Friday, 3 March 2017

Beste Broodpoeding

Ek moet bieg, ek het nog nooit van broodpoeding gehou nie. Volgens my was dit maar 'n swak verskoning van 'n poeding, maar  ek moes my deuntjie verander toe ek onlangs op 'n resep afgekom het wat baie lekker geklink het, en nog lekkerer gesmaak het, veral na ek 'n paar toevoegings gemaak het.

5 Februarie was Wêreld Nutella dag en die internet was tot barstens toe vol Nutella resepte. Toe ek iewers sien hoe iemand broodpoeding maak met croissants en nutella, het ek besluit om dit uit te probeer.

Na die tyd kon ek nie help om te dink dat grondboontjiebotter 'n goeie toevoeging sou wees nie, en hoekom nie ook sommer gekapte okkerneute en esdoringstroop (dis nou maple syrup vir diegene wat nie weet nie) byvoeg om dinge nog lekkerder te maak nie. Die resultate was kwylwekkend! My man se oë het so gestraal van die liefde en bewondering en ek was baie in my noppies.

Miskien moes ek maar eerder in salige onkunde bly verkeer het oor die wonders van broodpoeding, maar aangesien ek nou my selfbeheersing moet beproef, deel ek graag die resep met julle, sodat julle saam met my kan sukkel teen die temptasie.

Nutella en Grondboontjiebotter Broodpoeding

4 Croissants
Nutella
Grondboontjiebotter
1 koppie Room (of melk)
½ koppie Strooisuiker
2 Eiers
1 teelepel Vanielje
'n Knippie sout
'n paar gekapte okkerneute en 'n bietjie esdoringstroop (opsioneel)

Sny die croissants oop en smeer nutella (of enige ander sjokolade smeer) aan die een helfte en die grondboontjiebotter aan die ander helfte. Ek smeer dit sommer baie dik. Mens kan self besluit of jy meer of minder van die een of ander wil hê. Plak die broodtjies weer toe en sny hulle in ongeveer 5 stukke elk.

Smeer 'n oondvaste bak met botter en ranskik die gesnyde broodjies daarin. Ek hou daarvan om hulle skuins in te pak sodat mens die sjokolade en grondboontjiebotter kan sien. Dit lyk ook mooi so gebak en die sjokolade wat bo is, is sommer ekstra lekker wanneer die gebak is.

Klits die res van die bestandele (buiten die neute en die stroop) goed saam en gooi die mengsel bo-oor die brood. Laat dit staan vir so 15 minute en verhit die oond tot 180° C.

Bedek die bak met foelie en bak vir 30 minute. Haal dan die foelie af, sprinkel die gekapte okkerneute bo-oor en bedruip liggies met esdoringstroop. Bak dan, sonder die foelie, vir 'n verdere 10 minute. Hou hom maar dop om te keer dat die stroop nie te veel brand nie.

Bedien warm en probeer jouself keer om nie alles op een slag op te eet nie. Dit is die volgende oggend nog net so lekker en jy sal jouself later jammer kry as jy nie nog het nie. Wel, dis my ondervinding van die saak.

Ek en Mnr. Kaalvoet eet dit sommer vir brunch en dit hou mens  nogal goed aan die gang so op 'n besige Saterdagoggend en is nog beter op 'n lui Sondagoggend.

Geniet dit!

Sunday, 22 January 2017

Naweek in Noord Wallis

Ek en Mnr. Kaalvoet hou daarvan om vir ons verjaarsdae die pad te vat en 'n bietjie van die huis af weg te kom. In Desember het ons vir Mnr. Kaalvoet se verjaarsdag 'n bietjie in die noorde van Wallis gaan kuier. Ons het tuisgegaan by Tyddyn Du B&B naby Llanrwst by 'n baie vriendelike gesin op 'n pragtige plaas.


Vir aandete het ons Betws-y-Coed toe gery en was gelukkig genoeg om 'n tafel by Olif te kry. Dis 'n gesellige 'tapas' styl restaurant waar hulle Walliese spesialiteite in klein porsies bedien. Ons het 'n verskydenheid klein disse bestel waarvan die wilde sampioene 'n ervaring was. Dit was so lekker dat ons die volgende aand weer daar wou eet, maar ons kon ongelukkig nie weer plek kry nie.


Die volgende oggend het die sneeu wit op die pieke van Snowdonia gelê en die omgewing was lieflik. Ander mense kan nooit verstaan hoekom ons so baie van Wallis hou nie, maar dis seker omdat die son omtrent altyd skyn wanneer ons daar is terwyl ander mense dit altyd as mislik ervaar. Soos gewoonlik het die son heerlik geskyn al was dit baie koud. Die wind het ook baie gewaai soos ons rondgery het deur die Snowdonia nasionale park.


Teen laat middag het ons by Harlech aangekom. 'n Pragtige sandstrand met 'n kasteel in die agtergrond. Hier het ek die water aangedurf en alhoewel dit bitter koud was, was dit ook onsettend mooi. Mnr. Kaalvoet het geduldig op die strand gewag met 'n handdoek en die vles vol warm sjokolade.


Daardie aand was daar 'n optog en vuurwerke in Betws-y-Coed en dit was lekker om in die koue so saam met die vriendelike mense gesellig te verkeer. Terug by die gastehuis het ons eers lekker met ons gasvrou gesels voor ons lekker knus geslaap het.

Die volgende dag het ons verder noord gery om The Great Orme en The Little Orme te gaan verken. By Little Orme aangekom, het ek gehoop om op 'n afgeleë strandjie te gaan swem maar daar het ons harde stemme iewers onder ons gehoor en het die water 'n bietjie rof gelyk. Skielik het ons besef dat die rotse op die strandjie gesigte het en die stemme wat ons hoor die van robbe is. Ons het vir 'n lang tyd daar in die sterk wind op die krans gestaan en afkyk op die robbe. Dit was half onwerklik. Die koeie het hul kalfies help swem in die water en die donker oë het ons agterdogtig dopgehou.


Ek kan die Great Orme tolroete beslis aanbeveel. Die roete is skilderagtig en ons was gelukkig genoeg om op 'n paar van die wilde Kasjmir bokke af te kom. Ons het plek plek gestop en net die uitsig bewonder en ons tyd gevat om die plek ten volle te waardeer.


Te gou was die naweek verby en moes ons weer in die pad val en huis se kant toe staan. Tot volgende keer - kan nie wag vir ons volgende avontuur in Wallis nie.

Sneeu in Zürich

Toe Mnr. Kaalvoet laas week in Zürich moes gaan werk het, het ons toe sommer 'n naweek daarvan gemaak. Soos die geluk dit wou hê, was Europa in die greep van 'n ysige kouefront en was ons gelukkig genoeg om lekker baie sneeu te beleef.

Met ons aanskoms daar was dit -13°C en alles wit gesneeu. Dit was heerlik koud en ons het soos drake stoom uit ons neuse geblaas. Alhoewel Mnr. Kaalvoet nie weet hoe ons tuimeldroër werk nie, het hy blitsvinnig uitgewerk hoe Zürich se publieke vervoer werk (wat vir my nou weer verbysterend was) en was ons in 'n japtrap oppad na ons hotel op een van die gerieflike tremme wat die hele stad rond rits.


Vir ons doeleindes was die 24h ZürichCard die beste waarde vir geld, veral omdat dit 'n rit na Uetliberg ingesluit het. Uetliberg is toe ook ons eerste bestemming na ons ons bagasie afgelaai het. Hoe hoër ons ry, hoe dieper raak die sneeu en hoe meer mense met klein kindertjies, honde en sleë klim op die trein. Bo gekom, klim almal af en verdwyn tussen die bomme in. Oral hoor jy kinders wat gil, honde wat blaf en die klank van die sleë wat teen 'n spoed die styltes af snel. 


Ons kies 'n stiller roete en besluit om net 'n rukkie teen die berg af te stap, en die trein weer te vang by die volgende stop, 'n entjie af teen die berg. Maar natuurlik dwaal ons effens af en alles is so mooi en voor ons onself kon kry het ons die hele berg afgestap tot heel onder. Wat 'n belewenis in al daai sneeu. Plek plek het ons lekker gegly en spiere het gewerk met die rem rem al teen die berg af. Ek was maar bitter bly dat ons reeds besluit het om die volgende dag by die spa te spandeer want my bobene was 'n bietjie ontevrede met my.

Ons het die stad platgestap, 'n middagslapie geneem en weer die stad getrotseer. Ons het geëet tot ons bars by Zeughauskeller, 'n tradisionele biersaal in 'n ou arsenaal stoor, en soos die dood geslaap in ons goedkoop hotel. As julle ooit by Zeughauskeller aanland, eet die apfelkuchen, dis een van die beste goed wat ek nog ooit geeet het.

Sondagoggend het ons gesorg dat ons teen openingstyd by die Zürich Thermalbad & Spa aanmeld. Daar het ons die 'Irish-Roman' spa paket gekoop, wat die geld werd was, want ons het byna ses ure daar spandeer. Een van die lekkerste dinge omtrent die Termalbad is die warm swembad bo-op die dak van die gebou wat uitkyk oor die stad. Met die sneeu en koue het die water so gestoom dat ons skaars die ander mense in die water kon sien. Ongelukkig mag mens natuurlik nie fotos daar neem nie, so ek het maar 'n paar fotos vanaf hulle webwerf geleën. Ek kan die plek beslis aanbeveel, veral as mens op 'n koue Sondag 'n bietjie bederf wil inkry.


Sondagaand het ons heerlik geëet by Restaurant Gertrudhof, waar hulle spesialiseer in alles cordon bleu en die chef persoonlik kom verneem of jy jou kos geniet. Hulle was baie vol en ons was gelukkig om 'n plekkie aan tafel te kry tussen twee ander paartjies. Ons het ons weereens vervreet en moes eers die kos gaan afstap in die stad, wat lieflik is in die aand.


Dit was maar net 'n vinnige naweek weg maar met die mooi natuurskoon van die berg, die bederf van die Spa en die opwinding van 'n sneeubedekte Europese stad, het die naweek veel langer gevoel en was dit beslis 'n goeie wegbreek.

Swem!

Ek is nie besonders goed daarmee nie, maar ek is mal oor swem - veral in die see. Elke jaar kan ek nie wag dat dit warm genoeg moet word om te gaan swem nie. Ek neem gewoonlik elke geleentheid wat ek kan om te swem, maar met die kort Somer en slegte weer, beteken dit dat ons maar net 'n paar keer 'n jaar in die see kan gaan swem. Verlede jaar was ek baie gelukkig om twee keer op vakansie te gaan in Suid-Afrika en alhoewel die mense daar gedink het dit was te koud om te swem, kon ek nie die water weerstaan nie.


Wanneer ek so lekker in Onrus swem, terwyl die Tannies met hulle truie sit en koffie drink en kyk, vra die mense my dan altyd, kry ek dan nie koud nie. Nee, ek geniet dit...en ek is goed geinsuleer. Dis toe dat ek dink, as die koue water my dan nou nie juis pla nie, hoekom hou ek enigsins op met swem gedurende die jaar in Engeland. Daar is dan mense in veel kouer lande wat gate maak in die ys om te swem, ek kan dan tog sweerlik 'n bietjie koue seewater trotseer. 


Met my terugkoms in Engeland het ek dus op die eerste sonnige herfsdag Mnr. Kaalvoet oortuig om my te vat om te gaan swem. Die water was pynlik koud. Ek kon binne sekondes nie meer my vingers of voete voel nie en my asem het gejaag soos ek moes stry om asem te haal, maar tog was dit vreemd lekker. Met die uitkoms was Mnr. Kaalvoet bekommerd omdat ek besonders pienk was. Ek kon maar net lag, die ondervinding was ongelooflik. Ek kon skielik nie wag om dit weer te doen nie.


Later, met 'n kort breuk in Noord Wallis, het ek daar ook die koue see aangedurf. Dit was die pragtigste dag en die koudste water waarin ek nog was, maar dit was heerlik. Die sand strand het wyd gestrek, die water was plat en helder, ek kon elke rimpeling van die sand onder die water sien. My asem het nie meer so erg gejaag nie, my sirkulasie was baie beter en die herstel vinniger.


Met Kersfees was ons na die Dorset kus, waar ek 'n redelike rowwe see aangedurf het, in 'n ysige wind. Ek kon skaars die koue voel. Na die tyd moes ek omtrent aan Mnr. Kaalvoet se arm hang, of die wind waai my om. Met Nuwe Jaar het ek in Kent gaan swem, waar die mans met hulle wetsuits brandeplank ry. My liggaam se reaksie tot die koue water is nou al heel goed, ek moet nou net meer stamina opbou. 


Die water temperatuur kan enige iets van 8°C tot 12°C wees terwyl dit relatief koud is buite, somtyds in die minuse met koue winde. Mense sal baie keer staan en kyk, fotos neem en selfs kom vrae vra. Ek bly net 'n paar minute in op 'n slag, maar dit is altyd die moeite werd. Oor die algemeen is ek die enigste persoon in die water, die seevoëls vlieg nie eens weg nie. Die koue en die inspanning neem ander gedagtes weg, al wat jy dink is, 'haal asem', 'het ek genoeg krag om terug te swem', 'is die branders te rof', 'is die gety te sterk', 'kan ek die bodem voel', 'is die pyn in my hande en voete al te veel', 'wat is daai donker skaduwee in die water'. Partykeer is die water plat en stil en die son skyn en is dit so bitter mooi dat jy vergeet jy kry koud en is bloot dankbaar dat jy die koue getrotseer het om dit te kan beleef en ander kere is die water rof, onstuimig en vuil en trek die see hard aan jou en dan is daar minder tyd om te geniet hoe mooi dit is, maar is daar 'n vreemde genot daarin om teen die see en die weer en die koue en jou eie liggaam te sukkel en te wen. 

Hoe meer gereeld mens dit doen, hoe meer kan jy dit doen, hoe langer kan jy uithou en hoe vinniger herstel jy. Dis belangrik om vinnig na die tyd droog en warm aan te trek. 'n Warm koppie tee of koffie help sommer baie om 'n mens op te kikker. Ek is dankbaar dat Mnr. Kaalvoet aanwal wag met 'n handdoek en 'n vles vol koffie. 
 

Sulke koue water swem is seker nie vir almal nie, maar ek geniet dit en vind dit lewens-bevestigend. Kan nie wag vir volgende keer!

Tuesday, 23 August 2016

Windverwaaid in Wyke Regis

Met ons bure wat alewig soos skoorstene rook, kan ons omtrent nie 'n venster oopmaak, sonder dat alles nie na sigarette stink nie. Dus, ten spyte van kommerwekkende weervoorspellings oor erge winde, het ons besluit om maar ons tentjie te pak en te gaan kamp, eerder as om hier rond te sit en te verstik.

Mnr Kaalvoet het vir ons 'n kampplekkie bespreek in Wyke Regis aan Dorset se Jurassic Coast Wêrelderfenisgebied tussen Weymouth en Portland. Martleaves Farm Campsite is geleë op 34 akkers pragtige platteland en is 'n terrein van spesiale wetenskaplike belang met lieflike uitsigte, goeie geriewe, nuuskierige seemeeue, windverwaaide perde en mistroostige alpakkas.


Na werk het ons eers gewik en geweeg of ons werklik die weer moet trotseer en was dus 'n bietjie laat met die wegval. Gelukkig het ons wonderbaarlik net betyds daar aangekom om die tent op te kry voor dit hard begin reen het. Die eienaar was rerig gaaf en het vir ons aan die lykant van 'n skaapskerm 'n plekkie uitgewys wat ons tot 'n mate beskerm het van die stormsterkte winde wat vanaf die see ingewaai het. Ons het selfs nog kans gekry om 'n steak te braai, maar hoe Mnr Kaalvoet daai kole aan die brand gekry het, in daai ongelooflike wind, sal ek nooit weet nie. Ek dink hy het hulle dalk aan die brand geswets so tussen deur toue en tentpenne vasslaan. Ons was bitter dankbaar vir die lekker tentpenne wat ons mense uit Suid-Afrika vir ons 'n tyd terug saamgebring het. Die storm het daai nag sy beste gedoen, en daai tent het gewoel asof hy by 'n rave is, maar daai penne het nie beweeg nie.


Die volgende oggend het ek deur die kamp gestap om te kyk hoe die res van die mense gevorder het. In een veld was 'n tent heeltemal plat, met 'n dam water in en pale wat soos geraamtes in alle rigtings staan, geen mens in sig. Ander tente het gebuigte pale gehad, party was heel skeef en ingeduik. Die wind het steeds sterk gewaai en party mense het dapper probeer om hulle tente af te slaan om te red wat daar te redde is terwyl ander weer toue aan hulle motors vasgemaak het om hulle tente beter te anker. 'n Hele paar mense het ons nogal aafgunstig aangekyk daar langs die skaapskerm. Ons het ons kar punt in die wind parkeer en agter in die kattebak ons gasstofie aan die gang gekry vir ontbyt en koffie en die vars lug en fris wind geniet.  

Die middag het ons bietjie gaan rondry om Portland te verken. Die wind het steeds sterk gewaai, maar die son het geskyn. Die wind- en kitesurfers was bedrywig en die seevoëls het oral gewigloos op die winde gehang. My hare was teen die tyd 'n verlore saak en het maar in 'n koek agter my aangestroom soos ons die strande en kalksteen kranse van Portland verken het. Die wind het die seesproei in 'n waas teen die kranse uitgejaag terwyl die lang grasse lieflik in die wind gedans het.


Terug by die kamp het nuwe mense byna op ons kom opslaan en nog 'n stel mense het dig teen ons tent aan die anderkant kom parkeer om hulle tent daar op te slaan. In normale omstandighede sou dit gans te naby gewees het, veral omdat daar so baie plek was, maar hulle het natuurlik net kom skuiling soek teen die wind. Ons het maar ons vuurtjie aangesteek, weereens baie vernuftig van Mnr Kaalvoet, en lekker skaapribs en braaibroodjies gebraai terwyl ons kyk hoe hulle werkskaf in die wind hier op ons voorstoep. Ek weet nie wat die ander kampeerders geëet het nie, want ons was die enigste mense wat ek die naweek ooit sien kos maak het. Ons kon maar net lag toe die buur skimp of daar genoeg vir hulle ook is.

Saterdagaand het die wind en weer weer 'n keer sy beste probeer, maar ons tentjie het bly staan. Die volgende oggend het die nuwe kampeers maar oes gelyk met die dames wat in die badkamers kla oor hoe sleg hulle in die storm geslaap het. Ek het weer in teendeel gevoel, hoe harder die storm gewoed het, hoe lekkerder het ek knus in my bedjie geslaap. Na 'n lekker ontbyt, weereens uit die kattebak, het ons vinnig opgeslaan en ingelaai en stadig ons pad huistoe gemaak. 


Sondag was lieflik en nie meer so bitter winderig nie.  Ons het weer 'n bietjie in Portland gaan rondstap op die kranse waar daar soveel mooi klein dingetjies was om te sien in 'n landskap wat maar dor en vaal voorkom met al die Portland stone rotse wat die wêreld vol lê asof trolle daar oorlog gevoer het. Ons het akkedissies, klein slakdoppies en blou vlinders afgeneem en onsself baie geniet.

Die weer het dit 'n bietjie moeilik en onaangenaam gemaak om die plek behoorlik te verken en ons kan nie wag om weer daar te gaan kamp sodat ons dit selfs meer kan geniet nie.

Monday, 15 August 2016

Skone Skoenlappers

Hierdie Lente en Somer het ek my nogal ingespan om insekte van nader af te neem. Ten spyte van my liefde vir fotografie, het ek geen benul van die tegniese aspek daarvan nie en is my fotos maar 'n kombinasie van geluk en kunssinnigheid.
  

Party insekte is baie behulpsaam en sit mooi stil terwyl ek probeer om hulle in fokus te bring, maar meeste van hulle is al te bedrywig en wil niks weet van 'pose' vir 'n foto nie. Buiten naaldekokers, is skoenlappers seker die moeilikste. Hulle kan net nie stilsit nie en wanneer hulle doen, is dit baie moeilik om hulle te bekruip sonder om hulle weg te skrik. Dan, as hulle wel stilsit, is hulle geneig om hul vlerke toe te vou, om sodoende jou foto te ruineer. Dus het ek nogal baie tyd spandeer om soos 'n simpel dinge in die velde rond te sluip en agter vlinders aan te hardloop. Gelukkig geniet ek dit verskriklik!

Ringlet (Aphantopus Hyperantus)


Hierdie skoenlapper is baie algemeen en een van die eerste wat ek hierdie jaar gesien het. Op die oogaf is hy bloot vaal en bruin maar tog so delikaat en sag, 'n subtiele skoonheid. Ringlets kry hulle naam nie van die standaard klein ogies bo-op hulle vlerke nie, maar eerder die ogies wat jy aan die onderkant van die vlerke vind, wat kan wissel in aantal, vorm en grootte. 


Marbled White (Melanargia Galathea)


Die Marbled White is 'n pragtige skoenlapper, uniek in terme van sy kleur en vlerkpatroon. Allhoewel hulle redelik volop is in my omgewing het ek omtrent gesukkel om hulle af te neem, maar die was die moeite werd want hulle maak pragtige fotos. Ek het veral gehou van die onderkant van hulle vlerke, wat vir my baie mooi is.
 

Comma (Polygonia c-album)


Die Comma skoenlapper het 'n bedrieglike vervelige naam vir so 'n pragtige insek. Sy vlerke is 'n lieflike diep oranje met lieflike gerifelde rante. Dit is 'n redelike algemene skoenlapper met 'n voorliefde vir brandnetel. Wanneer sy vlerke toegaan, is die onderkante bruin en lyk hy byna soos 'n ou dooie blaar.


Brimstone (Goneptyrex Rhamni)


Sy kenmerkende vorm en die opvallende are op sy vlerke, maak van die Brimstone 'n besondere mooi skoenlapper. Hierdie skoenlappers het een van die langste lewens en hiberneer deur die Winter om weer vroeg in die Lente op warm dae te voorskyn te kom.


Red Admiral (Vanessa Atalanta)


Hierdie is 'n besondere geharde skoenlapper en migreer vanaf Europa na Brittanje en kan selfs tot in Desember nog gevind word wanneer alle ander skoenlappers reeds die gees gegee het. Hulle is baie opvallend en het pragtige herlder kleure. Ek sukkel my gewoonlik dood om hulle af te neem, want as hulle jou gewaar, vlieg hulle sommer baie vinnig, baie ver weg. Ek dink die 'Admiraal' doen sy naam gestand.

Small Tortoiseshell (Aglais Urticae)


Hierdie pragtige skoenlapper kan lekker vinnig vlieg maar kan maklik afgeneem word as hy eers besig is om te eet. Met sy helder kleure is hy maklik uitkenbaar en is een van die mees algemeenste skoenlappers in Brittanje alhoewel hulle getalle op die oomblik aan die daal is. Ongelukkig is daar een of ander afskuwelike uitheemse vlieg wat se larwes op die larwe van hierdie skoenlapper teer en dus sy getalle 'n knou gee.

Peacock (Inachis Io)


Ek los my gunsteling vir laaste. Wat 'n gepaste naam vir hierdie ongelooflike mooi skoenlapper. Nie net is hulle pragtig nie, maar gewoonlik as jy gelukkig is om op een af te kom, is hulle so besig om te eet dat hulle nie eens weet dat jy daar is nie. Ek het dus honderde fotos van hierdie pragtige skoenlapper. Wanneer die skoenlapper se vlerke toe is, is dit byna pik swart en maak dit dus die skoenlapper byna onsigbaar. Met die groot oë op sy vlerke word selfs groot voëls afgeskrik en boonop kan hierdie skoenlapper 'n skreinende klank maak deur sy voorvlerke saam te skuur wat meeste voëls afskrik. Blykbaar is die mannetjie skoenlapper so territoriaal, dat hy nie net ander mannetjie skoenlappers wegjaag nie, maar ook voëls.


Daar is nog baie ander skoenlapper spesies hier wat ek graag met my kamera lens wil vasnael. Elkeen so lewe eintlik so vlugtig, so pragtig, geen wonder mense is so gefassineer met hulle nie.

Friday, 12 August 2016

Kamp saam met Skape

In Julie het ons vir 'n naweek weggebreek en gaan kamp tussen die skape op New House Farm in die South Downs. Dit is 'n werkende plaas met skape, koeie, perde en mielie lande. Die kampgeriewe bestaan uit grasvelde met portaloos. Daar is dus geen storte of warm water, krag of opwasplekke nie. Die drinkwater is dieselfde kraan wat die skape se waterbak volmaak. 

Dit het ek natuurlik nie geweet nie, want ek was verlei deur die mooi fotos van skape en gras velde op die website en het nie verder gelees nie. Toe ek die eienaar gebel het om te bespreek, het hy ook weer nie genoem dat daar 'n musiekfees aan die gang is nie, iets wat ons eers uitgevind het toe ons daar opgedaag het.


Jy ry met 'n elle lange rowwe grondpad vannaf die plaashuis op na die kampplek en as jy eers daar is, gaan jy nie sommer weer op daai pad wil terug ry nie, mens karwei dus maar saam wat jy gaan nodig kry. Die eienaar is baie gaaf en kom in die aande by jou staanplek om om te sien of jy nog daar is, die geld te kollekteer vir jou staanplek en om te sien of jy enige hout by hom wil koop. Hy het nie juis omgegee oor hoe laat jy opdaag of weer vertrek nie, wat nogal lekker was toe dit kom by oppak, want daar was geen haas.

Aanvanklik het ons net verdwaas in die middel van die veld in ons kar gesit en staar na die gros kampeerders, die musiek verhoog en mense in vreemde kostuums wat rond dans. Toe het ons inderhaas 'n stil hoekie gaan vind om ons opsies te bespreek. Ons het amper besluit om maar eerder te ry, maar het toe gelukkig uitgewerk dat daar meer as een veld is om op te kamp en het toe na 'n stiller veld getrek, reg teen die skaap kamp en ver van ander mense af.   Ons kon nog die musiek in die aande hoor, maar dit het ons nie juis gehinder nie en deur die dag het die feesgangers lê en slaap en kon ons rustig die stilte en die geblêr van skape geniet. 

Skape maak nogal 'n hele aantal eienaardige geluide en ons het ure gesit en staar na hulle. Die lammers was al fris en groot en die ooie was al 'n bietjie moeg vir hulle, tog het hulle steeds bly mik vir Ma se speen en baie ontsteld geraak as sy te vêr van hulle dwaal. Dan blêr hulle hard oor en weer tot hulle mekaar weer gevind het. Die lammers het ook 'n leë emmer gevind om mee te speel, wat kostelik was. Dan deur die dag, as die son hard begin skyn, het almal gemik vir dieselfde stukkies skaduwee en dig teen mekaar daar ingebondel. Terwyl ons gaan water haal het moes ons weer ons lag inhou vir 'n jong skaap wat 'n bietjie te kort was om lekker oor die waterbak se rand te drink. Hy het ongelooflik baie geraas gemaak terwyl hy so gesukkel het om te drink en nes jy dink hy is klaar, dan gaan hy net weer aan en moet ons van vooraf ons lag inhou. 

Ons opblaas matras het natuurlik op 'n vorige kamp ingegee en ons het heeltyd beplan om dit reg te maak, maar kon nooit die gat vind nie. Ons moes dus op die grond slaap en ek was bekommerd dat tussen die musiek van die fees en die harde grond ek nie sou kon slaap nie, maar ons was elke aand uit soos 'n kers en het heerlik geslaap. Ek dink selfs die grond het my rug 'n bietjie goed gedoen.

Ons het gebraai en ontspan en saans na, eers die vlêrmuise, en dan die sterre gekyk. Geen internet, geen TV, geen krag. Net lekker rus. Ek sal enige tyd weer daar gaan kamp, volgende keer sal ek net seker maak dat daar nie 'n fees van een of ander aard aan die gang is nie.