Monday, 18 March 2013

Korrel Konfyt en Konsulate

Vandag het ek en Juan die dag afgevat om 'n bietjie by die Suid-Afrikaanse Konsulaat in London te gaan kuier. Ok, dit was nie 'n sosiale besoek nie...voor ons aansoek doen vir ons Britse burgerskap, moet ons eers aansoek doen vir 'dual citizenship' anders verloor ons automaties ons Suid-Afrikaanse burgerskap. Ek het ook sommer besluit om vir 'n nuwe paspoort aansoek te doen, aangesien myne volgende jaar verval en byna vol is. Ons het ons klaar gemaak om die hele dag daar te sit en ons het natuurlik nie vreeslik daarna uitgesien nie. Maar dit het toe heel lekker uitgedraai...as 'n besoek aan 'n konsulaat nou ooit as 'lekker' beskryf kan word. Ons was redelik voor in die ry (nommer 6 en 7), is baie vinnig en vriendelik gehelp (het lekker saam met die beampte gelag oor my verbrande vingerafdrukke) en is binne omtrent twee ure daar uit met ons papiere in die hand.

Met 'n oop dag voor ons, het ons 'n bietjie in Trafalgar Square en St James Park uitgehang en het onderskydelik 'n eekhoring, 'n pelikaan en 'n valk (en haar handler) ontmoet. Terug by die huis wil dit voorkom of die weer hier in Epsom die hele dag lekker ellendig was, so uit en uit 'n wen vir ons!

Saturday, 16 March 2013

Donker Beet Sjokolade Koek

Wat 'n koue week het ons nie onlangs gehad nie - met sterk winde en ligte sneeu - koud genoeg om jou asem weg te vat. Dinsdag was veral bitterlik koud en sal dit nou nie net mooi die dag wees wat my arme ou aarbeie steggies hier opdaag in die pos nie.

Natuurlik is ek veronderstel om hulle dadelik te plant, maar die weer was so sleg, ek kon dit nie buite waag nie. Juan is wel uit in die koue om 'n half gevriesde sak kompos te gaan soek en 'n pot in te bring - die het ons toe volgemaak en die aarbeie geplant en voor die heater staan gemaak. Nou trek ons al by Saterdag en die weer is steeds te sleg vir ons om hulle uit te neem, maar hulle lyk heel gelukkig hier binne by ons - staan net die hele kombuis vol. Ons sien baie uit na hierdie Mara Des Bois aarbeie - hulle is blykbaar die heel lekkerste van die 'ever bearers'. As ons hulle mooi grootmaak, gaan hulle die hele seisoen lank vir ons lieflike vars aarbeie besorg.

Sunday, 10 March 2013

Ons ♥ Beet...en brood

Ek gaan nog baie aangaan oor die wonders van beet! Nie net verlaag dit hoë bloeddruk nie, maar dit maak jou slimmer, reguleer die sure in jou maag en is kanker werend. Ek en Juan versap dit ook gereeld - dit is rerig lekker en sommer baie gesond. Gister het ek die lekkerste Beet Tert opgemaak - probeer dit gerus.

Maklike Beet Tert

1 x Groot Beet
1 x Klein Rooi Ui
60g Feta
1 x All Butter Puff Pastry
Balsamic Vinegar, Tiemie & Heuning

Sny die beet in klein blokkies (net so onder 1cm²) en stoom dit liggies gaar, maar nog ferm. Terwyl dit stoom kan jy solank jou deeg uitrol en laat rus op 'n oondplaat. Sny die ui in dun halfmaantjies en week in die asyn, met miskien so 'n bietjie suiker/heuning. Die ui sal die asyn opdrink en dan so lekker pap en bruin wees. Laat die beet so 'n bietjie afkoel voordat jy dit op die deeg plaas - ek het dit sommer met 'n klein bietjie koue water afgespoel. Versprei die beet bo-oor die deeg, gevolg deur verkrummelde feta, strooi dan tiemie bo-oor en sit heel laaste die balsamiese uie skyfies op en drizzle heuning bo-oor. Bak in die oond tot die deeg lekker gepof en gaar is - so 15-20 minute of 180 grade.


Saturday, 9 March 2013

Devils Punch Bowl

Vandag was 'n heerlike dag, selfs al was die weer lekker goor - tipies Brits. Sommer gisteraand al het ons besluit, ten spyte van die weer (en die moontlikheid van nog sneeu), dat ons nie vandag in die huis gaan rondlê nie en ook nie in die winkels nie, maar die Devils Punch Bowl gaan aanpaak.

Dit is 'n Area of Outstanding Natural Beauty op die A3 tussen London en Portsmouth - 'n natuurlike reusagtige amfiteater. So, na Juan my vanoggend met 'n lekker ontbyt in die bed verras het, het ons in die pad geval, al was dit toegetrek buite en die windjie effens koel. Daar aangekom was alles toe met digte mis en kon ons aanvanklik nie in die heide valleie afkyk nie, maar dit het nie saak gemaak nie, want ons het die plek plat gestap - goed oor die 5km.


Wednesday, 6 March 2013

Vroeë Verassing

Vanoggend kon ek nie my oë glo toe ek sien my beet het kopuitgesteek nie! Wow - nou begin dinge rerig gebeur. Dit kan dalk iets te doen hê met die heerlike warm dag wat ons gister gehad het - byna 15grade. In die Kaap klink dit sekerlik nie na veel nie, maar hier in Epsom het ek glad gevoel of ek 'n somer rok wou aantrek en het middagete lekker in die tuin spandeer.
Ja, ek weet hulle is nog klein, maar darm iets om al oor opgewonde te raak. Veral omdat ek die meeste na die beet uitsien, en hier is hulle aan die groei. Verder kan ek ook sweer die een komkommer is aan die koekeloer, maar ons sal maar sien.

Oor die naweek het ek aarbei steggies bestel - wat nog nie 'n opwagting gemaak het nie - en toe sommer terselfde tyd 'n klein pakkie mielie saad. Ek was nie van plan om mielies te plant nie, want daar is skaars plek oor vir enige iets, maar toe ek die saadjies op 'n afslag sien, het dit my skielik herhinner aan my Oupa Knoetzer se groente tuin.

Oupa Knoetzer se groente groei moet seker maar in my gene wees. Sy hele ageterplaas in Parrow was daaraan toegewei. Hy het beet, uie, boontjies en selfs grenadella gegroei. Daar was 'n hoop ander dinge, maar sy rye mielies het my altyd vreeslik beindruk. Lank en regop en die pragtigste kleur groen, met die son wat so deur die blare skyn - salig. So toe ek die pakkie saad so op die internet sien, kon ek hulle nie weerstaan nie.

Vannaand het ek sommer goed gebruik gemaak van ou toiletrolle en my mielie saad geplant. Die ou rolletjies werk lekker, want hulle bied diepte vir wortels en die karton hou dinge lekker klam. Tien teen een kan jy hulle net so uitplant ook, sonder om die rol te verwyder, maak net die bodem oop, maar ek doen gewoonlik nie dit nie.



As enige iemand raad het met mielies, deel gerus, want ek het nie 'n clue nie en sal maar moet kyk hoe dinge gaan. Wel, so ook seker met die res van die groente - en die tegniek werk sover heel goed. Doen jou beste en praat mooi met jou plante - dan kan dinge mos nie te ver verkeerd gaan nie. Wel, tot die goggas opdaag - en glo my, hulle luister nie na mooi praat nie.

Monday, 4 March 2013

Brood bak en brandwonde

Ek dink ek het nou op ‘n baie lekker brood resep afgekom. Moet my net nie vra waar presies dit vandaan kom nie – dit is sommer aangepas van ‘n paar Amerikaanse resepte wat ek onlangs op die internet gesien het en ander brood tips wat ek so met die tyd opgetel het. Ek kan mos nooit ‘n resep los soos ek hom kry nie! Die rede hoekom ek so mal is oor hierdie resep, is die min moeite wat dit vat en die feit dat jy dit nie hoef te knie nie. My polse en hande raak maklik seer, so as ek dit kan vermy, dan is dit wonderlik. Die nadeel is dat jy nie in ‘n japtrap gaan brood eet nie, dit gaan jou ten minste ‘n dag vat, maar as jy reg beplan, dan is dit nie ‘n probleem nie en jy hoef hom nie op te pas nie. Nou weet julle wat ek Sondae doen.

Maklike ‘no fuss’ Brood Resep

3 kopies brood meel
315ml water
¼ teelepel fast-acting instant yeast korrels
1 ½ teelepel sout
1 teelepel suiker
‘n Hand vol saad

Heel eenvoudig, gooi al die droë bestandele saam (behalwe die saad) en meng deurmekaar, gooi die water by en roer hom sommer so rofweg met ‘n houtlepel totdat hy so ‘n effense rowwe deeg bol maak. Hy hoef nie mooi te wees nie en jy hoef nie jou vingers vuil te maak nie. Nou maak jy hom toe (ek het sommer ‘n stortkappie wat ek oor my mengbak trek) en laat staan hom vir 10 – 18 ure. Ja, ek weet dit klink vreeslik lank, maar dit beteken jy maak die mengsel voor jy gaan slaap op ‘n Saterdag aand en dan behoort hy lekker te lyk teen die tyd dat jy opstaan – of maak hom vroeg Sondagoggend en laat staan hom tot laat die aand en bak hom dan net voor jy gaan slaap.

Na die lekker lang staan haal jy die deeg uit, en op ‘n melerige oppervlak, werk jy hom terug na ‘n lekker bal en meng dan sommer terselfde tyd die sade in (ek het poppie, sonneblom en pampoen sade ingewerk) – dit behoort jou net so 5 minute te neem. Maak hom dan weer toe en laat staan hom vir 1 na 2 ure. Sit die oond so ‘n halfuur voor jy hom gaan bak op 200 grade en sit ‘n pot met ‘n deksel in die oond om op te warm. Wanneer jy dan gereed is, plop die deeg in die warm bak (moet nie jouself verbrand nie – later meer hieroor), sit die deksel terug en plaas hom in die oond vir 30 minute. Haal dan die deksel af en bak hom verder vir nog 10 minute tot hy goudbruin is en hol klink wanneer jy hom klop. Laat hom maar ‘n bietjie in die pot afkoel en haal hom dan uit om ordentlik af te koel op ‘n droograk. Staan terug en bewonder jou brood en verlekker jou aan die opgewonde blink in jou man se oë.
 Sien, skaars enige werk, dit vat net tyd. Dis rerig ‘n lekker broodjie en ek gaan hierdie resep nog baie gebruik. Mens kan natuurlik ook kaas en uie of mielies daarin sit, of enige ding waarvoor jy lus het. Mmm..ek sien ‘n kaasbrood in ons toekoms!

Nou vir die raad oor brandwonde...

So as jy nou nie so lekker aandag gee aan dinge nie, en dink jy is brand bestand, mag jy dalk so af en toe jou vingers verbrand. Gewoonlik is dit koue water en ys en dan aanvaar ek maar die blase – ek worry gewoonlik nie oor die pyn nie. Maar gisteraand toe ek daai 200 grade celsius deksel met my kaal hand optel, dog ek ek brand my vingers tot op die been af. Ek het rerig groot geskrik. Ek het natuurlik dadelik die deksel laat val en my hand onder die koue kraan gehou. Juan moes maar die brood in die oond sit. As ek vandag so na my vingers kyk – en neem in ag ek tik hierdie blog met daai gebrande vingers – dan moet ek hierdie revelations deel:

Stap 1: Hou gebrande vingers onder die koue kraan vir ten minste 10 minute (ja, ek weet dit klink lank) – jy kan dit ook in ‘n bakkie koel water hou – dis nodig om dadelik die ‘brand’ te stop.

Stap 2: Moet nie direk met ysblokkies werk nie, want hulle kan jou vingers dalk verder brand. Gebruik eerder ‘n icepack wat jy vir jou coolerbag sou gebruik het – plaas dit liggies op die area vir ten minste ‘n uur.

Stap 3: Behandel area mildelik met tea tree oil en dan draai jy dit toe met clingfilm en neem ‘n ibuprofin.
Ek het so met my tea tree clingfilm vingers gaan slaap en vanoggend die behandeling herhaal en sit nou so by die werk. My vingers voel wel effens dood, maar daar is geen blase en basies geen pyn nie. So as dieselfde dalk met jou gebeur, probeer gerus die raad. Ek moet natuurlik byvoeg, as jy jouself heeltemal oop gebrand het, moet jy sekerlik dokter toe gaan (en tea tree moet nie op oop wonde gesit word nie), maar ek is seker almal is sensible genoeg om te weet wanneer dinge ‘n werklike noodgeval is en ‘n dokter benodig en wanneer jy maar ‘n bietjie huisraad kan volg.

Ps. As jy nie tea tree in jou huis het nie, dan mis jy uit!

Saturday, 2 March 2013

Lente!

Maart is hier en ek weet sommer die Lente het uiteindelik opgedaag. Vroeër die week het die voëls al anders begin klink en verder het ons grasperk ook sommer drasties oornag begin groei. Alles goeie nuus vir iemand wat nie meer kan wag om te begin saad saai nie. Hopelik sal die naweke ook nou warmer wees – ons verwag een van die dae 11 grade – en dan kan ek begin om my grond ook voor te berei. Ons spaar nou al ‘n paar weke lank al ons eierdoppe en ek is seker die plantjies gaan die ekstra kalsium geniet. Verder het ek ook ‘n boks vol been, bloed en vis – klink aaklig, maar goed vir groente – wat ek in my grond in wil werk en laat rus voor ek later my plantjies uitplant.

Maar wat praat ek van plantjies uitplant, hulle is nog maar net saaidjies wat nog moet groei voor ek kan droom van uitplant. Dit is nou wel nog te koud om my spanspek saad uit te toets, maar die tamatie, beet, komkommer en murgpampoentjies is al gesaai in hul klein potjies en staan onder ‘n warm radiator.
Ek kloek behoorlik oor hulle en spuit gedurig met ‘n water spuitjie om te verseker die grond bly klam, droog nie uit nie, maar raak ook nie te nat nie. As ek gelukkig is behoort ek een of ander tyd ‘n paar groen koppies te sien. En deur so vroeg te begin het ek darm tyd vir weer probeer as hierdie spul nie uit werk nie. Party mense glo daarin om ‘n oormaat te saai en dan net die heel beste uit te plant en die res weg te gooi, maar ek kan dit nooit oor my hart kry om ‘n plantjie weg te gooi nie, so ek sit maar al my hoop op die paar saaidjies wat ek geplant het. Daarom beplan ek op 2 murgpampoentjie plante, 2 tamatie plante, 2 komkommer plante en soveel beet as wat ek kan in pas. Sover het ek 8 beet saadjies gesaai en behoort 16 plantjies te kry uit die lot – beet gee altyd meer terug as wat jy insit – te verstane dat dit een van my gunsteling groentes is. Goggas eet dit ook nie en verder weerstaan hulle byna alles en is lank nog aan die groei na alles gevrek het. Ah beet!

Vandag het my Thompson & Morgan saad ook opgedaag – dis nou my sonneblomme, chives en so. Daar is geen haas nie, want hulle sal ek sommer buite in die grond plant sodra die weer behoorlik opgewarm het. So ook vir die mange tout – hulle plant ek sommer direk in die grond, want hulle groei so maklik en vinnig.

Ek en Juan sal ook ons ‘Arch’ moet gaan installeer om te kyk of hy gaan werk vir ons mange tout, komkommers en spanspek. Tien teen een gaan ons nog ‘n arch moet gaan koop. Sit sommer ‘n groot glimlag op my gesig as ek dink aan alles wat nog kom. Is dit nie wonderlik wat die aarde jou alles kan bied nie, met net ‘n bietjie werk en hulp van jou kant af.