Tuesday 23 August 2016

Windverwaaid in Wyke Regis

Met ons bure wat alewig soos skoorstene rook, kan ons omtrent nie 'n venster oopmaak, sonder dat alles nie na sigarette stink nie. Dus, ten spyte van kommerwekkende weervoorspellings oor erge winde, het ons besluit om maar ons tentjie te pak en te gaan kamp, eerder as om hier rond te sit en te verstik.

Mnr Kaalvoet het vir ons 'n kampplekkie bespreek in Wyke Regis aan Dorset se Jurassic Coast Wêrelderfenisgebied tussen Weymouth en Portland. Martleaves Farm Campsite is geleë op 34 akkers pragtige platteland en is 'n terrein van spesiale wetenskaplike belang met lieflike uitsigte, goeie geriewe, nuuskierige seemeeue, windverwaaide perde en mistroostige alpakkas.


Na werk het ons eers gewik en geweeg of ons werklik die weer moet trotseer en was dus 'n bietjie laat met die wegval. Gelukkig het ons wonderbaarlik net betyds daar aangekom om die tent op te kry voor dit hard begin reen het. Die eienaar was rerig gaaf en het vir ons aan die lykant van 'n skaapskerm 'n plekkie uitgewys wat ons tot 'n mate beskerm het van die stormsterkte winde wat vanaf die see ingewaai het. Ons het selfs nog kans gekry om 'n steak te braai, maar hoe Mnr Kaalvoet daai kole aan die brand gekry het, in daai ongelooflike wind, sal ek nooit weet nie. Ek dink hy het hulle dalk aan die brand geswets so tussen deur toue en tentpenne vasslaan. Ons was bitter dankbaar vir die lekker tentpenne wat ons mense uit Suid-Afrika vir ons 'n tyd terug saamgebring het. Die storm het daai nag sy beste gedoen, en daai tent het gewoel asof hy by 'n rave is, maar daai penne het nie beweeg nie.


Die volgende oggend het ek deur die kamp gestap om te kyk hoe die res van die mense gevorder het. In een veld was 'n tent heeltemal plat, met 'n dam water in en pale wat soos geraamtes in alle rigtings staan, geen mens in sig. Ander tente het gebuigte pale gehad, party was heel skeef en ingeduik. Die wind het steeds sterk gewaai en party mense het dapper probeer om hulle tente af te slaan om te red wat daar te redde is terwyl ander weer toue aan hulle motors vasgemaak het om hulle tente beter te anker. 'n Hele paar mense het ons nogal aafgunstig aangekyk daar langs die skaapskerm. Ons het ons kar punt in die wind parkeer en agter in die kattebak ons gasstofie aan die gang gekry vir ontbyt en koffie en die vars lug en fris wind geniet.  

Die middag het ons bietjie gaan rondry om Portland te verken. Die wind het steeds sterk gewaai, maar die son het geskyn. Die wind- en kitesurfers was bedrywig en die seevoëls het oral gewigloos op die winde gehang. My hare was teen die tyd 'n verlore saak en het maar in 'n koek agter my aangestroom soos ons die strande en kalksteen kranse van Portland verken het. Die wind het die seesproei in 'n waas teen die kranse uitgejaag terwyl die lang grasse lieflik in die wind gedans het.


Terug by die kamp het nuwe mense byna op ons kom opslaan en nog 'n stel mense het dig teen ons tent aan die anderkant kom parkeer om hulle tent daar op te slaan. In normale omstandighede sou dit gans te naby gewees het, veral omdat daar so baie plek was, maar hulle het natuurlik net kom skuiling soek teen die wind. Ons het maar ons vuurtjie aangesteek, weereens baie vernuftig van Mnr Kaalvoet, en lekker skaapribs en braaibroodjies gebraai terwyl ons kyk hoe hulle werkskaf in die wind hier op ons voorstoep. Ek weet nie wat die ander kampeerders geëet het nie, want ons was die enigste mense wat ek die naweek ooit sien kos maak het. Ons kon maar net lag toe die buur skimp of daar genoeg vir hulle ook is.

Saterdagaand het die wind en weer weer 'n keer sy beste probeer, maar ons tentjie het bly staan. Die volgende oggend het die nuwe kampeers maar oes gelyk met die dames wat in die badkamers kla oor hoe sleg hulle in die storm geslaap het. Ek het weer in teendeel gevoel, hoe harder die storm gewoed het, hoe lekkerder het ek knus in my bedjie geslaap. Na 'n lekker ontbyt, weereens uit die kattebak, het ons vinnig opgeslaan en ingelaai en stadig ons pad huistoe gemaak. 


Sondag was lieflik en nie meer so bitter winderig nie.  Ons het weer 'n bietjie in Portland gaan rondstap op die kranse waar daar soveel mooi klein dingetjies was om te sien in 'n landskap wat maar dor en vaal voorkom met al die Portland stone rotse wat die wêreld vol lê asof trolle daar oorlog gevoer het. Ons het akkedissies, klein slakdoppies en blou vlinders afgeneem en onsself baie geniet.

Die weer het dit 'n bietjie moeilik en onaangenaam gemaak om die plek behoorlik te verken en ons kan nie wag om weer daar te gaan kamp sodat ons dit selfs meer kan geniet nie.

Monday 15 August 2016

Skone Skoenlappers

Hierdie Lente en Somer het ek my nogal ingespan om insekte van nader af te neem. Ten spyte van my liefde vir fotografie, het ek geen benul van die tegniese aspek daarvan nie en is my fotos maar 'n kombinasie van geluk en kunssinnigheid.
  

Party insekte is baie behulpsaam en sit mooi stil terwyl ek probeer om hulle in fokus te bring, maar meeste van hulle is al te bedrywig en wil niks weet van 'pose' vir 'n foto nie. Buiten naaldekokers, is skoenlappers seker die moeilikste. Hulle kan net nie stilsit nie en wanneer hulle doen, is dit baie moeilik om hulle te bekruip sonder om hulle weg te skrik. Dan, as hulle wel stilsit, is hulle geneig om hul vlerke toe te vou, om sodoende jou foto te ruineer. Dus het ek nogal baie tyd spandeer om soos 'n simpel dinge in die velde rond te sluip en agter vlinders aan te hardloop. Gelukkig geniet ek dit verskriklik!

Ringlet (Aphantopus Hyperantus)


Hierdie skoenlapper is baie algemeen en een van die eerste wat ek hierdie jaar gesien het. Op die oogaf is hy bloot vaal en bruin maar tog so delikaat en sag, 'n subtiele skoonheid. Ringlets kry hulle naam nie van die standaard klein ogies bo-op hulle vlerke nie, maar eerder die ogies wat jy aan die onderkant van die vlerke vind, wat kan wissel in aantal, vorm en grootte. 


Marbled White (Melanargia Galathea)


Die Marbled White is 'n pragtige skoenlapper, uniek in terme van sy kleur en vlerkpatroon. Allhoewel hulle redelik volop is in my omgewing het ek omtrent gesukkel om hulle af te neem, maar die was die moeite werd want hulle maak pragtige fotos. Ek het veral gehou van die onderkant van hulle vlerke, wat vir my baie mooi is.
 

Comma (Polygonia c-album)


Die Comma skoenlapper het 'n bedrieglike vervelige naam vir so 'n pragtige insek. Sy vlerke is 'n lieflike diep oranje met lieflike gerifelde rante. Dit is 'n redelike algemene skoenlapper met 'n voorliefde vir brandnetel. Wanneer sy vlerke toegaan, is die onderkante bruin en lyk hy byna soos 'n ou dooie blaar.


Brimstone (Goneptyrex Rhamni)


Sy kenmerkende vorm en die opvallende are op sy vlerke, maak van die Brimstone 'n besondere mooi skoenlapper. Hierdie skoenlappers het een van die langste lewens en hiberneer deur die Winter om weer vroeg in die Lente op warm dae te voorskyn te kom.


Red Admiral (Vanessa Atalanta)


Hierdie is 'n besondere geharde skoenlapper en migreer vanaf Europa na Brittanje en kan selfs tot in Desember nog gevind word wanneer alle ander skoenlappers reeds die gees gegee het. Hulle is baie opvallend en het pragtige herlder kleure. Ek sukkel my gewoonlik dood om hulle af te neem, want as hulle jou gewaar, vlieg hulle sommer baie vinnig, baie ver weg. Ek dink die 'Admiraal' doen sy naam gestand.

Small Tortoiseshell (Aglais Urticae)


Hierdie pragtige skoenlapper kan lekker vinnig vlieg maar kan maklik afgeneem word as hy eers besig is om te eet. Met sy helder kleure is hy maklik uitkenbaar en is een van die mees algemeenste skoenlappers in Brittanje alhoewel hulle getalle op die oomblik aan die daal is. Ongelukkig is daar een of ander afskuwelike uitheemse vlieg wat se larwes op die larwe van hierdie skoenlapper teer en dus sy getalle 'n knou gee.

Peacock (Inachis Io)


Ek los my gunsteling vir laaste. Wat 'n gepaste naam vir hierdie ongelooflike mooi skoenlapper. Nie net is hulle pragtig nie, maar gewoonlik as jy gelukkig is om op een af te kom, is hulle so besig om te eet dat hulle nie eens weet dat jy daar is nie. Ek het dus honderde fotos van hierdie pragtige skoenlapper. Wanneer die skoenlapper se vlerke toe is, is dit byna pik swart en maak dit dus die skoenlapper byna onsigbaar. Met die groot oë op sy vlerke word selfs groot voëls afgeskrik en boonop kan hierdie skoenlapper 'n skreinende klank maak deur sy voorvlerke saam te skuur wat meeste voëls afskrik. Blykbaar is die mannetjie skoenlapper so territoriaal, dat hy nie net ander mannetjie skoenlappers wegjaag nie, maar ook voëls.


Daar is nog baie ander skoenlapper spesies hier wat ek graag met my kamera lens wil vasnael. Elkeen so lewe eintlik so vlugtig, so pragtig, geen wonder mense is so gefassineer met hulle nie.

Friday 12 August 2016

Kamp saam met Skape

In Julie het ons vir 'n naweek weggebreek en gaan kamp tussen die skape op New House Farm in die South Downs. Dit is 'n werkende plaas met skape, koeie, perde en mielie lande. Die kampgeriewe bestaan uit grasvelde met portaloos. Daar is dus geen storte of warm water, krag of opwasplekke nie. Die drinkwater is dieselfde kraan wat die skape se waterbak volmaak. 

Dit het ek natuurlik nie geweet nie, want ek was verlei deur die mooi fotos van skape en gras velde op die website en het nie verder gelees nie. Toe ek die eienaar gebel het om te bespreek, het hy ook weer nie genoem dat daar 'n musiekfees aan die gang is nie, iets wat ons eers uitgevind het toe ons daar opgedaag het.


Jy ry met 'n elle lange rowwe grondpad vannaf die plaashuis op na die kampplek en as jy eers daar is, gaan jy nie sommer weer op daai pad wil terug ry nie, mens karwei dus maar saam wat jy gaan nodig kry. Die eienaar is baie gaaf en kom in die aande by jou staanplek om om te sien of jy nog daar is, die geld te kollekteer vir jou staanplek en om te sien of jy enige hout by hom wil koop. Hy het nie juis omgegee oor hoe laat jy opdaag of weer vertrek nie, wat nogal lekker was toe dit kom by oppak, want daar was geen haas.

Aanvanklik het ons net verdwaas in die middel van die veld in ons kar gesit en staar na die gros kampeerders, die musiek verhoog en mense in vreemde kostuums wat rond dans. Toe het ons inderhaas 'n stil hoekie gaan vind om ons opsies te bespreek. Ons het amper besluit om maar eerder te ry, maar het toe gelukkig uitgewerk dat daar meer as een veld is om op te kamp en het toe na 'n stiller veld getrek, reg teen die skaap kamp en ver van ander mense af.   Ons kon nog die musiek in die aande hoor, maar dit het ons nie juis gehinder nie en deur die dag het die feesgangers lê en slaap en kon ons rustig die stilte en die geblêr van skape geniet. 

Skape maak nogal 'n hele aantal eienaardige geluide en ons het ure gesit en staar na hulle. Die lammers was al fris en groot en die ooie was al 'n bietjie moeg vir hulle, tog het hulle steeds bly mik vir Ma se speen en baie ontsteld geraak as sy te vêr van hulle dwaal. Dan blêr hulle hard oor en weer tot hulle mekaar weer gevind het. Die lammers het ook 'n leë emmer gevind om mee te speel, wat kostelik was. Dan deur die dag, as die son hard begin skyn, het almal gemik vir dieselfde stukkies skaduwee en dig teen mekaar daar ingebondel. Terwyl ons gaan water haal het moes ons weer ons lag inhou vir 'n jong skaap wat 'n bietjie te kort was om lekker oor die waterbak se rand te drink. Hy het ongelooflik baie geraas gemaak terwyl hy so gesukkel het om te drink en nes jy dink hy is klaar, dan gaan hy net weer aan en moet ons van vooraf ons lag inhou. 

Ons opblaas matras het natuurlik op 'n vorige kamp ingegee en ons het heeltyd beplan om dit reg te maak, maar kon nooit die gat vind nie. Ons moes dus op die grond slaap en ek was bekommerd dat tussen die musiek van die fees en die harde grond ek nie sou kon slaap nie, maar ons was elke aand uit soos 'n kers en het heerlik geslaap. Ek dink selfs die grond het my rug 'n bietjie goed gedoen.

Ons het gebraai en ontspan en saans na, eers die vlêrmuise, en dan die sterre gekyk. Geen internet, geen TV, geen krag. Net lekker rus. Ek sal enige tyd weer daar gaan kamp, volgende keer sal ek net seker maak dat daar nie 'n fees van een of ander aard aan die gang is nie.