Thursday, 2 March 2023

Vier jaar later en die wêreld het 'n wilde draai gevat

Vier jaar later en die wêreld het wraggies 'n wilde draai gevat. Ek en Mnr. Kaalvoet het in 2019 ons eerste hondjie huistoe gebring. Die kersie op die koek, die pragtigste ou dingetjie, met die sagste ou hartjie en beste maniere. Alles was baie mooi op dreef en al wat ek wou hê was dat my ouers vir ons moet kom kuier om ons ou huisie te sien en haar te ontmoet.


In Januarie 2020 het ons begin planne maak vir my ouers om by ons nuwe huis te kom vakansie hou, maar die eerste gerugte van siekte het toe reeds in China ontstaan. In Maart het hulle begin sê ons moet begin tuis bly en is restaurante en skole toegemaak, teen die einde van Maart kon ons nie meer die huis verlaat tensy dit noodskaaklik was nie. Daarna was dit maande van inperkings, inkopies opgaar, inentings, gesigmaskers, hande was en stres. Gelukkig het ons liewe Lola ons baie vreugde gebring en ons tuin was 'n seëning met al die gedwonge tuisbly en sosiale isolering. 

Teen die middel van 2021 het Engeland met alle mag probeer terugkeer na normaal. Dit het gevoel asof iemand weer die 'play' knoppie gedruk het op die lewe. Ons tweede poedel het ons lewe ingewriemel met 'n lewenslus wat skrik vir niks. Mavis was van die begin af onstuitbaar, liefdevol en propvol energie. Skielik was die huis baie bedrywig en het die lewe nuwe energie gekry. 

Covid het ons natuurlik nie vrygespring nie en het ons alby platgetrek aan die einde van 2021. Alhoewel ons oënskeinlik gesond geraak het, het dit wel my gesondheid 'n bietjie skade aangedoen. Die lewe gaan natuurlik aan en ons sien vreeslik uit na alles wat 2023 vir ons inhou. Ek beplan hope groente vir die tuin en ons het soos altyd, planne vir die huis, maar die beste van alles is dat my ouers weereens beplan om by ons te kom kuier. Nou is daar twee poedels om te ontmoet en baie meer om te sien rondom die huis en die spaarkamer gaan beslis beter ingerig wees. Daar moet nou net nie weer iets skeefloop nie en ons kan onder geen omstandighede nog 'n poedel gaan staan en koop nie, ons het net twee skote en daar is net soveel plek op die bank en in die bed. 



 

  

Tuesday, 24 December 2019

Krenkel Koekies vir Kersfees

Na ‘n volle jaar in ons nuwe huis, wou ek graag ons bure bederf. Hulle het ons so welkom hier laat voel en staan altyd gereed om te help. Ek het hierdie heerlike koekies op die BBC Good Food webwerf raak gesien en gedink dit sal die ideale geskenk maak oor die kers seisoen. Hulle is sag en nie te soet nie en laat my dink aan sneeu in die woud.

Sjokolade Fudge Krenkel Koekies

60g kakaopoeier
200g strooisuiker
60ml sonneblom olie of soortgelyk
2 groot eiers

180g meel
1tl bakpoeier

50g versiersuiker

Voorverhit die oond tot 190°C (170°c vir waaier oonde) en bedek ‘n bakplaat met bakpapier. 

Meng die kakao, strooisuiker en olie saam en voeg dan die eiers een vir een by en meng mooi deur. Meng die meel, bakpoeier en ‘n knippie sout saam en voeg dan die mengsel by die sjokolade mengsel. As die mengsel te slap is, laat dit bietjie afkoel in die yskas voor jy verder daarmee werk. 

Skep opgehoopte teelepels van die deeg uit, rol dit dan in balletjies en rol die balletjies deur die versiersuiker. Bak in die oond vir 10 minute. Laat effens afkoel en plaas dan op droograk om heeltemal af te koel. 

Die beslag lewer tussen 35 en 40 koekies en behoort ‘n paar dae lank mooi in ‘n lugdigte houer te hou. Ons het reeds helfte uigedeel en tussen ons twee reeds 8 geëet. Ek glo nie hulle gaan ‘n paar dae hou nie. Lekker smul en mooi wense vir die seisoen. 

Sunday, 2 September 2018

'n Maalkolk van Kleur in Marrakesj

Opsoek na 'n bietjie Winter wegbreek hier in die koue Noordelike halfrond, het ons net voor Kersfees in 2017 'n draai gemaak in Marrakesj, om soos twee akkedissies vir 'n week lank in die son te gaan sit en baai.


Dit was ons tweede besoek aan Marokko en ek het gedog ons weet wat om te verwag, of selfs dat Marrakesj nie heeltemal so verwarrend soos Fes sal wees nie, maar die plek was vir my heeltemal oorweldigend. Marrakesj is vreeslik besig en daar word voertuie in die Medina toegelaat, so nie net is daar hordes mense en katte en donkies en ware wat uit winkeltjies uit oorloop nie, maar ook motors, poegies en fietse wat onmoontlik vinnig in die nou straatjies afjaag met geen teken van verkeersreëls nie. Pop jy natuurlik by 'n winkeldeurtjie in om 'n haastige voertuig te ontsnap, word jy deur die winkel eienaar oorrompel wat dadelik dinge aan jou probeer verkoop. 


Omdat ek nie daarvan hou om mense se privaatheid te skend deur te veel fotos te neem met mense in nie, kan my fotos nie juis wys hoe mal Marrakesj werklik is nie. Gelukkig is daar baie agterstraatjies waar dit stil is en waar mens wegkom van die inkopie areas en net die argitektuur, die tuine en die geskiedenis van hierdie merkwaardig plek kan waardeer.


Ek het veral baie daarvan gehou om te sien hoe die inwoners van die Medina leef. Dis so maklik om te dink dat Marrakesj bloot 'n toeriste bestemming is, maar oral is dit duidelik dat menigde mense hier woon en werk, hulle kinders hier grootmaak en hulle geloof hier met groot eerbiedigheid en toewyding beoefen.

 
Marrakesj se groot trekpleister is natuurlik die groot plein in die middel van alles, Jemaa el-Fnaa. Gedurende die dag is die reuse plein relatief stil met stalletjies wat vars lemoensap en kos verkoop. Plek plek staan daar mense met apies aan toutjies wat jou probeer nader lok en loop mens lang draaie om die manne wat op die matte sit en slange betower met hulle vreemde deuntjies. Almal hier probeer jou aandag trek om iets aan jou te smous of jou dalk 'n aap in die arms te stop. Om 'n foto te neem van enige van hierdie dinge is 'n risiko, want hulle wil betaling hê. Jong seuns bied gedurig aan om jou na 'die beste' restaurant te neem en vrouens sit in groepies, gereed om jou hande met henna te verf. Soos dit donkerder word, raak dit al hoe besiger en besiger. Hordes kosstalletjies verskyn en vure word aangesteek, groepe mans kom staan en luister na storievertellers wat hulle staaltjies vertel met behulp van vreemde tromme en instrumente. Seuns wys af teenoor mekaar met tradisionele en moderne dansies en almal maak hulle eie musiek so hard as wat hulle kan. Groot matte word neergelê en tradisionele medisyne en vreemde ware word netjies uitgepak. Oral speel kinders en meer en meer mense daag op, totdat jy amper nie meer kan beweeg nie. Elke aand daar voel soos 'n fees, 'n kakofonie van klank, kleur en geur. 


Ons het nie heeltemal kans gesien vir die kosstalletjies op die plein nie en het eerder by restaurante gaan eet. Meeste restaurante bedien hulle kos op die tweede verdieping wat dan vir jou 'n heerlik uitsig oor alles gee, vanwaar jy die chaos kan gade slaan en saans kan kyk hoe die reuse oranje maan oor die medina opkom. Ons gunsteling eetplek saans was Kosy Bar, waar hulle heerlike en interessante kos bedien het in 'n ongelooflike rustige atmosfeer. Bedags het ons gereeld by Cuisine De Terroir ingepop met hulle ontspanne atmosfeer, skoon restaurant en badkamers en heerlike, interessante, bekostigbare kos. En oral waar ons kom drink ons natuurlike heerlike kruisement tee, wat nie net goed is vir jou maag nie, maar ook lekker verfrissend.


Gedurende die dae het ons die Souk kruis en dwars platgestap, 'n doolhof van winkeltjies en ware. Van die ware word iewers in fabrieke vervaardig, maar baie van dit word net daar met die hand gemaak op eeue oue metodes. Oral is daar lieflike klere, leer, glas, silver, speserye, matte, skoene, medisyne en erdeware. Dinge wink en blink aanloklik uit die klein donker winkeltjies en lieflike matte en handgeverfde bakke hang teen die mure van die doolhof straatjies. Die geure is soms so oorweldinged soos die kleure, met mense wat kos maak, diere slag, lemoene pars en kosbare wierook en mirre brand terwyl daar oral poegies ry wat stof opskop met uitlaatgasse wat nêrens heen kan gaan in die klein beknopte stegies. Kort kort sal daar 'n man met 'n waentjie of reuse sakke vol kruisement verbykom en dan ruik alles skielik vir 'n oomblik so vars en skoon dat jou oë glad water. Van die handelaars kan opdringerig wees, maar baie van hulle is vreeslik gaaf en behulpsaam en neem hul tyd om hulle ware en tradisies mooi aan jou te verduidelik sonder enige verwagting dat jy iets moet koop. Die mense hier geniet dit werklik om te kibbel oor die prys van hulle ware. Om die eerste prys wat hulle aanbied te aanvaar, is omtrent 'n teleurstelling vir hulle. Ek bied gereeld die helfte van die voorgestelde prys aan en word dan met groot drama vertel dat ek die kos uit die monde van sy kinders neem. So kan mens lekker heen en weer kibbel, maar moet nie daarmee begin as jy nie werklik die ware wil hê nie. Om weg te stap is net nog 'n metode om 'n prys af te bring, en dus as jy wegstap sal hulle agter jou aanstap om goedig beter pryse aan te bied. Solank mens dit alles gemoedelik hou en eerlik met die mense te werk gaan, kan dit 'n rerige lekker ondervinding wees. 


As jy 'n goeie idee wil hê van wat dinge werklik kos of nie lus het om met mense te stry oor pryse nie, gaan besoek gerus die Ensemble Artisinal. Hier vind jy dieselfde wye verskeidenheid handgemaakte ware, maar die pryse is vas en duidelik aangedui en niemand hier sal produkte aan jou opdring of met jou stry oor hoeveel dinge kos nie. Daar is ook plek om te eet, te sit en ontspan onder lemoenbome of om te kyk hoe die mense hulle ware maak. Ons het 'n hele paar keer hier 'n draai gaan gooi omdat dit so 'n rustige atmosfeer gehad het. 


Ons het natuurlik 'n gelukskoot getref met ons keuse in verblyf. Riad Jnane Jdid was net mooi vergenoeg weg van dinge dat dit 'n stil oasis was om heen weg te breek vanaf die geroesmoes van alles in die stad, maar naby genoeg dat ons binne minute se stap ons weer in die middel van alles bevind het. Daar kon ons elke oggend in die son op die dak ons ontbyt geniet met 'n uitsig oor die Atlas gebergtes en het ons oor die hitte van die dag in die koel gebou ontspan. Op ons laaste dag daar het ons met die Riad afgespreek dat hulle vir ons daar 'n tradisionele aandete sou bedien. Hulle kry dan 'n plaaslike vrou om die kos in haar kombuis voor te berei en dit dan na die Riad te bring. Dit was heerlik en ek het die kos so geniet dat ek nou my eie resep daarvoor opgedroom het met ingelegte suurlemoene, roosblare en olywe. 


Op ons laaste dag het ons ook vir 'n hammam gegaan. Ek sal dit rerig aanbeveel, veral om dit op die laaste dag te doen, sodat jy weer skoon en mens kan voel na al die stof in die strate. Die hammam was omtrent 'n belewenis. Om as volwassene deur 'n ander persoon van kop tot tone gewas, geskrop en ge-olie te word, is rerig vreemd, maar ons het die baie geniet. Ek het ook 'n tradisionele massering gehad, waar die vrou my hele lyf, selfs my ore en oogballe gemasseer het. Lanklaas het ek so bederf gevoel. Die hele ondervinding het baie outentiek gevoel, met niks modern, opgesmuk of aangesit. Tussen ons en die vrou het ons nie een taal ingemeen gehad nie, maar tog het ons oor die weg gekom. Sy was so 'n warm mens en het ons gou op ons gemak gesit, selfs onder die vreemde omstandighede. Met my gebroke Frans kon ek haar darm vertel dat ons van Suid-Afrika af kom, sy kon nie glo dat ons nie 'noir' was nie, maar 'blanc' en was in haar noppies dat ons almal dus vanaf Afrika was.

Friday, 31 August 2018

'n Nuwe Noordelike Avontuur

Vir die min mense wat wel my Blog lees moet ek om verskoning vra dat ek so lanklaas enige iets geskryf het. Aan die einde van 2017 het die lewe skielik 'n opwindende wending geneem en nou bevind ek en Mnr. Kaalvoet ons in die Noorde van Engeland, in pragtige Northumberland. Ek is nie seker hoe die lewe so met my weggehol het dat ek nie 'n kans gehad, of gesien het, om te skryf nie, maar nou voel ek uiteindelik weer of my voete op vaste aarde staan en sien ek weer kans vir 'n bietjie skryf.


Na 10 jaar in en om London het ons meer as 300 myl weggetrek van alles en almal wat ons ken, maar in die 6 maande wat ons nou hier buite Newcastle-upon-Tyne woon, was ons nog nie 'n dag spyt nie. Ons nuwe dorpie is op die Tyne Rivier, 'n ent buite die stad, en ons is omring deur die platteland.

Toe ons in die Winter hier aangekom het, het dit so gesneeu dat daar dae was dat ons nêrens heen kon ry nie en die winkels en paaie almal toe was. Ek het in die sneeu langs die rivier afgestap en die wit landskap bewonder. Ons het jare laas ordentlike sneeu in die Suide gesien en dit was so lekker om dit so onder my voete te voel knars. Dit was wel 'n besonderse koue Winter en ek het geen idee of dit weer hier so sal sneeu nie. Net die tyd sal leer. 


Die Somer, wat nou hier einde se kant toe staan, was heerlik. Meeste van Europa was in die greep van hittegolwe, maar hier was dit net lekker.  Met die see net 'n bietjie meer as 'n halfuur se ry weg, het ons 'n wonderlike tyd gehad. Ek kon gereeld in die kar spring om 'n bietjie te gaan swem en snorkel gedurende die week en oor naweke kon ek en Mnr. Kaalvoet lekker die kus gaan verken. 


Dit voel of ons hier omring is met wonderlike vooruitsigte. Ons het toegang tot lieflike strande en kan maklik uitry na nasionale parke, soos die Lake District, die Noord Pennines of Noord Yorkshire Moors en ons is gerieflik naby aan Skotland. Wildlewe en voëls is meer volop en die lug en water kwaliteit is beter. Die nadele is natuurlik dat hier minder werksgeleenthede is en dat dit kouer is as in die Suide, maar die hartlike mense maak meer as genoeg op vir die ongure weer - dis nou as jy kan verstaan wat hulle sê.


Ek weet nie wat die toekoms alles hier vir ons gaan inhou nie, maar ek sien uit om uit te vind en intussen maak ons die meeste van elke liewe dag.


Thursday, 28 December 2017

Yskoud in Asemrowende Ysland

Ons was nog opsoek na 'n vakansie iewers in die sonskyn, om 'n bietjie weg te kom van die Britse Winter, toe ons heel toevallig op super goedkoop vlugte na Ysland afkom in November. Die kans kon ons nie laat verbygaan nie en so bevind ons onself 'n kort rukkie daarna oppad na hierdie besonderse eiland in die koue Noorde.


Meeste mense besoek Ysland in die Somer vanaf Junie tot Augustus, wanneer die dae langer is en die weer warmer, maar as jy hoop om die Noordeligte te beleef, is dit beter om in die Herfs of Winter te gaan. Winter bring natuurlik korter dae en kouer weer. Met ons besoek in November het ons 7ure daglig gehad, maar dit was meer as genoeg om alles te sien en te doen wat ons wou. Ek was bietjie bekommerd oor hoe koud dit sou wees, maar met die regte klere, het die weer ons nie in die minste gepla nie. Oral sal jy lees dat die weer daar baie wisselvallig is en dit was werklik waar - as jy nie hou van die weer nie, wag net 5 minute, dan het alles weer verander. Ons het besonderse heerlike weer gehad, met baie sonskyn en oop blou lug. Moet net nie dink jy kan jou handskoene of mussie vergeet nie, dit lyk dalk heerlik, maar dit is baie koud. 


Ons het daar aangekom nes die son sak en moes vinnig eers ons huurmotor gaan haal by Geysir, voor ons die pad na ons verblyf in Stokkseyri, net buite Eyrarbakki, aanpak. In Ysland maak meeste winkels vroeg toe en ons het seker gemaak ons stop by die eerste beste supermark om kos en sjokolade melk op te tel. Dinge daar is baie duur en alhoewel die vliegtuigkaartjies relatief goedkoop was, was die 4x4 huurmotor nie, en selfs die goedkoopste verblyf (ons het by mense in hulle huise tuisgegaan), was meer as wat ons gewoonlik sal betaal. Ons was dus nie van plan om uit te eet nie en ek het seker gemaak om vir ons klomp padkos (selfs 'n pakkie droëwors) in te pak. Alle water, selfs in die strome, is van die skoonste water in die wêreld, en ons het dus 'n waterbottel ingepak, sodat ons nie water hoef te koop nie en verder het ons 'n koffiefles met aanmaak koffiesakkies ingepak vir ietsie warm deur die dag. Verder het ons hier en daar by Bónus en Krónan, die goedkoopste supermarkte, gestop om brood, kouevleis, chips en nog sjokolade melk op te tel en ons het rerig lekker geëet.
  

Oppad na Stokkseyri was dit reeds stikdonker. Ons het aanhou uitkyk by die vensters om te sien of ons die Noordeligte gewaar en was wraggies so gelukkig om op ons eerste aand al 'n smakie daarvan te kry. Kort daarna het die maan ook goudgeel opgekom oor die Ölfusá rivierkom net buite Eyrarbakki. By ons verblyf aangekom ontmoet ons toe 'n man van die Oekraïne, hy en sy vrou het ook daar tuis gegaan, en dit was hul laaste aand na 'n week in Ysland. Na 'n hele week, was daardie aand die eerste aand wat hy die Noordeligte gesien het, en dit was maar 'n flou vertoning. Ek het hom jammer gekry, want dit was duidelik dat dit die hoofrede vir hul vakansie was. 

Die huismense was baie vriendelik en die kamer, badkamer en kombuis baie skoon, modern en gerieflik. Ons kon hulle kombuis gebruik om vir ons kos te maak en moes net sorg dat ons vroeg soggens uit te pad uit bly terwyl hulle en die kinders gereed maak vir werk en skool. Dit was nogal lekker om so saam met 'n familie te bly. Die bed was bitter gemaklik en knus en die huis so warm, dat ons met 'n venster moes oop slaap.

Die volgende oggend het ons die fles vol koffie gemaak, ons padkos gepak en in die pad geval om te gaan verken. Ons eerste stop was Seljalandsfoss, 'n 60m hoë waterval waaragter 'n smal, modderige paadjie verbygaan waar mens agter die waterval om kan stap - as jy nie omgee om sopnat te raak nie en nie bang is jy gaan gly op die ysige, gladde, modderige paadjie nie. Ysland is nogal groot op selfstandigheid en toeriste moet hulle trap ken by baie van die besienswaardighede. Om agterom die waterval te kan stap was 'n ongelooflike ervaring. Ons was sopnat toe ons weer terug was op vaste aarde en my bene was net so effens bewerig in dankbaarheid dat ek nie gegly het en iets oorgekom het nie. 


Daarna het ons die pad gevat na die swart strande en basalt kolomme van Reynisfjara strand naby Vik. Met die ry het ons ons vergaap aan die landskap en die ongelooflike weer. Ons kon letterlik sien hoe reusagtige reënbuie in en verby waai en kon so ry en stop sodat ons net net heeltyd son het of veilig in die kar wegkruip in die ongure weer soos dit verbykom. Plek plek ry jy deur sneeu en dan skyn die son weer skielik ewe vrolik asof niks gebeur het nie. By Reynisfjara het ons uitgeklim en ons vergaap aan die onaardse omgewing met die gitswart sand onder ons voete. Die wind het al hoe sterker en sterker gewaai en oppad terug na die kar, kon ek letterlik al my gewig terugleen in die wind sonder om om te val. Ons het net betyds die kar gehaal, toe stort dit neer. Ek is nie seker hoe die res van die toeriste op die strand gevaar het nie, maar ons het heel knus in die kar gesit en piekniek hou. 


Met die slegte weer in Vik het ons terug gedraai in die sonskyn in om Skógafoss waterval te besoek. Hier kan mens met 'n paadjie al teen die berg uitklim om die waterval van bo af te bekyk. Ons het verkies om tot teen aan die waterval se voet te stap om daar in die ysige sproei te staan en ons te verwonder aan die krag van die natuur. 


Langs hierdie roete kan mens ook stop om Eyjafjallajökull van ver af te besigtig. Dit lyk so bitter rustig daar en dit was moeilik om te glo dat hierdie sneeubedekte pieke so 'n aktiewe vulkaan versteek. 

Teen die tyd moes ons maar aanstaltes maak om terug "huistoe" te keer, sodat ons betyds by 'n winkel kon uitkom om aandete te koop en kos vir die volgende dag se avonture aan te skaf. Ons wou ook nie op ons eerste uitstappie te laat in die donker, ver van die huis af gestrand raak nie. 

In die winkel het ons lekker al die kos en produkte verken en vir ons cordon bleus vir aandete gekoop en vars brood, koue gerookte lam en kruie botter vir die volgende dag. Terug by die huis kon ons lekker kosmaak in die kombuis en 'n bietjie ontspan voor ons weer terug in die kar geklim het met ons kameras om die Aurora te gaan jag. Daardie aand het ons 'n absolute skouspel beleef. Mnr. Kaalvoet was so opgewonde soos 'n kind en ek was so stomverslae, ek kon omtrent nie verstaan wat ek sien nie. Die groen, pienk en pers kolomme en linte het oor die sterbelaaide swart doek van die nag gedans. Dit was absoluut betowerend.


Terug by die huis het ons doodmoeg en doodgelukkig in die bed geval en baie vas geslaap. Die volgende oggend was ek dankbaar dat ek reeds die vorige aand ons broodjies gemaak het en het ons net 'n paar minute nodig gehad om nog 'n fles koffie te maak sodat ons die son kon sien opkom vanaf die rooi rante van die vulkaniese kratermeer, Keriđ.


Ons volgende stoppunt was die geotermiese velde van Haukadalur, waar die vermaaklike Strokkurgeiser elke paar minute byna 20m die lug in spuit. Die oorspronklike Geysir is ook hier geleë, vanwaar die woord geiser vandaan kom. Oral rondom die geisers is daar stomende strome en kokende, borrelende poele. Die goue son het deur die stoom gestroom en dit was rerig besonders om so naby aan die geisers te kon staan en kyk hoe hulle spuit.


Weereens moes jy maar jou trap ken en jou gesonde verstand gebruik. Met die kokende water wat oral spuit en borrel, was daar 'n baie behulpsame bordjie wat aangedui het dat die naaste hospitaal sommer baie ver weg is. Ons het reg by die agterste ingang van die park gestop en kon na ons stappie lekker in die kar sit en koffie drink en broodjies eet, terwyl ons kyk hoe die geisers spuit.  

Vandaar het ons gery om die ongelooflike Gullfoss te gaan bewonder. Die magtige waterval is die gewildste toeriste-aantreklikheid in Ysland en ek kon verstaan hoekom. Daar was soveel mense daar, dat ek my nie kan indink hoe dit moet lyk in die Somer nie. 


Na die oggend se aktiwiteite was dit tyd om 'n bietjie te gaan ontspan en het ons die koppies ingery opsoek na 'n semi versteekte warmwaterbron op 'n plaas. Daar aangekom was ons bly om te vind dat die mense wat reeds daar was, juis oppad was en kon ons 'n bietjie die warm water op ons eie geniet voor die volgende paar mense daar aangekom het. Dit was heerlik ontspannend om so in die natuur in die warm water te sit, maar natuurlik minder lekker om uit die warm water te klim en weer mens se klere aan te trek. 'n Ou kliphuisie met 'n grasdakkie staan bo-oor die bron sodat mens darm so 'n effense beskutte plekkie het om te verkleë.


Oppad na ons verblyf vir die volgende twee aande het ons deur Þingvellir Nasionale Park gery in die hoop om nog na Öxarárfoss te gaan kyk, maar dit was reeds te laat en donker. Die park was steeds bitter mooi in die skemer en dit was ongelooflik om te dink dat ons tussen die Noord-Amerikaanse en Eurasiese tektoniese plate kon ry.  Þingvallavatn, die grootste natuurlike meer in Ysland, was so mooi, dat ons net eenvoudig moes stop om die weerkaatsing van die pienk skemer in die spieelgladde waters te bewonder.


Terug in die stad moes ons deur 'n sneeustorm jaag om by ons verblyf aan te kom. Dit was reeds laat en ons het gesukkel om kos te kry, maar was so moeg en tevrede, ons het nie juis omgegee nie. Ons nuwe slaapplek was naby die lughawe in Reykjanesbær geleë. Die mense was so vriendelik en hulle het die oulikste Yslandiese skaaphond wat mens warm verwelkom deur op jou voete te kom sit en met groot oë vir jou te staar tot jy haar vryf. Die kamer was lekker ingerig en ons het heerlik daar geslaap.

Op ons laaste dag was die plan om dit rustig te vat, maar ons het ons misgis met die stappie op teen die berg na die warm riviere in Reykjadalur. Die hele vallei stoom in die koue en die 3km staproete na die warmwater riviere is iets besonders. Wees wel gewaarsku dat die toestande in die Winter gevaarlik kan wees, die paadtjies is ysig en daar is nie iets soos handrelings nie. Plek plek stap jy oor stomende strome en verby kokende poele, met die reuk van swael wat swaar in die lug hang. Nes jy hoop die swemarea is om die volgende draai, strek die kronkelpad nog doerie deur die sneeu die berg uit.


Uiteindelik het ons dit gehaal en vinnig verkleë sodat ons die water kon geniet. Gelukkig, na al die stap, is dit nie eintlik so moeilik om jou klere uit te trek nie, ten spyte van die bitter koue bo in die berge. Die ergste is om kaalvoet daar te staan. Jou voete brand so van die koue dat jy hulle na 'n paar sekondes byna nie meer kan voel nie. Wees ook gewaarsku, daar is nie verkleë kamers nie, bloot windskerms waaragter mens so effens kan skuil, maar daar is werklik geen rede om jouself te bekommer nie. Jy is oop tot die natuur, die elemente en ander toeriste, maar mense is beleef en beskaaf en almal is tog in dieselfde bootjie.


Om wel uit te klim in die koue met jou warm nat lyf en dan weer jou klere te probeer aantrek sonder om te gly op die ys, is geen grap nie. Mnr. Kaalvoet moes omtrent aan my klou op een stadium sodat ek nie op my agterstewe beland nie. Af teen die berg is ook toe nie soveel makliker as op nie. Die ys was so glibberig en ek was baie dankbaar vir die skoenspykers wat ek gekoop het om bo-oor my skoene te dra. Sonder hulle sou ek belis my alie gesien het. 

Na hierdie uitstappie was die dag halfpad verby en ons redelik uitgeput. Ons het ons padkos geëet en weer in die pad geval, deur Þingvellir Nasionale Park, na Laugarvatn Fontana, 'n lieflike spa met natuurlike stoombaddens, minerale poele en 'n sauna om ordentlik te gaan ontspan. Die plek is lieflik ingerig met 'n uitsig oor Laugarvatn meer en relatief redelik beprys.  Ons het teen skemer daar aangekom en vir ure in die baddens, stoomkamers en sauna ontspan. Die nag was koud en oop en ons kon heerlik in die warm water lê en opkyk na die sterre. Plek plek het kerse langs die baddens geflikker en met die gedempte lig en digte stoom het dit 'n heerlike intieme atmosfeer geskep. Teen die tyd wat die Noordeligte bo ons koppe begin dans het, was ons verbaas om te vind dat ons basies alleen in die poele was en die ander besoekers reeds in gegaan het om in die restaurant te gaan eet. Dit was 'n droom ervaring om daar in die water te dryf en na die groen ligte in die hemel te kyk. 


Oppad terug na ons slaapplek vir die laaste aand, kon ons nie help om eers weer op 'n verlate stuk pad te stop en daar in die absolute donkerte na die Aurora te staar nie. Ons het eers baie laat in die bed gekom, heerlik geslaap en met 'n swaar hart die volgende oggend op die vliegtuig geklim.


Ek kan nie wag om weer te gaan nie en kan Ysland aan enige iemand aanbeveel.   

Friday, 24 November 2017

Perfekte Pampoenpoffertjies

Onlangs nooi 'n vriendin ons oor vir ete en vra dat ek asseblief pampoenkoekies moet saambring. Ek wou seker maak ek bring die regte ding en vra toe of sy eerder pampoenkoekies of pampoenpoffertjies wil hê en verduidelik die verskil. Toe ek haar vertel van die heerlike  poffertjies in die dik karamelsous, was dit dadelik duidelik wat haar voorkeur was. Ek was maar te gewillig om in te stem. Wie kan nou so 'n ou soet poffertjie weerstaan? Nie ek nie!

Gelukkig het ek reeds 'n blikkie gaar pampoen in die kas gehad en was dit dus nie nodig om nog vooraf pampoen ook te kook nie. Met net 'n paar ekstra goedtjies van die winkel af en uit die koskas, kon ek sommer heel vinnig hierdie maklike gereg optower.  

Mnr. Kaalvoet het ewe hulpvaardig rondgestaan in die hoop om die strooppot uit te lek en was maar te gewillig om uit te help met skottelgoed was. Ek het nog nooit 'n man so ongeduldig gesien vir sous om klaar te kook nie en ek moes net keer dat hy nie sy mond verbrand toe dit by die uitlek kom nie. 

Pampoenpoffertjie Resep
(lewer 24 poffertjies)

Poffertjies
1 koppie Meel
1 koppie gaar Pampoen
1 Eier
¼ koppie Melk
2 teelepels Bakpoeker
1 eetlepel Strooisuiker
1 teelepel Gemengde Spesery (Mixed Spice - Kaneel, Neutmuskaat, Gemmer en Naeltjies) of Kaneel
'n Knippie Sout
Olie vir Diepbraai

Meng al die bestandele saam tot 'n gladde beslag en diepbraai eetlepels vol tot goudbruin. Laat goed dreineer.

 Sous
1 koppie Room
¾ koppie Suiker
½ koppie Goue Stroop
3 eetlepels Botter
1 teelepel Vanielje

Meng al die bestandele saam in 'n potjie en laat prut vir so 10 tot 15 minute tot 'n dik sous. Giet die sous oor die poffertjies en SMUL!!

Ek het my poffertjies en sous sommer al vroeg gemaak en dit in 'n oondvastebak met 'n deksel gesit en dit voor ete net in die oond laat opwarm. Ons het al te lekker geëet en toe die poffertjies op was, het ons sommer met ons lepels saam sit en sous uitkrap. Dis die perfekte ding om 'n koue, donker Britse dag op te kikker.


Friday, 1 September 2017

Mooiste Montenegro - Durmitor

Na vier fantastiese dae aan die kus van Montenegro, was dit tyd om die rit die binneland in, na Durmitor Nasionale Park, aan te pak.


Ons het met 'n swaar hart afskeid geneem van Miloš en vir oulaas gaan swem. Ek moes ook natuurlik eers Mnr. Kaalvoet se arm draai om vir my by 'n nabygeleë Antieke Handellaar te stop. Ons het elke dag verby die plekkie gery en nooit kans gekry om daar te stop nie. In die oggende was ons te haastig en in die aande, wanneer ons laat eers huis toe gekom het, was dit reeds toe. Gelukkig vir Mnr. Kaalvoet was al die goedjies wat my oog gevang het hopeloos te duur en is ek met leë hande daar weg. Die handelaar het seker gedink omdat ek met hom in Duits gepraat het, dat ek vol geld was. Min weet hy! Terug by die kar wys Mnr. Kaalvoet vir my 'n tamaaie groot sprinkaan wat aan die kar vasklou. Ons moes net keer of hy kruip by die vensters in. Tyd om die ruite toe te draai en die lugverkoeling te gebruik!


Na vier dae van rondry en verkenning het ons nou al reeds geweet dat dit ons beslis nie net drie na vier ure sou neem om Durminor te bereik nie. Maak nie saak wat die GPS masjientjie vir ons sê nie. Ons het deur Podgorica gery en net voor ons by die Morača Kloof in is het ons vir brandstof gestop. Selfs na meer as 'n 100km op 'n snelwel en oor berge was daai sprinkaan nogsteeds dood luiters aan die klou.

Die Morača Kloof is lieflik met styl hellings af tot in die bitter blou waters van die Morača Rivier. Alhoewel die pad as een van die wêreld se gevaarlikste paaie geag word, vanweë hoe nou hy is, die styl afgronde en die moontlikheid van rotsstortings...en die plaaslike mense se minagting van al hierdie gevare, is dit steeds 'n bitter mooi roete en die moeite werd. Ons het plek plek gestop om die waters benede te bewonder en teen die kranse uit te staar. Die kronkels, tonnels en styltes het dit alles 'n besonderse roete gemaak.


Vandaar het ons deur Kolasin gery en stadig maar seker die gebergtes van Durmitor begin opry oppad na Žabljak en ons bestemming daar naby in Razvršje. Kort kort het ek Mnr. Kaalvoet se selfoon gebruik om te bepaal hoe hoog ons bo seespieel is, want nes jy dink jy is bo-op die berg, dan sien jy dit is maar net die voet van nog 'n berg waarteen jy nog moet uit ry.  


Uiteindelik het ons laat die middag by Razvršje opgedaag. Daar was aanvanklik eers 'n hele 'waar is ons verblyf?' petalje, maar uiteindelik, na 'n hengse gesukkel waar ons die hele plek volgejaag het en sommer bo-oor 'n veld gery het, het ons die plek gevind - toe glad nie so moeilik nie, ons moes net 'n 100m verder gery het van waar ons aanvanklik gedink het dit is. So moeg was ek lanklaas, maar die onvangs daar was so vriendelik. Dadelik was daar vir ons rakija (tuisgemaakte brandewyn) in die hand gestop, gevolg deur heerlike donker, swaar koffie. Ons het sommer net daar voor die huisie gesit en gesels en vriende gemaak met Duitsers wat daar naby gekamp het. Die eienaars het ook vir ons heerlike tuisgemaakte kos aangebied, veel goedkoper as wat mens op die dorp sou betaal, en genoeg om enige persoon trommel dik te maak. Mnr. Kaalvoet het vis, vars gevang deur die eienaar in 'n nabygeleë meer, gehad en ek het 'n bord vol vleis gekry. Ek weet nie of die katte en honde daar troeteldiere was nie, want dit het gelyk of hulle sommer maar net daar buite rond bly, maar hulle het omtrent daai kos uit ons monde gekyk.


Na ete was ons baie vol en het in die skemer deur die dorp gestap. Dit was bitter lieflik met veldblomme en voëls, alles so stil en rustig en so baie ver verwyderd van die res van die wêreld. Ons het maar naby aan die dorp gehou, want ons nuwe Duitse vriende was baie opgewonde om ons te vertel dat hulle vroeer die dag op wolf spore in die omgewing afgekom het. Wolwe het ons wel nie gepla nie, maar die muskiete was 'n ander saak.


Na 'n goeie nag se rus, het ons vir ons 'n piekniek gepak en die roete na die Swart Meer (Crno Jezero) ter voet aangepak, oor die berg, agter ons verblyf. Dis nou daar waar die ou die visse gevang het en hy het beloof dis net 20 minute se stap soontoe. Natuurlik was dit nie 20 minute se stap nie, maar steeds die moeite werd. Die stap oor die berg was soos 'n ander wereld, alles was so ongeskonde. Van die wolwe en bere was daar geen teken, maar ons was gelukkig genoeg om 'n swart eekhoring te sien. 


By die meer het ons heerlik gepiekniek en was teen die tyd so warm gestap, dat ek sou geswem het as ek kon, al is die water blykbaar bitter koud. Daar was soveel om te sien en ons het ons tyd gevat om stadig om die meer te stap. Oral het daar wilde aarbeie gegroei, akkedisse op die klippe gesit en bak en voëls in die bome gesing. Ons het op 'n dammetjie vol salamanders afgekom en op plekke kon jy versteende boomstompe binne-in die rotse sien. 


Met die stappie terug het ons 'n ander roete aangepak, wat blykbaar nog vinniger moes wees, maar so styl dat ek halfpad vir Mnr. Kaalvoet gesê het hy moet maar aangaan sonder my. Ek het gedink ek is stap fiks, maar as mens ingedagte hou dat die area byna 1,500m bo seevlak is, kan mens seker verstaan dat die lugdruk 'n bietjie erg kan raak as mens nie daaraan gewoond is nie. En daai berg was rerig styl!

Al het ons lekker gepiekniek was ons alweer honger na die uitstappie en het ingery Žabljak toe om vir ons nog börek te gaan koop en by die supermark om te gaan. Alhoewel ons nie die uiteet te duur gevind het nie, is die winkels rerig baie goedkoop en is daar klomp lekker dinge om uit te probeer. Die bakkerye is veral besonders goedkoop, met vars warm kos.


Met ekstra versnaperinge het ons weer in die pad geval en sommer net op plekke op die GPS gedruk en na willekeur rondgery. Ons het weer gestop vir 'n piekniek en verfris weer verder gery. Heel toevallig het ons op 'n besonderse roete beland met asemrowende uitsigte. Ons kon ons geluk nie glo nie. Dit was so mooi, veral toe die son later in die dag begin sak het. Ons het omtrent elke 10 minute gestop om nog fotos te neem, elke draai was net mooier as die vorige, dit was net eenvoudig ongelooflik. Die velde het vol blomme gestaan, oral was daar skoenlappers. Dit was soos 'n ander wereld. Soos mens ry verander die landskap en elke area is besonders en anders op sy eie manier. 


Ons karretjie moes omtrent sy ry ken. Op 'n stadium was ons tot 2,000 meter bo seevlak. Daar het ons op 'n uitkykpunt gekom vanwaar mens vir myle in alle rigtings kon kyk. 'n Klein poegie het daar gestaan en 'n vrou was besig om fotos te neem. Omdat sy alleen was het ek aangebied om van haar 'n foto te neem teen die uitsig en so het ons aan die gesels geraak. Sy het twee jaar vantevore in Singapoer in die padgeval met daai poegie en die wêreld, vrou alleen, so platgery. Sy het 'n elle lange lys van lande vir my opgenoem en ek kan my net indink wat sy alles moes gesien het.


Teen die einde van die dag het ons by nog 'n wonderlike uitkykpunt gekom in 'n kloof tussen die berge. Hier het ons in nog Duitsers vasgeloop en ek het met gebroke Duits aangebied om van hulle ook 'n foto te neem. Hulle was so dankbaar, hulle het vir ons kaas en brood aangebied, wat hulle besig was om langs die pad te eet. Ons het lekker gelag en gesels so met ons gemengde Engels en Duits. Dit was vir my so lekker om oral op ons vakansie sulke gawe mense te ontmoet. 


Daardie aand het ons ons omtrent vergryp aan kos en kon nie eens alles opeet wat hulle bedien het nie. Ons het die eetplekkie vroeer in die dag raakgesien en dit het beslis nie teleurgestel nie. Ons het maar gesukkel om die menu te vertaal, maar besluit mens kan inelkgeval nie ver verkeerd gaan met enige iets daar nie. Die man ager die toonbank, maak alles vir jou vars gaar van vleis wat agter 'n glas toonbank staan en ons oë was beslis te groot.


Die volgende oggend was dit tyd om weer terug te keer na die kus. Maak nie saak dat dit nog bitter vroeg in die oggend was of dat ons moes bestuur of dat ons 'nee dankie' gesê het nie, nog rajika moes ons drink voor ons gaan - om ons moed te gee vir die pad. Daai moed het ons seker nodig gehad.  Ons het nie veel tyd in Durmitor spandeer nie, die byna twee dae was vir ons behoeftes genoeg, maar ek kan verstaan dat mense keer op keer daarna terugkeer.

Ek vertel op 'n volgende geleentheid weer verder oor ons rit terug Croatia toe, ons uitstappie na Dubrovnik en ons verblyf in Cavtat.