedkoop, met vars warm kos.


Met ekstra versnaperinge het ons weer in die pad geval en sommer net op plekke op die GPS gedruk en na willekeur rondgery. Ons het weer gestop vir 'n piekniek en verfris weer verder gery. Heel toevallig het ons op 'n besonderse roete beland met asemrowende uitsigte. Ons kon ons geluk nie glo nie. Dit was so mooi, veral toe die son later in die dag begin sak het. Ons het omtrent elke 10 minute gestop om nog fotos te neem, elke draai was net mooier as die vorige, dit was net eenvoudig ongelooflik. Die velde het vol blomme gestaan, oral was daar skoenlappers. Dit was soos 'n ander wereld. Soos mens ry verander die landskap en elke area is besonders en anders op sy eie manier. 


Ons karretjie moes omtrent sy ry ken. Op 'n stadium was ons tot 2,000 meter bo seevlak. Daar het ons op 'n uitkykpunt gekom vanwaar mens vir myle in alle rigtings kon kyk. 'n Klein poegie het daar gestaan en 'n vrou was besig om fotos te neem. Omdat sy alleen was het ek aangebied om van haar 'n foto te neem teen die uitsig en so het ons aan die gesels geraak. Sy het twee jaar vantevore in Singapoer in die padgeval met daai poegie en die wêreld, vrou alleen, so platgery. Sy het 'n elle lange lys van lande vir my opgenoem en ek kan my net indink wat sy alles moes gesien het.


Teen die einde van die dag het ons by nog 'n wonderlike uitkykpunt gekom in 'n kloof tussen die berge. Hier het ons in nog Duitsers vasgeloop en ek het met gebroke Duits aangebied om van hulle ook 'n foto te neem. Hulle was so dankbaar, hulle het vir ons kaas en brood aangebied, wat hulle besig was om langs die pad te eet. Ons het lekker gelag en gesels so met ons gemengde Engels en Duits. Dit was vir my so lekker om oral op ons vakansie sulke gawe mense te ontmoet. 


Daardie aand het ons ons omtrent vergryp aan kos en kon nie eens alles opeet wat hulle bedien het nie. Ons het die eetplekkie vroeer in die dag raakgesien en dit het beslis nie teleurgestel nie. Ons het maar gesukkel om die menu te vertaal, maar besluit mens kan inelkgeval nie ver verkeerd gaan met enige iets daar nie. Die man ager die toonbank, maak alles vir jou vars gaar van vleis wat agter 'n glas toonbank staan en ons oë was beslis te groot.


Die volgende oggend was dit tyd om weer terug te keer na die kus. Maak nie saak dat dit nog bitter vroeg in die oggend was of dat ons moes bestuur of dat ons 'nee dankie' gesê het nie, nog rajika moes ons drink voor ons gaan - om ons moed te gee vir die pad. Daai moed het ons seker nodig gehad.  Ons het nie veel tyd in Durmitor spandeer nie, die byna twee dae was vir ons behoeftes genoeg, maar ek kan verstaan dat mense keer op keer daarna terugkeer.

Ek vertel op 'n volgende geleentheid weer verder oor ons rit terug Croatia toe, ons uitstappie na Dubrovnik en ons verblyf in Cavtat.