Met ons bure wat alewig soos skoorstene rook, kan ons omtrent nie 'n venster oopmaak, sonder dat alles nie na sigarette stink nie. Dus, ten spyte van kommerwekkende weervoorspellings oor erge winde, het ons besluit om maar ons tentjie te pak en te gaan kamp, eerder as om hier rond te sit en te verstik.
Mnr Kaalvoet het vir ons 'n kampplekkie bespreek in Wyke Regis aan Dorset se Jurassic Coast Wêrelderfenisgebied tussen Weymouth en Portland. Martleaves Farm Campsite is geleë op 34 akkers pragtige platteland en is 'n terrein van spesiale wetenskaplike belang met lieflike uitsigte, goeie geriewe, nuuskierige seemeeue, windverwaaide perde en mistroostige alpakkas.
Na werk het ons eers gewik en geweeg of ons werklik die weer moet trotseer en was dus 'n bietjie laat met die wegval. Gelukkig het ons wonderbaarlik net betyds daar aangekom om die tent op te kry voor dit hard begin reen het. Die eienaar was rerig gaaf en het vir ons aan die lykant van 'n skaapskerm 'n plekkie uitgewys wat ons tot 'n mate beskerm het van die stormsterkte winde wat vanaf die see ingewaai het. Ons het selfs nog kans gekry om 'n steak te braai, maar hoe Mnr Kaalvoet daai kole aan die brand gekry het, in daai ongelooflike wind, sal ek nooit weet nie. Ek dink hy het hulle dalk aan die brand geswets so tussen deur toue en tentpenne vasslaan. Ons was bitter dankbaar vir die lekker tentpenne wat ons mense uit Suid-Afrika vir ons 'n tyd terug saamgebring het. Die storm het daai nag sy beste gedoen, en daai tent het gewoel asof hy by 'n rave is, maar daai penne het nie beweeg nie.
Die volgende oggend het ek deur die kamp gestap om te kyk hoe die res van die mense gevorder het. In een veld was 'n tent heeltemal plat, met 'n dam water in en pale wat soos geraamtes in alle rigtings staan, geen mens in sig. Ander tente het gebuigte pale gehad, party was heel skeef en ingeduik. Die wind het steeds sterk gewaai en party mense het dapper probeer om hulle tente af te slaan om te red wat daar te redde is terwyl ander weer toue aan hulle motors vasgemaak het om hulle tente beter te anker. 'n Hele paar mense het ons nogal aafgunstig aangekyk daar langs die skaapskerm. Ons het ons kar punt in die wind parkeer en agter in die kattebak ons gasstofie aan die gang gekry vir ontbyt en koffie en die vars lug en fris wind geniet.
Die middag het ons bietjie gaan rondry om Portland te verken. Die wind het steeds sterk gewaai, maar die son het geskyn. Die wind- en kitesurfers was bedrywig en die seevoëls het oral gewigloos op die winde gehang. My hare was teen die tyd 'n verlore saak en het maar in 'n koek agter my aangestroom soos ons die strande en kalksteen kranse van Portland verken het. Die wind het die seesproei in 'n waas teen die kranse uitgejaag terwyl die lang grasse lieflik in die wind gedans het.
Terug by die kamp het nuwe mense byna op ons kom opslaan en nog 'n stel mense het dig teen ons tent aan die anderkant kom parkeer om hulle tent daar op te slaan. In normale omstandighede sou dit gans te naby gewees het, veral omdat daar so baie plek was, maar hulle het natuurlik net kom skuiling soek teen die wind. Ons het maar ons vuurtjie aangesteek, weereens baie vernuftig van Mnr Kaalvoet, en lekker skaapribs en braaibroodjies gebraai terwyl ons kyk hoe hulle werkskaf in die wind hier op ons voorstoep. Ek weet nie wat die ander kampeerders geëet het nie, want ons was die enigste mense wat ek die naweek ooit sien kos maak het. Ons kon maar net lag toe die buur skimp of daar genoeg vir hulle ook is.
Saterdagaand het die wind en weer weer 'n keer sy beste probeer, maar ons tentjie het bly staan. Die volgende oggend het die nuwe kampeers maar oes gelyk met die dames wat in die badkamers kla oor hoe sleg hulle in die storm geslaap het. Ek het weer in teendeel gevoel, hoe harder die storm gewoed het, hoe lekkerder het ek knus in my bedjie geslaap. Na 'n lekker ontbyt, weereens uit die kattebak, het ons vinnig opgeslaan en ingelaai en stadig ons pad huistoe gemaak.
Sondag was lieflik en nie meer so bitter winderig nie. Ons het weer 'n bietjie in Portland gaan rondstap op die kranse waar daar soveel mooi klein dingetjies was om te sien in 'n landskap wat maar dor en vaal voorkom met al die Portland stone rotse wat die wêreld vol lê asof trolle daar oorlog gevoer het. Ons het akkedissies, klein slakdoppies en blou vlinders afgeneem en onsself baie geniet.
Die weer het dit 'n bietjie moeilik en onaangenaam gemaak om die plek behoorlik te verken en ons kan nie wag om weer daar te gaan kamp sodat ons dit selfs meer kan geniet nie.